Hoe AfriForum jou ondersteun – selfs as jy in die buiteland is

15/01/2025
| Deur Sue-Ann de Wet
Hoe AfriForum jou ondersteun – selfs as jy in die buiteland is

AfriForum Wêreldwyd is meer as net ’n omvattende aanlyn platform – dit is ’n tuiskomplek vir derduisende Suid-Afrikaners reg oor die wêreld waar hul met mekaar kan skakel en mekaar ondersteun. Dit is ’n lewenslyn vir Suid-Afrikaners reg oor die wêreld. Of jy onlangs jou tasse gepak het, of al jare lank in die buiteland woon, AfriForum Wêreldwyd verbind mense deur hul moedertaal, kultuur, en gemeenskap.

Ons bied al nagenoeg twintig jaar ’n aanlyn tuiste vir ons mense in die buiteland. Hierdie unieke inisiatief help jou om bande met Suid-Afrika te behou, terwyl dit ook waardevolle ondersteuning bied in die lande waar jy jouself mag bevind.

Hier is hoe AfriForum jou kan ondersteun, of jy in Londen, Sydney of Vancouver woon.

AfriForum Wêreldwyd se sosialemediakanale maak dit maklik om op hoogte te bly van nuus, geleenthede en inspirerende stories van Suid-Afrikaners oor die wêreld. AfriForum Wêreldwyd se Facebook-blad is ’n uiters gewilde interaktiewe kuierplek vir alle Suid-Afrikaners, plaaslik en in die buiteland. Ons maak seker dat jy nooit geïsoleerd voel van jou geboorteland nie. Deur ander sosialemediaplatforms soos Instagram, X, YouTube en Pinterest, bly jy nie net op hoogte van nuus nie, maar kan jy deelneem aan gesprekke oor sake wat vir jou saak maak. Met ’n aktiewe teenwoordigheid op sosiale media is dit maklik om deel van die gemeenskap te bly.

AfriForum Wêreldwyd bied gratis advies oor belangrike sake soos burgerskapaansoeke, immigrasiedokumentasie, en selfs finansiële kwessies. Hierdie dienste word ondersteun deur ’n netwerk van kundiges wat ervare is in ekspataangeleenthede. Ons het reeds navrae uit 51 lande hanteer – ’n bewys van die omvang van ons ondersteuning.

Die Wêreldgids is ’n uitgebreide aanlyn gids wat jou verbind met diensverskaffers, ondernemings en selfs gemeenskapsorganisasies in jou nuwe tuiste. Van loodgieters en haarkappers tot onderwysers en kultuurbyeenkomste – hierdie gids help jou om in jou moedertaal dienste van gehalte te vind, maak nie saak waar jy woon nie.

AfriForum Wêreldwyd streef voortdurend daarna om Afrikaners op hoogte te hou van die beste byeenkomste in die buiteland.

AfriForum Wêreldwyd is trots om betrokke te wees by die bevordering van Afrikaanse musiek en kultuur oorsee. Ons sien die waarde van hierdie inisiatiewe in die behoud van Afrikaanse taal en kultuur en ondersteun konserte soos Afrikaans is Lekker, feeste en geleenthede wêreldwyd. Vir baie mense is hierdie geleenthede nie net vermaak nie, maar ’n kragtige manier om hul kulturele identiteit te behou, hul moedertaal te vier en bande met mede-Afrikaanssprekendes te versterk.

Afrikaans leef nie net in Suid-Afrika nie – dit leef in elke liedjie, in elke gesprek en in elke gemeenskap wat saamwerk om ons kultuur lewendig te hou.

Vir diegene wat die besluit neem om terug te keer na Suid-Afrika, bied AfriForum Wêreldwyd onmisbare hulp. Ons “Kom huistoe”-veldtog, wat reeds in 2003 geloods is, bied gratis advies oor burgerskapaangeleenthede, immigrasiedokumentasie, finansies, bestuurderslisensies en selfs werkverskaffing. Hierdie veldtog maak die oorgang terug na Suid-Afrika baie minder stresvol en help om praktiese uitdagings aan te spreek.

Wanneer ’n geliefde emigreer, is dit nie net hulle wat aanpassings moet maak nie – die familie wat agterbly, beleef ook uitdagings. Ons weet dat emigrasie nie net ’n lewensveranderende werklikheid vir die kind wat emigreer is nie, maar ook vir die mense wat agterbly. AfriForum bied ondersteuning deur artikels te plaas wat deur kundiges geskryf is, asook sosiale geleenthede waar families hul eie netwerk kan bou.

Ons help ook ouers om meer vertroud te raak met hulle kinders se nuwe werklikheid. Deur in te teken op die Kollig-nuusbrief kan ouers lees oor die kultuur, gewoontes en spesifieke uitdagings van die land waar hulle kinders woon. Om jou kind se nuwe werklikheid te verstaan, kan jou help om meer ondersteunend te wees en sinvolle gesprekke te voer.

“Saam is ons sterker,” is nie net woorde nie – dit is ’n belofte aan alle Afrikaners regoor die wêreld. Deur hierdie netwerk te gebruik, kan jy jou bande met jou geboorteland behou, terwyl jy ook die ondersteuning ontvang wat jy nodig het in jou nuwe omgewing.

“Die tuiskomplek vir ons mense in die buiteland” is meer as net ’n slagspreuk. AfriForum Wêreldwyd is ’n dinamiese netwerk wat voortdurend strewe om kontak met elke Suid-Afrikaner te hou wat Suid-Afrika verlaat het. Of jy net wil saamkuier in Afrikaans, advies benodig, of wil deel wees van ’n netwerk wat jou verbind tot jou kultuur en taal, AfriForum Wêreldwyd is jou tuiste.

Ons sien uit daarna om dié tradisie voort te sit en wil alle Suid-Afrikaanse burgers na die beste van ons vermoë dien – ongeag waar jy jouself bevind. Ons verwelkom voorstelle en versoeke, stuur vir ons ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za.


Sluit aan, bly ingelig en bou saam aan ’n netwerk wat oor grense heen strek, maar altyd tuis voel. Besoek AfriForum Wêreldwyd se webtuiste vandag en ontdek hoe ons jou kan ondersteun. Want maak nie saak waar jy is nie – jy bly familie.

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels