Gebruik van jou Suid-Afrikaanse krediet- en debietkaarte in die buiteland – Breytenbachs Advisory
Reëls vir die gebruik van Suid-Afrikaanse fondse oorsee
Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Departement Finansiële Waarneming (Financial Surveillance of FinSurv) beheer die vrye beweging van Suid-Afrikaners se rykdom (ook genoem valutabeheer of excon). Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) kom gesamentlik met die tesourie ooreen oor die prosesse waarvolgens Suid-Afrikaners toestemming verkry om hul swaarverdiende Suid-Afrikaanse Rand in die buiteland te spandeer.
Suid-Afrikaners wat baie jare reeds in die buiteland woon, is dikwels baie verbaas om te verneem dat hulle nie meer hul Suid-Afrikaanse debiet- of kredietkaarte daar mag gebruik nie. In hierdie verband is dit belangrik om daarop te let dat die SARB onderskei tussen ‘n expat wat in die buiteland woon (al is dit tydelik) en inwoners van Suid-Afrika wat bloot oorsee reis.
Afdeling H in die SARB se handleiding oor valutabeheer stel die reëls vir die gebruik van Suid-Afrikaanse krediet- en debietkaarte in die buiteland baie duidelik. In die kalenderjaar wat waarin jy Suid-Afrika verlaat, mag jy jou kredietkaart tot en met 31 Desember gebruik; dit is onderhewig aan vooraf goedkeuring. Geen verdere gebruik sal in die jaar daarop toegelaat word nie, tensy jy veronderstel is om ná ‘n Kersvakansie na Suid-Afrika terug te keer.
Die SARB se reëls stel baie duidelik dat ‘n excon-inwoner sy of haar SA krediet- of debietkaarte kan gebruik vir 100% van die gemagtigde, voorgeskrewe of oorblywende reistoelae wat beskikbaar is vir sodanige inwoner se reis. Die woord reis gee duidelik te kenne dat daar ‘n keerdatum aan die einde van ‘n relatiewe kort reis is. ‘n Mens kan vra hoe kort. Ons het kliënte wat in Desember vertrek en eers tydens Paasfees terugkeer ná ‘n uitgebreide reis op die oop see en ‘n skivakansie in Italië.
Bogenoemde Afdeling H verbied jou bankiers ook om jou toegang te verleen tot die volgende kalenderjaar se toelae as jou reis tot ná Nuwejaar duur. Die SARB-reëls bepaal dat ‘n volle toelae steeds vir enige daaropvolgende reis gedurende die tweede jaar voorsien kan word mits die reisiger eers na die RSA terugkeer.
Suid-Afrikaanse Reserwebank se boeteproses
Persone wat hierdie reëls oortree, kan onderhewig wees aan ‘n SARB-boete van tot 40% van die onreëlmatige besteding. Die fondse wat in die buiteland bestee is, moet teruggebring en uit buitelandse fondse oorgedra word na die Suid-Afrikaanse tjek- of spaarrekening, want die betrokke krediet- of debietkaart sal teen daardie tyd gekanselleer wees.
Die SARB-proses is nie ‘n outomatiese strafstelsel nie. Waar ‘n debiet- of kredietkaart wat aan ‘n tjekrekening gekoppel is, gebruik is, sal die SARB normaalweg eers via die Suid-Afrikaanse kredietkaartmaatskappy of SA bankiers navraag doen. Mense wat die reëls oortree, sal slegs die waarskuwing ontvang as hulle sorg dat hul SA bankiers hul nuwe FICA-adres het. Indien die waarskuwing na ‘n ou of ongeldige SA adres gestuur word, kan dit nie gebruik word as ‘n verskoning dat hulle nie van die boete geweet het nie.
Die SARB-reëls rakende die gebruik van krediet- en debietkaarte in die buiteland is onlangs hersien. Die streng kernreëls is egter al sewe jaar of langer in gebruik en die algemene reëls rakende die gebruik van kredietkaarte is al meer as ‘n dekade in die SARB-riglyne.
Wanneer word ‘n Suid-Afrikaner beskou as wonende in die buiteland?
Tydelik in die buiteland is ‘n baie wye definisie. Dit sluit Suid-Afrikaners wat buite Suid-Afrika vakansie hou of sake doen egter baie duidelik uit. Dit is ook belangrik om in gedagte te hou dat die SARB, die SAID en Binnelandse Sake (visum en paspoort) se reëls nie ooreenstem nie.
As jy die eienaar van die vakansiewoonstel is, kan jy geag word as tydelik wonende in die buiteland. Volgens SARB-reëls woon iemand wat buitelandse valuta verdien terwyl hy/sy fisies in die buiteland is ook tydelik oorsee, al is dit net vir onderbroke maar gereelde kort periodes.
Tydelik verwys nie na ‘n spesifieke tydsduur nie; dit kan byvoorbeeld betrekking hê op ‘n Suid-Afrikaner wat om watter rede ook al in die buiteland woon al het hy/sy nie formeel geëmigreer nie.
Suid-Afrikaners wat ‘n hele Europese somer buite Suid-Afrika deurbring en in eiendomme woon wat aan hulself of ‘n trust behoort, word geag as tydelik wonende in die buiteland. Jy is nie op “reis” volgens die bedoeling van Artikel H in die handleiding nie.
Suid-Afrikaners op ‘n vaart om die wêreld kan veilig argumenteer dat hulle op vakansie is. Hulle mag egter ‘n probleem hê as hulle in een kalenderjaar vertrek en in ‘n ander kalenderjaar terugkeer. Soos reeds genoem, het ‘n inwoner wat valuta gebruik, nie toegang tot die tweede jaar se reistoelae voordat hy/sy nie na SA teruggekeer het nie. Diesulkes se gebruik van hul kredietkaarte in die volgende kalenderjaar word doelbewus opgeskort deurdat die stelsel hulle beskou as tydelik wonende in die buiteland.
Breytenbachs Advisory kon gelukkig al volle kwytskelding verkry vir kliënte wat só beboet is.
Breytenbachs Advisory meen dit is veiliger om die meeste expats te ag as “tydelik” wonende in die buiteland; hulle is dus onderhewig aan die SARB-reël vir die gebruik van SA debiet- of kredietkaarte in die buiteland.
Onkunde oor die SARB-reëls
Die SA Bank of die betrokke persoon kan ongelukkig nie onkunde oor die SARB-reëls gebruik om nie die boete te betaal nie.
As die Suid-Afrikaanse bank of ‘n tak van die SA bank die kaart na die buitelandse adres gestuur het, kan dit nie as verskoning gebruik word nie; dit kompliseer net die kliënt se verdediging. Ongelukkig is baie takadviseurs en persoonlike bankiers nie voldoende opgelei om die ernstige gevolge wat die Suid-Afrikaanse valutabeheerregulasies vir Suid-Afrikaners in die buiteland inhou, te begryp nie.
Breytenbachs Advisory hanteer tans ‘n saak van ‘n kliënt wat die valutabeheerboete van sy bankiers eis omdat hulle hom nie die regte advies gegee het nie. Die Ombudsman vir Bankdienste (OBS) oorweeg tans ‘n beslissing nadat die SARB geweier het om af te sien van die 25% boete ten spyte daarvan dat Breytenbachs Advisory kon bewys dat die kliënt se bank die kaarte willens en wetens per koerier na Australië gestuur het en hul kliënt dus nie teen die risiko gewaarsku het nie. Ons hoop die OBS sal binnekort tot ‘n beslissing kom.
Intussen waarsku ons kaartgebruikers dat hulle ‘n risiko loop.
Kansellasie van SA kaarte terwyl mense in die buiteland woon
Jy hoef NIE jou Suid-Afrikaanse krediet- en debietkaarte te kanselleer terwyl jy in die buiteland woon nie.
Die kaarte sal geldig bly, want die reëls verplig ‘n mens nie om dit te kanselleer nie. Dit kan binne die Gemeenskaplike Monetêre Gebied gebruik word.
Iemand wat tydelik in die buiteland woon, sal toegelaat word om sy/haar SA bankkaarte buite Suid-Afrika te gebruik vir aanlynaankope wat by ʼn Suid-Afrikaanse adres afgelewer word.
Hoe kan ek toestemming verkry om my SA bankkaarte in die buiteland te gebruik?
Dit is moontlik om toestemming te kry om jou Suid-Afrikaanse krediet- en debietkaarte in die buiteland te gebruik. Hierdie toestemming word deur die SARB verleen en nie deur jou plaaslike SA bank nie.
Die huidige bankvorm vir buitelandse gebruik is van toepassing op korporatiewe kredietkaarte waar jou Suid-Afrikaanse werkgewer jou vir ‘n VASTE tydperk gesekondeer het. Kliënte word aangeraai om seker te maak dat die vorm wat hulle teken, hulle inderdaad totale vryheid van gebruik in die buiteland verleen en nie net vir byvoorbeeld internasionale vliegtuigkaartjies en motorhuur in Suid-Afrika nie.
Boetes in geval van oortreding
Indien jy ‘n boete van die Suid-Afrikaanse Reserwebank ontvang, kan jy die onwettige spandering terugwerkend regstel sodat jy nie die volle 40% boete hoef te betaal nie.
Dit is egter altyd raadsaam om jou fout reg te stel voordat jy ‘n brief van die SARB kry om ondersoek in te stel.
Vir verdere inligting of hulp met jou unieke saak, kontak gerus vir Breytenbachs Advisory by info@bcbadvisory.com of besoek ons webtuiste by http://www.bcbadvisory.com/.