Toe ek nog ’n kinders was, was ons pál in die Krugerwildtuin. Ons Wildtuin-besoeke was só endemies dat dit eintlik ’n verrassing was wanneer ons woonwa uitgetrek is met die see of ’n Overvaal-oord as ons bestemming.
Die Wildtuin was soos die hemel vir my. Van my beste herinneringe uit die 1980’s behels ’n voortgekruiery teen 40 km/u, in doodse stilte (die enigste toelaatbare kasset in die karradio was Klanke van die Bosveld, en dáái outjie is eers te voorskyn gebring wanneer ons reeds vir ure lank met nét rooibokke tevrede moes wees). Op die agtersitplek het ek koorsagtig deur Soogdiere van die Krugerwildtuin geblaai om te probeer onderskei tussen ’n blouduiker en ’n klipspringer se spore, ore en… wel, drolle.
Met dié het ek ’n liefde vir nasionale parke ontwikkel wat in my grootmensjare selfs sterker brand as wat die geval was toe Naas Botha en Die Uile van Kranskop nog my groot helde was. Oor die jare heen was ek gelukkig genoeg om by dosyne nasionale parke op verskeie kontinente te kon aandoen, maar nog nooit kon enige van daardie parke daarin slaag om die toonomkrul-lekkerkry van ’n besoek aan die Krugerwildtuin te ewenaar nie. En toe ontdek ek die Yellowstone Nasionale Park in Wyoming…
Wat ‘n ábsolúte Godswonder is dié plek nie! Die park, wat in 1872 die eerste gebied ter wêreld geword het om as ’n nasionale park geproklameer te word, beslaan bykans 9 000 vierkante kilometer en huisves skouspelagtige mere, skeurvalleie, riviere en berge. Boonop is die park mooitjies geleë rég bo-op die Yellowstone-krater – die grootste supervulkaan op die Noord-Amerikaanse kontinent. Dié vulkaan is aktief en het verskeie kere oor die afgelope 2 miljoen jaar tot uitbarsting gekom. Daar word voorspel dat hy weer binne die volgende 200 000 jaar sal uitbars, so indien jy eiendom in dié gebied besit, behoort daardie tydsraamwerk jou darem genoegsame tyd te gee om jou versekering in orde te kry.
Dis belangrik om melding te maak van die vulkaan, want dié natuurverskynsel is direk verantwoordelik vir die park se bekendste eienskap – sy geotermiese kenmerke. Uhm… sy wát?
Goed, so water syfer deur die grond tot op ’n punt waar dit só verwarm word deur die vulkaan se magma (gesmelte rots) dat dit op die oppervlak uitbars as ’n spuitbron of geiser. (Dit word “ghaizer” uitgespreek en nie “ghiezer” nie, soos wat ek tot my stille verleentheid geleer het.) Daar is ongeveer 500 van hierdie spuitbronne in die park, waarvan Old Faithful die grootste en bekendste is en nagenoeg elke 90 minute ’n dik straal stoom en kookwater op die oppervlak uitspoeg.
Wat dan nou verder gebeur, is dat dié kokende uitwerpsels in poele op die oppervlak versamel (amper soos vuurwarm opelug-rumatiekbaddens). Weens die spesifieke chemikalieë wat in die water voorkom, spog dié poele met die mees asemrowende kleure. In baie gevalle lyk dit asof ’n reuse-oog op die aarde se oppervlak geskep is en in hierdie post-apokaliptiese landskap moes ek myself ’n paar keer knyp net om seker te maak dat dít waarna ek kyk wel eg is.
Die sulfied in die water bring egter ’n stank mee wat enige klankie uit ’n hoërskool-wetenskapklaskamer onder die tafel in sal stink. Die wêreld daar lyk dalk soos die hemel, maar dit ruik soos die hel.
Bo en behalwe dié onwelriekende, veelkleurige natuurwonders bied Yellowstone ook ’n tuiste aan honderde plant- en dierspesies. Ek het talle vosse, prêriewolwe (“coyotes” – ’n soort wolfhond) en takbokke gesien, maar my gunsteling is sonder twyfel die bisons (of dalk is die meervoud “bisonne”, alhoewel dit verwarrend kan wees: Cadbury is lekker, maar Lindt is “bisonne” lekker). Dié bonkige buffels met hulle aardige liggaamsbou het my eindeloos gefassineer en ek kon maar net nie loskom van die gedagte dat indien hulle mense was, hulle definitief in die voorry sou sak nie.
******************************************************************************
Wanneer ons destyds so in die Krugerwildtuin voortgekruie het, was die beste aanduiding van die teenwoordigheid van iets wat die moeite werd is om na te kyk die kar van ’n mede-wildsoeker wat botstil in die middel van die pad gestaan het. Soos wat ons dié kar dan genader het, was die eerste mikpunt om vas te stel of die insittendes na iets aan die linkerkant of aan die regterkant van die pad kyk. Vervolgens moes bepaal word of “die iets” deur ’n verkyker of met die blote oog betrag word. Eers daarná kon die Groot Tuurdery ’n aanvang neem…
Soms sou “die iets” homself sommer vinnig ontbloot. Só het ons leeus, luiperds en op ’n keer selfs ’n ietermagog gesien waarby ons sekerlik sou verbyry as dit nie vir die hulp van ons mede-wildsoekers was nie. Maar ander kere kon ons “die iets” maar nét nie binne sig kry nie. Dán het daar altyd ’n effense ongemaklikheid gevolg wanneer ons stadig langs die vreemdelinge in die stilstaande kar ingetrek het in die hoop dat hulle “die iets” se posisie aan ons ook sou openbaar. Vir my, as ’n kannetjie wat uitsluitlik belanggestel het in renosters, roofdiere en rooiribbokramme, was dit altyd ’n hélse teleurstelling wanneer min of meer die volgende gesprek gevolg het:
My pa: Môre-môre! Wat sien julle mense?
Hulle pa: Môre! Man, hy staan so vyftig meter die veld in, net links van daai groot wag-’n-bietjie-boom. Sien jy hom?
My pa: Uhm… ek is nie seker nie. Wat is dit?
Hulle pa: Nee man, kyk mooi, jy kan hom nie mis nie. Dis ‘n… Dis ‘n… saalbekooievaar.
My intense verdriet met ’n voëlkykery kon nét getroef word wanneer die fiksasie van die mense in die ander kar nie diere of voëls was nie, maar inderdaad ’n heel nuwe laagtepunt bereik het – met ’n boomkykery. Bóme?! Wie by hulle volle verstand gaan Wildtuin toe om na bóme te kyk? Ek kon dit nooit kleinkry nie.
Nou ja, so kom ons toe een laatmiddag onderweg na Yellowstone se uitgang om ’n draai gery – net om ons vas te loop in ’n groter verkeersopeenhoping as op ’n weeksoggend op die Ben Schoeman-snelweg tussen Pretoria en Johannesburg. Ek was oortuig ál wat só ’n fanfare kon regverdig, was ’n bison wat op sy agterpote staan en die Amerikaanse volkslied uit sy agterent fluit.
Vir wat soos ’n ewigheid gevoel het (ons eerbare president sou reken dat dit in die omgewing van sewe-en-dertien-en-vier minute geduur het), het ons teen die pas van ’n gebreklike slak in ’n nimmereindigende ry motors in die rigting van die uitgang gekruip. Ons bespiegelinge oor wat moontlik die oorsaak van die oponthoud kon wees, het die volle spektrum gedek – van die onwaarskynlike (’n dragtige takbok wat besig is om in die pad geboorte te skenk) tot die onsedelike (Hillary Clinton en Donald Trump wat onder ’n boom staan en vry).
Met ons uiteindelike aankoms by die bron van die verkeersopeenhoping het ek ’n groepie mense opgemerk wat, gewapen met kameralense waarmee ’n mens sweerlik die kraters op die maan in hoë definisie sal kan vasvang, saamgebondel langs die pad staan en tuur na iets sowat ’n honderd meter weg, aan die oorkant van ’n rivier. Ek het my met bruisende opgewondenheid by hulle aangesluit, hoopvol dat dit werklik iets merkwaardigs sou wees. Maar die hoop het beskaam – die objek van hulle fokus was maar net ’n prêriewolf. ’n Enkele een. Wat nie op sy voorpote gedans het nie. En ook nie die Amerikaanse volkslied uit sy agterent gefluit het nie.
’n Mens kan maar net wonder hoe dié spulletjie, wat dit hóógs amuserend gevind het om ’n kleinerige ou wolfhondjie met hulle merske kameralense te treiter, sou reageer as hulle in Afrika op ’n trop leeus in die middel van die pad sou afkom.
******************************************************************************
As jy my in die 1980’s gesê het daar is iewers in die wêreld ’n nasionale park wat in alle opsigte die gelyke is van die Krugerwildtuin, sou ek jou nie geglo het nie. Maar in die Yellowstone National Park het ek dit met my eie oë gesien. Daar is weliswaar nie kameelperde, kremetartbome of kraalogie-voëltjies nie, maar wat ek wél gesien het, sal my tot in der ewigheid toe bybly.
Besoek gerus Fanie se webblad, Fanie Os Oppie Jas, en sy Facebook-blad, Fanie Os Oppie Jas: howzit my China.
Lees ook: Fanie wie?
Foto’s: Fanie van der Merwe