Deur Chanté Kelder
Die dood is nou nie juis ’n onderwerp waaraan meeste 16-jariges dink nie maar dit is al waaraan Lumi kan dink. Lumi is ’n demifae en kort voor haar sewentiende verjaarsdag stuur haar peetouers haar na ’n kosskool vir tienerfae sodat sy kan leer om haar magte te beheer in die hoop dat sy miskien haar opeising sal oorleef. By Kasteelhoogte word sy egter gekonfronteer met onbeheerbare faemagte, emosies wat sy nog nie van tevore ervaar het nie en maak sy ook kennis met Colden Breakspear. Kan sy die deur oopmaak om hom naby haar toe te laat of moet sy juis, ter wille van hom, haar afstand hou?
Hartklop is die debuutverhaal van Sunel Combrinck en die eerste boek in ’n nuwe fantasiereeks waarin die leser stukkie vir stukkie die faedimensie, Tír na hÓige, gaan leer ken. Dit is ’n jeugroman maar ’n mens is nooit te oud vir ’n goeie fantasieverhaal nie en hierdie is ’n verhaal wat jy nie maklik gaan neersit nie.
Aanvanklik voel dit vreemd om woorde soos “fae”, “demifae” en “banshee” in ’n Afrikaanse boek raak te lees maar ná ’n ruk wanneer jy eers jou voete vind in hierdie nuwe, vreemde wêreld wens jy dat die tweede boek sommer net sal verskyn sodra jy die laaste bladsy van Hartklop gelees het.
Afrikaans het ’n skatkis vol uitstekende oorspronklike verhale dat daar werklik vir amper elke smaak iets is maar daar is ’n tekort aan stories in die fantasie genre veral vir jong volwassenes. Hoewel daar talle boeke is wat gebruik maak van magiese elemente om die idee dat daar baie is wat die menslike verstand nie kan begryp nie te beklemtoon, is daar nie eintlik Afrikaanse boeke wat ’n hele nuwe wêreld skep wat die potensiaal vir menigte stories het nie. Dink nou maar aan Sarah J. Maas of Cassandra Clare wat wêrelde geskep het waarna die leser op die ou end terug verlang en die dae aftel na die volgende boek net sodat hulle kan terugkeer na daardie wêreld. In dié opsig is Combrinck ’n baanbreker vir die uitbou van hierdie genre in Afrikaans.
Hartklop is die ideale verhaal om die leser voor te stel aan die wêreld van Tír na hÓige, dit dien in ’n sekere opsig as ’n gids vir die boeke wat op pad is. Combrinck was slim om gedeeltes te gebruik om spesifieke elemente van hierdie wêreld in bietjie meer detail te verduidelik dat die beeld vassteek in die leser se gedagtes en so ’n prentjie van Tír na hÓige skep waarna die leser in die volgende boeke kan terugverwys.
Wat hierdie boek laat uitstaan is die aandag wat geskenk is aan details wat daar nie altyd aan gedink word nie maar wat ’n leser beïndruk en by bly. Lesers, veral diegene wat hou van fantasie verhale, waardeer details wat ’n skrywer byvoeg. Hierdie details wys ook dat die skrywer omgee oor hierdie wêreld en dat hulle nie wil hê die leser moet verdwaal in die wêreld wat hulle geskep het nie. Een van hierdie details in Hartklop is die bywerking van ’n kaart waarna lesers kan terugverwys terwyl hulle lees. Daar is ook ’n handige gids vooraf wat ’n uiteensetting gee van die verskillende faeryke met hulle subspesies, faeklassifikasie, en die klassestelsels van die verskillende ryke. Die leser het dus uit die staanspoor ’n voorsprong voordat hulle die eerste karakters ontmoet.
Hierdie mag dalk ’n fantasieverhaal wees maar die karakters kom voor dieselfde uitdagings as jongmense in die werklikheid te staan. Combrinck sê self dat sy nie bang is om op tone te trap wanneer dit kom by moeilike onderwerpe in Hartklop nie want tieners moet weet dat hulle nie alleen is nie. Vir ouer volwassenes wat hierdie boek lees mag daar dalk oomblikke wees waar hulle wonder of hierdie verhaal gepas is vir 14- of 16-jariges maar dit moet in gedagte gehou word dat hoewel volwassenes dalk meer wêreldwys is het ons selde ’n duidelike prentjie van dit wat tieners elke dag ervaar.
Hartklop gaan nie net oor Lumi wat haar sewentiende verjaardag wil oorleef, of oor die kruisfae wat haar hart gesteel het nie. Dit gaan ook oor vriende wat daar is vir mekaar sonder om twee keer daaroor te dink, ongeag hoe hulle agtergronde verskil of die onsekerheid van die toekoms wat voor hulle lê.
Combrinck meen dat dit nie net vir haar belangrik was om moeilike onderwerpe in die boek te behandel nie maar dat sy ook graag wil hoop skep. Een wyse waarop sy dit goed regkry is deur die verhouding tussen twee van die ondersteunende karakters wie se storie wys dat liefde opreg is en – hopelik – die onmoontlike kan oorkom. Bowenal is Hartklop ’n herinnering dat niemand beheer het oor wat die toekoms inhou nie maar dat die hede en die mense saam met wie jy dit oorleef op die ou end meer saak maak as enigiets anders.
Hartklop is by alle goeie boekwinkels beskikbaar asook aanlyn. Die boek is ook in e-Boek formaat beskikbaar op Lapa Uitgewers se webtuiste.