Deel 4
Lank, lank gelede was daar konsensus onder die mensdom oor watter natuurverskynsels die room van die oes hier op ons planeetjie verteenwoordig. Die Sewe Natuurwonders van die Wêreld – die Great Barrier Reef, die Victoria-waterval, Rio de Janeirobaai, Mount Everest, die Aurora Borealis (oftewel die Noorderligte), die Grand Canyon en die Parícutin-vulkaan – was die versinnebeelding van geografiese voortreflikheid, en niemand sou ooit waag om die Super Sewe se sterstatus in twyfel te trek nie. Reg?
Verkeerd!
In 2007 het ’n Switserse niewinsgewende organisasie, die New7Wonders Foundation, namens al ons aardbewoners besluit dat die Sewe Natuurwonders van die Wêreld van hulle wonderlikheid ingeboet het, en die organisasie het ’n wêreldwye veldtog van stapel gestuur om die “Nuwe” Sewe Natuurwonders van die Wêreld te identifiseer.
Ná vier jaar se uitdunne, waartydens meer as 100 miljoen stemme in 220 lande uitgebring is, is sewe natuurverskynsels nogmaals tot die status van Moeder Natuur se kroonjuwele verhef. Die nuwe lys het, behalwe vir ons eie Tafelberg, ook die volgende sestal ingesluit: die Amasone-reënwoud, Halongbaai, Jeju-eiland, die Iguazu-waterval, Komodo-eiland, en die Puerto Princesa Ondergrondse Rivier.
Dis laasgenoemde wat relevant is tot hierdie staaltjie, aangesien Puerto Princesa – die hoofstad van Palawan – volgende op ons lys van bestemmings was. Ek het wel daarna uitgesien om van aangesig tot aangesig met een van die amptelike Nuwe Sewe Natuurwonders van die Wêreld te kom, maar waar ék vandaan kom, kan ’n mens net toegang tot ’n ondergrondse rivier deur ’n boorgat verkry, en derhalwe het ek gesukkel om te verstaan hoe ons almal deur ’n gat in die grond sou pas om hierdie godswonder te kon aanskou.
Die verwarring is egter vinnig opgeklaar. Dié natuurwonder is nie letterlik ’n ondergrondse rivier nie. Dis ’n 5 km-lange grot met ’n rivier vir ’n bodem. En in plaas daarvan om deur ’n boorgat te kruip, kon ons toegang daartoe verkry in ’n roeibootjie wat deur ’n gids voortgestu is.
In ons bootjie is ons van die een reusespelonk na die volgende geneem. In elkeen van dié “sale” het stalagmiete en stalaktiete die dekor gevorm, en ons gids het ons deurlopend probeer oortuig dat dié verwronge mineraalformasies soos allerhande denkbeeldige voorwerpe lyk, insluitend groente, ’n preekstoel, ’n wulpse jong dame, en selfs ’n werpsel katjies. Ek het egter nagelaat om voor ons vertrek ’n hallusinogene pilletjie in my keel te gooi, en daarom kon ek dié voorwerpe nie eintlik sien nie.
Ons besoek aan die Puerto Princesa Ondergrondse Rivier was ’n vermaaklike een, en ek sal dit nie sonder meer as ’n mors van tyd bestempel nie. Maar dat hierdie natuurverskynsel een van die Nuwe Sewe Natuurwonders van die Wêreld is, en die Grand Canyon, Mount Everest en die Great Barrier Reef nié, gaan my verstand te bowe. Die Switsers is nie eintlik berug vir dié soort van ding nie, maar ek vermoed dat ernstige verkiesingsbedrog in hierdie geval gepleeg is.
Lees volgende week weer verder oor ons avontuur in die Filippyne.
Lees ook: Fanie Os Oppie Jas: Filippyne