Deur Dirk Scheepers
Kersfees in New York is ’n hengse affêre. Geen uitgawe word gespaar om elke woonstel en winkel met liggies en kersbome te versier nie. Op amper elke straathoek is daar ’n persoon wat klokke lui om geld vir die Salvation Army in te samel. Ysskaatsbane word in Central Park opgerig en een Saterdag – net hier kort voor Kersfees – is die strate vol duisende mense wat soos Kersvader aantrek en aan SantaCon deelneem. Dis nou waar hulle van kroeg tot kroeg drink-loop vir liefdadigheid.
Sachs op 5de Laan se hele fasade is toe onder die liggies en word deur kersmusiek begelei. In Noord-Amerika spaar mense hul vakansiedae vir die somervakansie van Junie tot Augustus, met die gevolg dat meeste mense by die werk is tot en met 24 Desember. Kersdag is ’n vakansiedag maar daar is nie iets soos “Boxing Day” nie, so mense is 26 Desember terug by die werk.
Teen hierdie tyd van die jaar is dit ook bitter koud en almal sukkel deur die sneeu om geskenke te gaan koop of om ’n koppie boeretroos te kry, al is dit net om die koppie vas te hou en jou hande te ontdooi. Ja, die sneeu is betowerend as dit eers begin val en alles onder ’n wit laag bedek, maar dit hou nie lank nie. Die sneeu in New York verander vinnig in ’n grys-swart nat spul as gevolg van al die verkeer en besoedeling. As die kwik tot onder vriespunt val, verander die sagte sneeu in klipharde ys wat jy moet skraap om dit van jou motor se ruit af te kry.
Soos dit Amerikaners betaam, word daar in die meeste huise ’n groot Kersete voorberei. Eintlik begin die fees die maand voor Kersfees met Thanksgiving en dit voel vir my soms asof daar net vir ’n hele maand geëet word. Dit begin met kalkoen (in die oond of in olie gebraai), spring oor na mashed potatoes toe, strompel verder in corn bread in en eindig dan in appeltert. Dan word die hele proses herhaal met ander disse soos corn pudding, groenboonkasserol en macaroni-en-kaas met ’n pekanneuttert vir nagereg. As die feestyd verby is, rol die mense Januarie in die gimnasiums in om hierdie oortolligheid te probeer afwerk.
Daar is wel ’n ongetwyfelde gevoel van opwinding en broederskap gedurende Kerstyd in New York. Die res van die jaar is die norse New Yorkers ongeskik en haastig maar wanneer Frank Sinatra se Kersalbum oral speel, voel dit amper asof die plek ’n bietjie vriendeliker word. Die simpel toeriste wat die roltrappe blokkeer of die sypaadjies vir “selfies” vol staan, word vriendelik aangeraai om opsy te staan. Enige ander tyd van die jaar sal jy gevloek word dat die see jou nie kan skoon was nie…
Lees ook Uit en Tuis met Dirk Scheepers