Gesondheidsdienste in die buiteland – vir huidige gestrande of toekomstige reisigers
Meeste van ons moes al die hospitaal besoek as gevolg van ’n ongeluk of siekte. Dit is nie ’n aangename of goedkoop uitstappie nie, selfs al behoort jy aan ’n mediese fonds. Verbeel jou nou net dat hierdie onaangename uitstappie in ’n verre land, met ’n vreemde kultuur, taal en gesondheidsorgstelsel gebeur.
Hierdie probleem duik dalk juis nou tydens die betrokke lande se uiteenlopende inperkingstye op, terwyl Suid-Afrikaners buite die Suid-Afrikaanse landsgrense gestrand is en op die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge en samewerking se repatriasiereëlings wag.
’n Uitstappie na die hospitaal of ’n dokter in die buiteland kan ’n aansienlike gat in jou beursie veroorsaak, daarom is dit belangrik om te weet hoe gesondheidsorg in die buiteland werk. Hier is ’n gids tot gesondheidsorg in verskeie lande buite ons grense waar ons weet Suid-Afrikaners tans vasgekeer is, maar wat ook normaalweg gewilde reisbestemmings is. Die inligting sal jou die gemoedsrus gee dat jou avontuur of noodgedwonge inperkingstyd in die buiteland vlot sal verloop.
Gesondheidsorg in Australië
Australië se openbaregesondheidstelsel staan as Medicare bekend. Australiese hospitale verskaf wêreldklas- mediese fasiliteite teen standaard tariewe. Die Australiese regering het wederkerige gesondheidsorgooreenkomste met verskeie ander lande wat aan reisigers toegang tot gesubsidieerde gesondheidsorg en dienste bied. Hou egter in gedagte dat jy voor jou reis moet seker maak of jy in aanmerking hiervoor sal kom.
Wanneer jy na Australië reis, is dit nie nodig om spesiale inentings te kry nie, tensy jy binne ses dae voor jou aankoms in Australië in ’n land waar geelkoors voorkom oornag het, of langer tyd daar spandeer het.
Voorgeskrewe medikasie wat jy saam met jou op jou reis na Australië neem, sal onderhewig aan kontrole wees en moet by jou aankoms verklaar word. Maak dus seker dat jy jou voorskrif en/of ’n brief van jou dokter wat verklaar dat die medikasie noodsaaklik is, byderhand het.
Die noodnommer in Australië is 000. Die operateur kan jou dan na die polisie, ambulans- of brandweerdiens deurskakel.
Gesondheidsorg in Nieu-Seeland
Gesondheidsorg vir toeriste dek die behandeling van beserings wat tydens ’n ongeluk opgedoen is. Die mediese sorg van almal in Nieu-Seeland, insluitend reisigers, word deur die sogenaamde ACC-program gedek. Wanneer jy ’n dokter of hospitaal vir die behandeling van ’n besering besoek, sal jy gevra word om ’n vorm in te vul sodat die ACC-program jou vir die koste van die behandeling kan vergoed. Tolkdienste is by verskeie hospitale in Nieu-Seeland vir toeriste wat nie vlot Engels kan praat nie beskikbaar en jy kan gerus vir ’n verpleegster vir ’n tolk vra.
Nieu-Seeland het geen vereistes vir inentings voordat jy die land besoek nie, maar daar word aanbeveel dat jy gedek is vir waterpokkies, witseerkeel, hepatitis B, masels, pampoentjies, kinkhoes, polio, Duitse masels, seisoenale griep, klem in die kaak en tering.
Nieu-Seeland se noodnommer vir die polisie, ambulans- of brandweerdiens is 111. Jy kan hierdie nommer gratis van enige selfoon af skakel.
Gesondheidsorg in Nederland
Wanneer jy in Nederland reis, sal jy nie deur die Nederlandse gesondheidsorgversekering gedek word nie en jy sal dus self die koste moet dra wanneer jy ’n dokter of hospitaal besoek.
In ’n noodgeval kan jy die noodnommer 112 gratis skakel. Die sentrum sal jou na die polisie, ambulans- of brandweerdiens deurskakel.
In Nederland het jy ook die opsie om van die Amsterdam Tourist Doctors se dienste gebruik te maak. Behandeling wat hulle bied word deur die meeste reis- en mediese versekeringskemas van die wêreld gedek. Hierdie opsie is beskikbaar vir enigeen wat nie Nederlandse mediese versekering het nie.
Gesondheidsorg in Kanada
Wanneer jy na Kanada gaan, moet jy reisversekering en mediese versekering in jou land van oorsprong hê wat jou dan sal help indien jy mediese sorg aldaar sou benodig. Kanada se mediese stelsel is van die beste in die wêreld, maar dit is ook van die duurste ter wêreld.
Kanada se noodnommer is 911.
Gesondheidsorg in die Verenigde State van Amerika (VSA)
Dit is belangrik om reisversekering te kry voordat jy na die VSA reis, omdat die VSA nie dekking vir toeriste bied wanneer hulle mediese sorg benodig nie. Net soos in die geval van Kanada, is die Amerikaanse mediese stelsel uiters duur. Die meeste van die mediesesorgstelsels in die VSA is privaat en reisversekering kan sorg dat indien nodig, jy vir privaat mediese dienste kwalifiseer.
Toeriste wat in ’n privaat hospitaal se ongevalle-eenheid beland, sal na ’n openbare welsynshospitaal oorgeplaas word as die personeel by die privaat hospitaal agterkom dat die pasiënt se koste nie deur versekering gedek sal word nie.
Dit is belangrik om in gedagte te hou dat jou nasionale mediese versekering nie geldig is in die VSA nie, daarom is dit noodsaaklik om reisversekering uit te neem voordat jy die VSA besoek.
911 is die Amerikaanse noodnommer. Onthou dat daar koste verbonde sal wees daaraan om ’n ambulans te ontbied. Die rekening hiervoor sal na jou versekeraar gestuur word.
Gesondheidsorg in die Verenigde Koninkryk (VK)
Die Verenigde Koninkryk het nie ’n wedersydse gesondheidsorgooreenkoms met Suid-Afrika nie, so die koste van enige behandeling wat jy daar ondergaan, sal jy uit jou sak moet betaal indien jy nie reisversekering uitgeneem het nie.
Noodbehandeling is egter gratis. As jy in ’n ongeluk was, of noodbehandeling benodig, sal jy die behandeling gratis ontvang, ongeag van waar jy is, solank die behandeling by ’n primêre sorgsentrum, algemene praktisyn se praktyk, ’n hospitaal se ongevalle-afdeling of ’n instapsentrum soortgelyk aan die ongevalle-afdeling van ’n hospitaal toegepas word.
Hierdie vergunning geld egter net vir ’n onmiddellike noodgeval. Sodra jy in ’n hospitaal opgeneem word, sal jy die koste self moet dek.
Ander gratis dienste sluit behandeling vir sekere aansteeklike siektes, dringende advies oor nie-lewensbedreigende siektes deur die Nasionale Gesondheidsdiens (NHS) se nie-noodgevallehulplyn (111), verpligte psigiatriese behandeling, familiebeplanningsdienste (aborsies en fertiliteitsbehandelings uitgesluit), MIV-toetse en tydelike behandeling tydens ’n noodgeval in.
In die VK kan die noodnommers 999 of 112 geskakel word ‒ 999 is die Britse nasionale noodnommer en 112 die pan-Europese nommer. Beide kan vir hulp in enige noodsituasie geskakel word.