Inpaklysie vir noodsaaklikhede om stresvry met ’n kleuter te reis

19/06/2024
| Deur Natasha Viljoen
Picture2

Deur Natasha Viljoen

’n Reis met kleuters is nie ’n alledaagse uitstappie nie. Om só in te pak dat jy in al hul behoeftes kan voorsien en hul gerief verseker, is die sleutel tot ’n suksesvolle gesinsreis. In hierdie gids sal ons jou vertel watter noodsaaklike items om vir jou kleuter in te pak sodat julle albei ’n stresvrye vakansie kan hê.

  1. Klere en bykomstighede
    • Klere wat geskik is vir die weer: Pak klere in wat geskik is vir die bestemming se klimaat en sodat jy jou kleuter in lae kan aantrek vir verskillende temperature. Onthou altyd om ’n ekstra stel klere in te pak vir daguitstappies, want kleintjies is geneig om hulle te bemors.
    • Swemklere: As julle strand toe gaan of as daar ’n swembad by julle bestemming is, onthou die swemklere, swemdoeke en ’n sonhoed. Die meeste hotelle voorsien handdoeke, maar vind liewer vooraf uit of jy nie dalk jou eie handdoeke moet saamneem nie.
    • Gemaklike skoene: Pak stewige, gemaklike stapskoene in.
    • Hoed en sonbril: Beskerm jou kleuter teen die son met ’n breërandhoed en ’n sonbril wat UV-strale blokkeer. En onthou die sonskerm.
  2. Slaapbenodigdhede
    • Draagbare babawiegie of -bed: Maak seker jou kleuter het ’n bekende, veilige slaapplek. Daar is baie, gerieflike reisvriendelike wiegies beskikbaar. Vind altyd vooraf by jou verblyf uit of daar ’n wiegie beskikbaar sal wees.
    • Komberse en troosgoedjies: Pak ’n klein trooskombersie of sagte speelding in om vertroosting en bekendheid te verskaf. Toe ons dogtertjie nog baie klein was, het ons snags een van mamma of pappa se hemde in haar bedjie gesit om haar veilig en geborge te laat voel
    • Verdonkergordyne: Dit is nuttig om ’n slaapvriendelike omgewing te skep, veral tydens daardie Europese somervakansies wanneer die son eers om 23:00 sak. Hotelle is gewoonlik goed toegerus met verdonkergordyne, maar nie alle Airbnb’s nie. Pak reisvriendelike verdonkergordyne in om die kamer te verdonker sodat almal lekker kan slaap.
  3. Voeding en hidrasie

Reisvriendelike versnaperinge: Pak ’n verskeidenheid gesonde versnaperinge in om jou kleuter tydens die reis versadig te hou. Verrassingspakkies sal sommer vir vermaak ook sorg. Pak altyd eetgoed in wat jy weet jou kind sal eet, maar sluit ook ’n paar nuwighede in om tot die avontuur by te dra.

Besoek “Snack time in the skies” vir meer inligting hieroor.

  • Tuitkoppies en waterbottels: Hidrasie is van kardinale belang vir kinders en volwassenes wat op reis is, so pak morsbestande koppies en bottels in om ’n gemors te voorkom. Die meeste lughawens laat toe dat water of melk vir kinders deur sekuriteitskontroles gedra word.
  • Baba-eetgerei en -bakkies: As jou kleuter vaste kos eet en jy reis na ’n plek wat nie spesifiseer of hulle eetgerei vir kinders voorsien nie, sal dit nuttig wees om hul eetgerei in te pak. Moenie groot goed inpak nie; beperk dit tot reisvriendelike eetgerei.
  1. Gesondheid en veiligheid
    • Noodhulpsakkie: Pak pleisters, antiseptiese doekies, pynstiller vir kinders en alle voorskrifmedikasie in. Wees op die uitkyk vir ons toekomstige blog oor wat ons vir ons kleinding inpak wanneer ons op reis gaan.
    • Dokumentasie: Hou ’n afskrif van jou kleuter se mediesefondskaart en alle nodige mediese inligting byderhand. Maak ook seker dat naby familie kopieë daarvan byderhand of digitaal het om op kort kennisgewing te verskaf.
  2. Vermaak en iets om die aandag af te lei
    • Speelgoed- en boeksak: Besluit wat die beste vir jou sal werk. Ons gebruik graag ’n toiletsak wat oopvou en aan die sitplek voor ons kan vashaak tydens ’n vlug, maar dit moet klein genoeg wees om in ons bagasie te pas sodat ons dit maklik in die hande kan kry. Ons pak dit vol klein nuwighede waarmee ons dogtertjie nog nie gespeel het nie en sit van haar gunstelinge tussenin om ’n gevoel van bekendheid te gee. Ons pak ook altyd ’n bekende boek in vir slaaptydstories.
    • Tablet of draagbare DVD-speler: Laai kleutervriendelike toepassings, speletjies en vermaaklikheidsprogramme op. Ons gunstelinge is YouTube Kids en Netflix, aangesien jy die skerm kan sluit.
    • Inkleurgoed: Pak kryte, inkleurboeke en plakkerboeke in om jou kleuter besig te hou tydens rustye. Maak seker dat plakkers verwyder kan word sonder om merke op oppervlaktes te laat.

Besoek “High-flying fun” vir meer inligting hieroor.

6. Toiletware en doeke

  • Doeke en handlappies: Vat genoeg doeke en handlappies vir jou reis en neem moontlike vertragings in ag. Jy kan nog doeke en handlappies in ’n supermark by jou bestemming koop.
  • Doekruilmat: ’n Draagbare doekruilmatjie is handig om langs die pad doeke te ruil. Ons hou ook daarvan om weggooibare doekruilmatjies te gebruik, soms net vir die gerief en ander kere vir plekke wat erger lyk as wat ons verwag het.
  • Babasjampoe en -seep: Gebruik reisgrootte toiletware of gooi klein hoeveelhede in reishouers. As jou kind ’n sensitiewe vel het, moenie nuwe goed by jou bestemming koop nie; hou eerder by wat jy weet vir jou kind werk.

7. Reistoerusting

  • Stootwaentjie en babadrasak: ’n Liggewig, opvoubare stootwaentjie en/of ’n gemaklike babadrasak is noodsaaklik vir gebruik op lughawens, by besienswaardighede en in stadstrate. Onthou jou drasak as jou baba nog baie klein is. Soms kry jy nie jou stootwaentjie op ’n lughawe waar jy oorstap nie, maar eers by jou eindbestemming. Dan is dit nuttig om ’n drasak by jou te hê.
  • Karstoeltjie: As jy ’n motor huur, moet jy besluit wat die gerieflikste is: om jou eie karstoeltjie saam te vat of een saam met die motor te huur. Die meeste lugrederye sal jou baba se karstoeltjie sonder bykomende koste vervoer. Ons verkies altyd om ’n karstoeltjie by die motorverhuringsmaatskappy te bespreek, veral vir kort reise. Dit beperk jou bagasie tot die minimum.

Die sleutel tot ’n stresvrye reis met ’n kleuter is voorbereiding, so maak vroegtydig ’n kontrolelys en kontroleer alles vooruit. Besoek gerus ons Mom’s bag vir wenke oor wat om in te pak. Dit sal jou kleuter gelukkig hou en bydra tot ’n aangename reiservaring vir die hele gesin.

Lees ook: Reiswenke: Toptienbeplanningswenke vir wanneer jy saam met jou kinders reis

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels