Deur Robyn Vogels
Ek dink ek praat namens Suid-Afrikaners regoor die wêreld wanneer ek sê dat ons ietwat nutteloos voel. Ons voel vervreemd van die beelde wat ons uit ons vaderland sien stroom. Ek het vir die eerste keer ’n geweldige skuldgevoel ervaar toe ek gisteraand in my warm, veilige bed klim, en ek is seker dat ek, soos ander wêreldwyd, deurentyd my foon vir boodskappe dopgehou het.
Ons broers in Suid-Afrika het beide figuurlik en letterlik wapens opgeneem om besighede, gesinne en die lewensbestaan van hulle bure te beskerm. Dit maak ons trots op hulle.
Het ons ooit banger gevoel? Mense vergelyk die huidige situasie met die 1980’s. Ek kan nie onthou dat ek destyds as ’n sestienjarige ooit so bang was vir die toekoms van die land nie. Ons het steeds goeie orde, gesondheidsorg en onderwys gehad. Ek kan nie onthou dat my ooms en ouers op die sypaadjie voor die skool moes saamstaan teen ’n vyand nie.
Vir my is die enigste ooreenkoms met die 1980’s waarskynlik die gevoel van kameraadskap. Diegene wat in die 1980’s grootgeword het, het só saamgetrek na ’n bomaanval by die rugby, of toe ’n winkelsentrum opgeblaas is. Die gees van Mandela sou kameraderie en vrede vir almal bring. Ons het ’n land gehad wat verenig is met die potensiaal om te floreer, om daardie reënboog met ’n pot goud te wees.
Onder diegene van ons wat ons regoor die wêreld bevind, is daar ’n soort verdwaasde lamheid. Die kontras van die WhatsApp-video’s van geweld wat deur die nag op groepe rondgestuur is, teenoor die rustige beeld van ’n pa wat sy dogtertjie in die park op ’n skoppelmaai stoot wat ek vanoggend op pad werk toe gesien, laat my laat hoe daar sulke kontraste in die wêreld kan wees. Hoe kan ek vanoggend verby werkers ry wat bome plant, wanneer mense tuis hulle fabrieke afbrand, hulle eie inkomstebronne vernietig?
As ons eerlik is, is ons verlig dat ons nie daar is nie. Ek sê dit met spyt op een vlak, maar met liefde op ’n ander. Spyt, omdat ons nie direk die gevoel van kameraadskap ervaar wat diegene wat hulle woonbuurte op die straathoeke beskerm, voel nie. Liefde, omdat my man nie na die kluis moes gaan om ’n wapen uit te haal en kom wat wil, uit te gaan nie. Skuldgevoelens? Skuld kan verskillende oorsake hê. Die skuldgevoelens wat ek gisteraand in my warm bed gevoel het, is anders as skuldgevoelens oor emigrasie. Oor laasgenoemde moet daar nie skuldgevoelens wees nie. Ons het ’n standpunt ingeneem ‒ die besluit om stil te vertrek, en daaroor moet daar geen skuldgevoelens bestaan nie.
Ons mag nou wel Suid-Afrika verlaat het, maar dit verlaat ons nooit nie. Ons wortels, ons voorgeslagte, ons geskiedenis. Dit is onlosmaaklik deel van wie ons is. Ons deel dit met almal daar, niks kan dit verander nie, selfs nie om dit te ignoreer nie. Laat ons nie nutteloos, skuldig of hartseer voel nie. Vind troos daarin dat ons almal se moed toejuig en in die gees langs hulle staan.
Niemand van ons is alleen in die wêreld nie.
Deel op
Nuutste artikels