Hoe ek (en jy!) die toiletpapiertekort veroorsaak het

03/04/2020
| Deur Marisa Haasbroek
boris-dunand-Wa9ibpKst3I-unsplash-scaled

Ek het dalk per ongeluk die toiletpapiertekort in Amerika veroorsaak.

Dit het só begin: My een niggie wat in Londen bly het ’n foto van dolleë winkelrakke op ons familie se WhatsApp-groep gedeel. En toe doen my ander niggie in Nieu-Seeland dit ook.

As daar aan die bokant én die onderkant van die wêreld te min toiletpapier is, moet ek aan my kant liewer plan maak, sê ek vir myself. Dis toe dat ek afsit winkel toe en toiletpapier loop koop.

Sak, Sarel! Moet tog nie so oordryf nie. Jy het nie die hele tekort veroorsaak nie. Dís wat my ma sou sê as ek hierdie storie vir haar vertel.

Maar stel jou voor my storie is waar, net vermenigvuldig met ’n paar miljoen keer. G’n wonder dat die gebrek aan toiletpapier oral in die wêreld akuut is nie.

Twee beroemde mense wat duidelik nie op dieselfde WhatsApp-groepie was nie is Isaac Newton en Gottlieb Leibnitz. Sonder dat die een van die ander een geweet het, het hulle Calculus gelyktydig ontwikkel. Met verskillende somme, maar basies dieselfde idee. Agterna sou die twee verskriklik stry oor wie se idee dit eerste was.

Hoe en waar Newton sy weergawe van Calculus ontwikkel het, is in hierdie krisistyd van die koronavirus nogal interessant.

In 1665 het ’n builepesepidemie in Londen uitgebreek. Die Swart Dood, soos wat dit ook bekend was, het vir die eerste keer in 1331 in China voorgekom. Oor ’n tydperk van meer as 300 jaar het dit deur ’n reeks siklusse opgevlam en dan weer afgeplat en miljoene lewens geëis. Dit is versprei deur vlooie wat veral op rotte voorgekom het.

Toe dit weer in 1665 opvlam, is mense aangesê om uit Londen pad te gee. ’n Entjie van Londen af is die Universiteit van Cambridge ook gesluit. Een van die studente wat deur hierdie besluit geraak is, was Isaac Newton, toe 23 jaar oud.

Hy het pas sy B-graad aan die universiteit voltooi, maar weens die builepesuitbraak moes hy uitwyk na sy tuisdorp, wat omtrent so 100 km vanaf Cambridge geleë was.

Toegegee, en as die storie waar is, het hy sommige dae net onder appelbome gesit en gekyk hoe appels grond toe val. Maar tydens hierdie twee jaar tuis het hy meestal hard gewerk aan sy drie groot teorieë wat hom beroemd sou maak – oor hoe planete beweeg, oor lig en oor kleur.

Die vallende appels het egter glo gehelp om sy insig te versnel. Maar hy het ook ’n manier nodig gehad om iets groot en kompleks beter te verstaan deur dit in derduisende klein deeltjies op te breek. Dis waar Calculus in die prentjie kom.

In hierdie stadium hoop ek daar is genieë op al sewe kontinente aan die swoeg om ’n teenmiddel vir die koronavirus te ontwikkel. Ons kan later baklei oor wie die Nobelprys hiervoor moet kry.

Die uitbraak van builepes in Newton se leeftyd was die laaste een. Hoewel dit vandag nogal sou gehelp het, weet ons nie presies hoe die siekte uiteindelik uitgewis is nie.

Een storie is dat die Groot Brand van 1666 in Londen dit vernietig het. Helaas, dis nie waar nie.

Deesdae is die meeste historici dit eens dat behoorlike kwarantynmaatreëls en beter persoonlike higiëne die siekte sy nekslag toegedien het.

Dus: was jou hande en hou ander mense op ’n afstand.

En wees dankbaar vir WhatsApp-groepe wat ’n mens darem nog in kontak met jou familie die wêreld oor kan laat hou. Selfs al veroorsaak dit toiletpapiertekorte.

Deel op

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels