Kersfees in Nederland

09/12/2021
| Deur AfriForum Wêreldwyd
melani-young-7-1

Terwyl die begin van Desember ’n vreugdevolle tyd is waartydens ons vol verwagting uitsien na ’n see- of bosvakansie en Kerslysies wat deur die kleinspan opgestel word, hou dié tyd van die jaar ook diep verlange en nostalgie in. Met Kerstyd dink ons altyd aan die kinders en kleinkinders of die broers en susters wat aan die ander kant van die wêreld die viering op hulle eie voortsit. Ons het die week met Melani Young gesels om te hoor hoe hulle Kersfees in Nederland vier.

1.  Is daar interessante Kersgewoontes en -tradisies?

Met die aanbreek van ons eerste Kersseisoen in Nederland was ek so verward met al die vreemde tradisies en Sints, ek het nie geweet wanneer om vir watter Sint te sing, te soek of te verwelkom nie. Die fyner detail bly steeds vir my ’n raaisel. Dit is ’n mondvol, maar ek deel met julle so bietjie van wat in Nederland gebeur vanaf November.

Die feesseisoen begin met Sint Maartensdag op 11 November. Kinders loop vroegaand met lanterns (wat hulle self maak) van deur tot deur en sing lawwe Sint Maarten-liedjies in ruil vir “snoep” en/of ’n “mandarijn”. Dit is ’n jolige storie – die woonbuurte is vol singende kinders met sakke vol lekkergoed. 

Die eerste Saterdag ná 11 November is die dag waarop Sinterklaas (Sint Nicolaas) vanuit Spanje op sy boot in Nederland arriveer met sy wit perd, Ozosnel, en al sy Piete. Al wat leef en beef wag vir Sinterklaas wat lekkergoed vanaf die boot gooi na die juigende mense op die wal. Kinders kan ook elke aand op TV Sinterklaas en sy Piete se avonture volg. Die verskillende Piete sorg altyd vir groot vermaak, bv. Stoute Piet wat klaskamers deurmekaar maak of Choco Piet wat sjokoladeletters maak en in kinders se skoene los. Vanaf die dag wat Sinterklaas arriveer tot “Pakjesavond” op 5 Desember sit kinders saans ’n skoen uit met ’n wortel vir Ozosnel en as die kinders gelukkig is, word daar vir hulle ’n klein geskenkie of ’n sjokoladeletter gelos.

5 Desember is “Pakjesavond”, die aand voor Sinterklaas verjaar. “Pakjesavond” is groot pret en dis die aand wanneer geskenke uitgedeel word. Gewoonliik sal Kersbome eers ná “Pakjesavond” opgesit en versier word.

2.   Verkies julle ou tradisionele eetgoed en vierings of vier julle Kersfees op nuwe maniere?

Kersdag is ’n familiedag, so ook 26 Desember. Families eet saam, maar ongelukkig is gerookte ham, skaapboud en gebraaide aartappels nie op die spyskaart nie. Hier is “gourmetten” baie gewild as ’n Kersete. Dit bestaan uit ’n groot verskeidenheid vreemde klein kositems wat jy in ’n klein pannetjie gaarmaak op iets wat amper lyk soos ’n “raclette”-plaat. Dis baie sosiaal en ’n groot gekuier om die etenstafel, soos die Nederlanders sê – “echt gezellig”.

Gedurende die lang feestyd is daar vele pragtige en vrolike “oliebollenkraampjes”. Dié oliebolle is soos ’n “donut” in die vorm van  ’n tennisbal met ’n gesonde strooisel versiersuiker bo-op wat onmiddellik afsak na jou heupe nadat jy dit geëet het. Gelukkig is hierdie kilojoulebelaaide lekkerny net twee maande van die jaar beskikbaar! Oliebolle is ook ’n wonderlike plaasvervanger vir Suid-Afrikaanse vetkoek en kerriemaalvleis.

Wat ons Kersete betref, vind ons die klein kossies in klein pannetjies nog te volksvreemd en hou ons maar by die gerookte ham, skaapboud en gebraaide aartappels.

Dis ’n wonderlike tyd van die jaar in Nederland en jy kan nie help om ook ingetrek te word by die opwinding van die feesvieringe en hul mooi ou tradisies nie. 

3.   Is daar enige ander interessante tradisies in Nederland?

Die Nederlanders doen baie moeite om hul huise op te kikker met liggies. En met die son wat al 17:00 sak, is dit ’n fees vir die oog om vroegaand deur die buurt te stap of om op die trem te spring en na Amsterdam se liggies te gaan kyk. Verlede Kersfees het ek nog tot verhaal gekom ná al die Sints so onverwags op my toegesak het, maar hierdie jaar is ek gereed en lyk ons huis ook soos ’n verligte krismisboom!

Ons seuns is ’n bietjie oud vir die Nederlandse Novembertradisies, maar hulle het dadelik besluit hulle is nie te oud vir “Pakjesavond” nie. So nou deel ons op Pakjesavond en Oukersaand geskenke uit (ons seuns kan hul geluk nie glo nie). 

Deel op

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels