Deur Alana Bailey
Op Sondag, 18 April 2021, het ’n veldbrand wat teen die hange van Tafelberg ontstaan het, oor die M3-snelweg versprei en groot skade aan onder meer die bekende erfenisbaken, Mostert se meule, aangerig.
Hierdie klein windaangedrewe meule is in ongeveer 1796 op Welgelegen, die plaas van Dirk Gysbert van Reenen, opgerig om graan vir die groeiende Kaapse bevolking en besoekers te maal. Van Reenen se dogter is later met ’n Mostert getroud en sodoende het die meule aan sy naam gekom.
Mostert se meule was eens die enigste oorblywende werkende windmeul suid van die Sahara in Afrika. Hoewel dit staatseiendom is, sorg ’n groep erfenisentoesiaste reeds vanaf 1993 vir die instandhouding daarvan. Hulle het destyds die organisasie “Vriende van Mostert se meule” op die been gebring en sedertdien in noue samewerking met die departement van Openbare Werke daarna omgesien. Demonstrasies is dikwels vir die publiek aangebied sodat mense eerstehands kon sien hoe dit maal. Die vlammesee van 2021 het egter binne minute ’n einde aan die meule se funksionaliteit gebring.
Hier eindig die storie nie, maar raak ’n getuienis van die wonderwerke wat gemeenskapskrag ook op die terrein van erfenisbewaring kan verrig.
Die oomblik toe die terrein na die brand betree kon word, was lede van die vriende-organisasie daar om die oorblyfsels van die gebou en onderdele te beveilig. ’n Fondsinsamelingsprojek is dadelik nasionaal en internasionaal van stapel gestuur om vir die herstelwerk te betaal. AfriForum het tot die fonds bygedra en die afgelope twee jaar sporadies oor die vordering met die projek berig.
Die restourasiewerk word gekoördineer deur Andy Selfe, ’n deskundige op die terrein van meulens. Hy het pas ’n e-pos aan ons gestuur waarin hy skryf:
“As a long-term member of AfriForum, I’d just like to add my personal thanks for the very generous donation your organisation has made to our project! To update you, in two years, with your help we have gone from this …:”
“… to this!”
In die restourasiespan is Andy in beheer van die herstel van die werkende dele van die meule. Aanvanklik is geglo dat buitelandse kundigheid nodig sal wees om dit weer in ’n werkende toestand uit die as te laat herrys, maar Andy vertel trots dat mense wat oor die nodige kennis beskik in Kaapstad en in sy tuisdorp, Grabouw, gevind is. Hy beskryf hulle kennis as ongeëwenaard in die wêreld. Al wat uiteindelik ingevoer moes word, was ’n tweedehandse stel meulstene en nuwe seildoeke. Die res is alles plaaslik vervaardig. Die fondse wat deur die publiek, asook enkele groot donateurs geskenk is, het help verseker dat die vakmanne na behore vergoed kon word en die materiaal wat aangekoop moes word, betaal is. Die skenkings het ook boumateriaal ingesluit, byvoorbeeld kliplaers (“stone bearings”) van JA Clift in die Paarl en die dakraam en dekgras van JNA Thatchers.
Op my vraag waarom die meulstene nie ook plaaslike vervaardig kon word nie, het Andy die volgende interessante inligting met ons gedeel. Die ingevoerde stene staan bekend as Franse “Burr” stene en word as die heel beste soort ter wêreld beskou. Hierdie soort stene is nie meer beskikbaar nie, aangesien die steengroef waaruit hulle kom, jare gelede reeds uitgeput is as gevolg van die groot aanvraag daarvoor van oraloor. Die stene is by La Ferté Sous Jouarre buite Parys in Frankryk saamgestel uit gedeeltes wat vaardige ambagsmanne aanmekaar gelas en met staalbande aanmekaar gebind het. Krake is met gips gevul.
Die stel stene wat vir Mostert se meule verkry is, is by die einste La Ferté Sous Jouarre gemaak en het jare lank diens gedoen in ’n watermeule in Barcelona, Spanje. Later is dit deur ’n versamelaar na Nederland geneem, waar dit deur Nederlandse vriende van Mostert se meule met geld uit die restourasiefonds aangekoop is. Dit was ’n winskoop, aangesien die versamelaar dit teen kosprys beskikbaar gestel het. Die stene is deur die Nederlanders opgeknap en daarna na Suid-Afrika gestuur.
Aanvanklik was dit ’n uitdaging om ’n paar “linkse” meulstene te vind. Links verwys na die manier waarop die stene gemaak is – met ander woorde dat dit antikloksgewys sal draai as ’n mens van bo af daarna kyk. Die meeste Nederlandse windmeulens se stene draai regs, oftewel kloksgewys. Gelukkig was hierdie stene juis links.
Hoewel die restourasiewerk van buite af lyk of dit afgehandel is, is daar nog baie om aan die binnekant te doen. Andy en die ander vriende van die meule vorder egter goed. Hulle webtuiste word gereeld met die jongste nuus oor die projek opdateer. ’n Blog voorsien verder inligting oor die herbou van die onderdele van die meule, met tegniese inligting en foto’s wat van groot waarde vir toekomstige restourateurs sal wees. Bydraes is steeds uiters welkom en inligting hieroor is beskikbaar by https://mostertsmill.co.za/current-restoration/.
Dit is bemoedigend om te dink dat die inisiatief van ’n begeesterde gemeenskap en ook selfs die bydraes van onder meer AfriForum se lede gehelp het om hierdie kosbare erfenisbaken te laat herleef. Hopelik inspireer dit ander gemeenskappe om die erfenisskatte in hulle midde aktief te help bewaar.