Hartenbos vier vir die tweede jaar die feesseisoen in Afrikaans!

01/11/2018
| Deur AfriForum Wêreldwyd
IA-Konsertreeks.jpg

Desember is om die draai en almal sien uit daarna om af te skakel en die somerson ten volle te geniet. Vakansiegangers, wat in Hartenbos en die omliggende areas is, kan egter op 22, 24, 28 en 29 Desember 2018 uitsien na veel meer as net ’n gewone wegbreek en kan nou al hulle plekke bespreek vir die tweede IN AFRIKAANS-konsertreeks, wat by die ATKV Amfiteater Hartenbos sal plaasvind.

HARTENBOS IN AFRIKAANS is ’n besonderse konsert wat ’n topgehalte produksie is, met die kreatiewe insae van Johan Vorster, Matthys Maree, Carien Laubser en baie ander groot name in die bedryf. Dit is ’n vervaardigde konsert met ’n lewendige orkes en ons belowe dat dit weereens onvergeetlik gaan wees,” verduidelik Besturende Direkteur van In Afrikaans, Jacomien de Villiers. “Hierdie konsert is baie uniek. Dit is nie ’n musiek-ekstravaganza nie en, alhoewel daar ’n visuele komponent is, gaan dit oor die treffers wat die publiek wil hoor. Mense kom van regoor die land in Hartenbos bymekaar en geniet die verrigtinge in ’n vrolike vakansieluim. Dit is toeskouers wat nie altyd die groot konserte in die stede kan bywoon nie en daarom is dit ’n groot geleentheid en het dit ’n baie spesiale atmosfeer.”

Na die wegholsukses van die eerste konsertreeks, wat deur nie minder nie as 30 000 feesgangers bygewoon is in 2017, en waartydens die gala-geleentheid se kaartjies reeds vooruit uitverkoop was, het die span by Inhoud Huis Musiek nie ’n ander keuse gehad as om ’n opvolgreeks te reël en dit moontlik ’n jaarlikse instelling te maak nie.

Vanjaar se konsertreeks sal iets bied vir elke musieksmaak en -voorkeur, of jy nou hou van langarm of meer ernstige akoestiese verwerkings. Van die land se grootste kunstenaars, waaronder Steve Hofmeyr, Robbie Wessels, Karen Zoid, Leah, Theuns Jordaan, Riana Nel, Snotkop, Appel, Roan Ash, Douvoordag, Jan de Wet, Juan Boucher, Early B, Jan Bloukaas en vele meer sal op die verhoog te sien wees.

“Ons probeer altyd om musiek te maak wat mense se lewens verander. Daarom het ons kunstenaars soos Jo Black en ander gekies, wat hoop bring deur hulle musiek. Ons wil hierdie jaar baie spesiale oomblikke vasvang wat werklik mense se harte sal aanraak,” sê Jacomien.

’n Paar hoogtepunte en groot verrassings kan verwag word, waaronder die vrystelling van Jo Black se eerste enkelsnit na sy operasie, asook Robbie Wessels se nuutste liedjie wat die gehoor gaande gaan hê. Beide kunstenaars is baie opgewonde om deel te wees van dié geleentheid en Jo Black sê: HARTENBOS IN AFRIKAANS is een van die hoogtepunte op ons kalender. Ek is regtig opgewonde oor hierdie jaar se konsert – dit gaan nog groter as laas jaar wees!”. Robbie Wessels, wat al ’n ou hand en gunsteling is by feeste meen dat hierdie een van die bestes is waaraan hy al deelgeneem het. “Die IN AFRIKAANS-konsertreeks is die beste manier om die Desembervakansie mee af te sluit. Dis ’n great show met van ons land se grootste kunstenaars in die hartjie van Hartenbos by die amfiteater. Laas jaar se gees was fantasties en ek glo hierdie jaar gaan dit nog lekkerder en groter wees. Ek sien baie uit daarna”, sê hy.

Gedurende die laaste twee dae van die konsertreeks, sal die indrukwekkende treffer – Die Gelofte – ook vir die eerste keer opgevoer word. Dié lied, wat deur Johan Vorster en Christoph Kotzé getoonset is, gaan oor die gebed en eed wat in 1838 deur ons voorgeslagte afgelê is en beloof om hoendervleismooi oomblikke op die verhoog tot gevolg te hê. “Dit vertel van die afhanklikheid van ’n groepie mense wat nêrens anders heen gehad het om te gaan, behalwe na God toe nie. Suid-Afrika het hoop nodig en hierdie lied word spesiaal uitgevoer om mense se oë weer te lig na die plek waar hulle hulp vandaan kom,” sê Johan.

Buiten vir die musiek, sal daar ook verskeie kos- en drankstalletjies en ander uitstallers wees, sodat niemand uitgelaat voel nie.

Toegangskaartjies kan by die hekke gekoop word op die onderskeie dae vanaf 15:00 of aanlyn by

https://itickets.co.za/events/399816.html. Feeshekke sal op konsertdae om 17:00 oopmaak. Kaartjies sal ook vanaf 19 Desember by die ATKV-inligtingskaravaan te koop wees.

Die program vir die vier konsertdae, wat deur Pieter Koen aangebied gaan word, lyk so:

SKREE IN AFRIKAANS: Op 22 Desember sal Steve Hofmeyr gehore vanaf 19:30 vermaak met sy SKREE-ekstravaganza saam met lewendige strykinstrumente.

KERSFEES IN AFRIKAANS: Jan de Wet, Douvoordag en Roan Ash sal die Kersgees op 24 Desember afskop om 20:00 met Kersliedere by kerslig. Fondse en donasies word ook tydens hierdie geleentheid ingesamel vir Hartenbos Bejaardesorg.

HARTENBOS IN AFRIKAANS: 28 en 29 Desember is die twee gala-konsertaande waartydens van die bekendste Suid-Afrikaanse musikante, soos Theuns Jordaan, Leah, Jo Black, Snotkop, Karen Zoid, Robbie Wessels, Kurt Darren, Liezel Pieters, Appel, Jan Bloukaas, Riana Nel, Elvis Blue, Early B en meer dié vakansieoord se gehore vanaf 19:30 sal vermaak.

Wat begin het as ’n droom deur Johan Vorster, Jacomien de Villiers en die In Afrikaansspan om ’n hoë gehalte konsert te reël, wat soos die CMA’s, gaan oor die sterkte van die lied en hoe dit mense aanraak, het ontpop in ’n oornagsukses, omdat dit die kultuur en harte van Afrikaners doeltreffend kon vasvang.

Die IN AFRIKAANS HARTENBOS-konsertreeks is vir elke plesierige feesganger, wat hou van goeie musiek in hulle Moedertaal, asook ’n lekker kuier en is die perfekte manier om die jaar mee af te sluit.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/InAfrikaans/

Twitter: @in_afrikaans_

Instagram: @in_afrikaans

Webblad: www.inafrikaanshartenbos.co.za

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels