Kersfees in die buiteland: Die Odendaals se Kersfeesvieringe oor die jare
Deur Alecia Odendaal
As jy aan Kersfees dink, is dit sinoniem met familie en samesyn, maar as jy in die buiteland woon, is die Kersfeesvieringe ’n bietjie anders.
Ons probeer ten minste elke tweede jaar Kersfees saam met familie bestee, hetsy in die land waarin ons woon, of in Suid-Afrika. Maar as dinge nie so uitwerk nie, gryp ons die geleentheid aan om nuwe dinge te leer of net die oomblik in te neem om ’n ander kultuur te beleef as dit waaraan ons ons hele lewe gewoond was. Ons eerste Kersfees alleen was in ’n klein dorpie, Galveston, in Texas aan die Golf van Mexiko. Ons was jonk en sommer net bang om alleen te wees vir Kersfees. Ek dink ons het in egte Amerikaanse gees heeltemal te groot gegaan! Die Amerikaners vier Kersfees baie soos wat ons dit vier, met Oukersaand en Kersdag ’n groot familiegebeurtenis.
Ons eerste Kersfees alleen in Europa was eintlik heel lekker. Ons het pas huis gekoop en besluit ons gaan eers die volgende jaar vir Kersfees weer huis toe, min wetend dat die Covid-pandemie ons sou verhoed om binnekort weer huis toe te kon gaan. Ons het Kersmarkte in Duitsland saam met vriende besoek, Glühwein gedrink (en self gemaak!) en die gees oor Kerstyd in Europa ingedrink. My man het ook nog aan die Kersvaderwedren deelgeneem saam met ongeveer 300 ander Kersvaders.
Covid-19 het ons planne in die wiele gery om in 2020 vir Kersfees na Suid-Afrika toe terug te gaan. Die atmosfeer was ook maar ’n bietjie gedemp met dié dat daar nie Kersmarkte was nie. Die reëls was baie streng in Nederland en ons was ’n groep vriende wat Kersfees gevier het met gordyne wat toegetrek is sodat die polisie nie kon sien dat ons meer as vier mense saam in een huis was nie. Wat ’n rare tydperk!
Natuurlik het ons ’n paar Kerstruie in ons kas – julle hoef nie eers te wonder nie. Na my mening kyk my man elke jaar of hy sy vorige jaar se lelike Kersfeestrui kan troef. Ons probeer ook elke jaar ’n Kerspartytjie hou; of dit nou in November of Desember is, ons gaan nie die geleentheid laat verbygaan om die lewe te vier nie! Ek dink ons Odendaals is nogal goed daarmee om met Kersfees oorboord te gaan, en só het ons twee jaar gelede die grootste lewendige kersboom gekoop wat ons by die mark kon kry. Nadat ons vir die boom betaal het en selfvoldaan aan die verkoopsdame verklaar het dat ons dit sommer self gaan vervoer, het ons geleer ’n boom van langer as 2 meter pas nie maklik (eintlik glad nie!) in ’n kar nie. Die boom het uiteindelik plek in die kar gekry – maar ek en my ma moes huis toe stap! By die huis gekom, het die boom nog minder in die huis gepas en my man moes die top daarvan afsny. Kom ons sê maar net ons het ons les geleer en gaan hierdie keer ’n normale grootte boom bestel én laat aflewer.
My familie het twee jaar gelede oor Kerstyd kom kuier en gelukkig het my skoonsus ook ’n Kersfeesgees. Ons reël toe ’n fotosessie met almal in Kersfeesnagklere – behalwe my arme Pa: Ons het hom in ’n Kersvaderpak ingedwing. Ons het hom darem met ’n Andre Rieu-Kerskonsert in Maastricht vir sy opoffering bederf, en dit was sommer ’n hoogtepunt vir ons almal.
Die winkels begin al middel-Oktober dinge vir Kersfees verkoop; dalk ’n bietjie vroeg, maar met die koue wat dan ook sy intog in die land neem, is dit seker heel gepas. In Nederland vier die mense die fees van Sinterklaas (ook bekend as Sint Nicolaas) op 5 Desember, en in die voorafgaande weke maak oud en jonk gereed vir Sinterklaas se intog in die land op sy perd, Ozosnel (o, so snel). Families eet saam en daar word altyd gedigte vir ’n spesifieke persoon uitgedink, wat dan voorgelees word, saam met ’n geskenkie. Die kinders kry meestal hul geskenke op 5 Desember (Pakjesavond) pleks van op Oukersaand of op Kersdag. Ons geniet die opwinding saam, maar vier nie self Pakjesavond nie; ons hou maar ons geskenke vir Oukersaand.
Dit is tradisie dat jy eers jou Kersboom ná Pakjesavond opsit. Ons gaan koop daarom altyd ons Kersboom vars by die mark die eerste naweek ná Pakjesavond.
Die Nederlanders vier 25 Desember en 26 Desember, Eerste en Tweede Kersdag. Ons is ook gelukkig dat hierdie twee dae nasionale vakansiedae is, aangesien dit soos tande trek gevoel het om van Suid-Afrika te kom na ’n land wat net vyf nasionale vakansiedae het.
Ons het sedert ons eerste Kersfees op ons eie met ’n tradisie begin om op Oukersaand ons eie gemmerbroodhuisie te bou en versier, en op Kersoggend reeds begin ons sommer aan hom te smul. Kersoggend is gevul met telefoonoproepe na ons families, ’n kerkdiens en mooi musiek, en dan begin die kosmaak en lekker weglê aan tradisionele Suid-Afrikaans disse. Ons is mal daaroor om Kerstyd saam met vriende of ander mense te bestee wat ook nie oor Kersfees saam hul families kan wees nie. Kerstyd is vir ons ’n tyd van samesyn. Dis heerlik om op Kersaand op die sitkamerbank te gaan lê met ’n vol maag en ’n hart wat nog voller is. Afstand tussen ons en ons geliefdes maak ’n klein deel uit van die groter prentjie van Kerstyd.
Die feesseisoen in Nederland word dan afgesluit met ’n tradisie genaamd Nieuwejaarsduik. In elke dorp kom die mense bymekaar en hardloop dan die see, rivier of meer in hul dorp in en “duik” die nuwe jaar tegemoet in temperature wat daardie tyd meestal benede vriespunt is. Ek dink op Nuwejaarsdag 2025 gaan twee van ons drie Odendaals saam met die Nederlanders ’n opwindende nuwe jaar induik! Die derde Odendaal, ons seuntjie van 20 maande, gaan maar net staan en toekyk.
Lees ook: Huisbouavonture in Nederland