Fanie Os Oppie Jas – Vlaandere

26/01/2017
| Deur Sue-Ann de Wet
321653_289862514362560_1145953353_n-300x237

Voordat ek my hier in die Wilde Ooste kom vestig het, was ek vir vyftien jaar lank ’n inwoner van die hoofstad van Haar Majesteit se koninkryk. En laat ons nie doekies omdraai nie – Londen hét sy kwota nadele gehad. Dit was oorbevolk, die lug was gedurig die kleur van ’n dagoue bloukol en boonop het die plek van Engelsmanne gewémel.

Maar nie álles was áltyd sleg nie. Springbok Nude Girls en Karen Zoid het ’n keer of wat daar kom konsert hou, die ponde wat ek betaal is was glad nie te versmaai nie, en sommige jare, wanneer ons uitermate gelukkig was, het die Britse somer op ’n Saterdag geval.

Die grootste voordeel van my Londense avontuur was egter dat my emigrante-bestaan my in staat gestel het om te reis. En reis hét ek gereis. Tydens daardie dekade en ’n half het ek haas elke land in Europa besoek – van Spanje, Swede en Switserland tot Duitsland, Denemarke en die Tsjeggiese Republiek. Vandag is dit feitlik onmoontlik om ’n enkele land as my gunsteling uit te sonder, synde die hele kontinent my na aan die hart lê. Maar tóg is daar ’n piepklein landjie aan die Europese westerkim waarvan ek nooit genoeg kon kry nie. Teen 120 km/h neem dit skaars twee ure om dié onbesonge staatjie te deurkruis, maar anders as sy plek op die wêreldkaart is dié stukkie aarde groot van statuur.

Daar is baie dinge van België wat my fassineer. Vir ʼn selferkende sjokolis is Belgiese sjokolade op sy eentjie genoeg rede om weer en weer daarheen terug te keer. Om nie eens van die legendariese Belgiese bier te praat nie. Wanneer jy jou by ’n restaurant tuismaak, word ’n bierspyskaart so dik soos die Bybel voor jou neergeplak en daarin word die biere beskryf asof dit duur bottels uitsoekwyn is!

As geskiedenisentoesias bly my besoeke aan Waterloo en die Eerste Wêreldoorlog se loopgrawe belewenisse wat ek gereeld uit my geheuebank opdiep en met groot lekkerkry afstof. En les bes is Hergé, die outeur van my strokiesboekheld, Tintin (oftewel Kuifie), boonop óók van Belgiese oorsprong.

Maar ’n groot deel van my hart lê eintlik in die noordwestelike hoek van België in die provinsies van Vlaandere. Sonder dat ek ooit te veel oor die redes daarvoor nagedink het, was ek elke paar maande nógmaals op pad na dié plekkie in die vreemde wat allesbehalwe vreemd gevoel het. En na afloop van my laaste besoek was dit asof daar ’n lig vir my opgegaan het; ek het uiteindelik gewéét waarom ek altyd so tuis in Vlaandere voel.

Dit het die eerste oggend begin toe ons aansit vir ontbyt by ons gastehuis met die oulike naam “De Weide Wêreld”. Terwyl ek nog half deur die slaap hap-hap aan ‘n kraakvars wafel spoel die onmiskenbare klaviernote van Johannes Kerkorrel se “Sit dit af” uit die luidsprekers in die eetkamer. “O ja,” is ons gasheer, Jan, se doodluiterse reaksie op my ooglopend verbaasde gesigsuitdrukking, “ik ben gek op Johannes. Ik heb hem zelfs hier in Brugge zien optreden.” ’n Lang, sinvolle gesprek oor Kerkorrel se tragiese dood en die algemene stand van kontemporêre Afrikaanse musiek het gevolg. Dít was gewaarwording nommer een.

Later daardie selfde dag het ek en my wederhelf langs ’n markstalletjie in Brugge geredekawel oor hoeveel van watter droëvrugte ons sou aanskaf. Met die aanhoor van ons gesprek het die eienaar belangstellend nadergestaan. “Spreekt u Vlaams?”, wou hy met ’n vriendelike frons tussen sy oë weet, waarop ek ewe vriendelik “Nee, Afrikaans” geantwoord het. My woorde is begroet met ’n breër as breë glimlag, waarna die droëvrugverkoper sy Vlaamse uitspraak soveel as moontlik probeer aanpas het in ’n poging om ons in ons taal te bedien. Dít was gewaarwording nommer twee.

Tydens ontbyt op ons laaste oggend het ek aan vriend Jan genoem dat ek skoon verdrietig voel met dié dat ek binnekort weer dié stukkie hemel sou moes verlaat. Vir ’n paar sekondes het hy so half onderlangs na my geloer met ’n guitige glimlag om sy mondhoeke. Dié glimlag het kort voor lank tot ’n ondeunde gegiggel ontwikkel, waarna hy skielik weggeval het met “…o moenie huil nie, o moenie treur nie …” en die res van “Bobbejaan klim die berg”. Terwyl ek my oop-van-verbasing-mond aan’t toemaak was, het hy te vertelle gehad dat hulle dit as kinders in die skool gesing het! “En zeg mij,” het hy boonop die kersie op die koek geplaas, “wie was Sarie Marais nu eigenlijk geweest?” Dít was gewaarwording nommer drie.

Dít is die ding van Vlaandere wat my altyd daardie warm gevoel in my binneste gee  – om my op ’n plek te bevind waar mense my taal met ope arms ontvang. Waar daar geen stigma aan Afrikaans kleef nie en waar geen ongewenste bagasie daarmee saamkom nie. Vir die Vlaminge is dit bloot ’n taal. ’n Moderne, pragmatiese, bekénde taal. Sóveel anders as in Suid-Afrika waar sommige Afrikaanssprekendes hulle dikwels skaam vir hulle taal. Waar twee Afrikaanssprekendes soms sonder enige  goeie rede in Engels met mekaar kommunikeer.

Dit sal dalk nie in my leeftyd gebeur nie, maar ek hoop dat daar weer ’n dag sal kom wanneer alle Suid-Afrikaners wat Afrikaans magtig is dit onbevange sal praat, sonder die selfbewustheid oor wat dit kwansuis oor hulle sal verklap – nét soos wat dit in gastehuise en op markpleine in Vlaandere gedoen word.

Besoek gerus Fanie se webblad, Fanie Os Oppie Jas, en sy Facebook-blad, Fanie Os Oppie Jas: howzit my China.

Lees ook: Fanie wie?

 

Deel op

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels