Deur A.D. Cloete
En so kom die kort wegbreek tot ’n amperse einde… Ons verduur goed gegrimeerde lugwaardinne wat vrugtesap in netjiese plastiekglasies aanbied vir reisigers wat eintlik net wil rus. Want hulle was weg met vakansie, ja, maar van rus was daar weinig sprake.
Nog voor die wegbreekvakansietjie oor die tydbult kom loer het, was die lys doendinge al klaar in gelid: in ’n lyn opgestel en afwagtend.
Nou is die meeste van die dringende doendinge van jou lys geskrap, maar rus? Nee, ongelukkig was daar te min tyd daarvoor.
So is vlieg nou ook nie meer ’n luukse vorm van vakansiereis nie – dit het broodnodige rustyd geword. Ja, hulle kan maar al die vlugte “sleep liners” maak. Dit behoort goed af te gaan by die grootste deel van die mark.
’n Paar jaar gelede het Cell C (een van Suid-Afrika se selfoondiensverskaffers) ’n soort sekretaressediens aangebied en dit voel vir my amper elkeen van ons kan doen met so ’n sekretaresse. Want weet jy, as jy nou so met lang rukke uit die land weg was, sou dit nogal handig wees as iemand vinnig kan raad gee oor bv. wie die betroubaarste motorbande en sporing doen, wat die nuutste koerier- en/of postariewe is, wie nou die beste verhuisingsmaatskappy is, wie tans die beste dataplanwinskopies bied, wie voor in die ry met “armed response” is en al sulke dergelike dingetjies wat gewoonlik gereël moet word in die korte wegbreekvakansietjie. ’n Mens verloor mos maar bietjie voeling met wie nuut op die markfront ingetree het, wie opgang gemaak het, wie sommer net sleg uitgeval het en so aan. So ’n flinke diens wat sommer so met een oproep vir jou die heel bestes kan aanbeveel en die regte kontakbesonderhede kan gee, kan nogal tyd spaar en dalk net maak dat daar werklikwaar kans is vir rus ook.
Nietemin kan ’n mens nie anders nie as om, noudat mens so ’n stilsitkansie het, na te dink oor hoe jy tóg opgelet het hoe netjies die SA-verkeer in hul bane hou, hoe heerlik vars die lug ruik na ’n nag se reën, hoe lekker die geure van die Spurs en die pizza-oonde en die braaivleisvure by jou verbygewaai het terwyl jy met oop vensters self straataf gery het, al was dit net om R50 se brandstof te gaan ingooi of melk te koop, of selfs sommer net vir ’n “slab” ordentlike tjoklit! O, en om die aangename, kosbare vryheid te geniet van ry-waarheen-jy-wil-op-die-ingewing-van-die-oomblik: Fantasties!
Dit herinner my nou ook aan “tasse pak”. Jy weet, daar is mos net iets daaraan om reg te maak vir ’n reis; om jou tasse te pak. Al is dit deesdae sommer net ’n 7 kg‑handbagasiesak – laasgenoemde is nou sodat ’n mens nie ure by die lughawe se bagasievervoerband jou rug regop moet hou terwyl jou oë en lam boude net wil horisontaal verkeer voor môre se terug-werk-toe nie. Tasse pak bring ook die Sinterklaas in ons na vore: Jy wil vir ieder en elk wat jou lewensreis en -bestaan draaglik en spesiaal maak ’n ou ietsie saamneem. Jy wil goeters inpak wat jou daar in die vreemde aan “huis” sal herinner. Jy dink, beplan en pak met sorg om ietsie van als in te kry en seker te maak niks belangrik bly agter nie. En so vergeet ’n mens natuurlik ook van die broodnodige, welverdiende rus, want jy skarrel tussen hierdie en daardie winkel om al die ou goedjies aangeskaf te kry, en by elke plek moet jy parkering soek, als sorgvuldig toesluit, karwag betaal, parkeerkaartjie oppas, op-en-af deur die gange en rye drentel op soek na waar jy nou laas weer daardie spesifieke iets gekry het, in die ry by die kassier staan, grawe in jou handsak vir die voordelekaartjie vir daardie spesifieke winkel, gou dink of jy ’n plastieksak sal neem om jou inkopies in te plaas… En dan nog soms voor dooiemansdeur omdraai as die winkel onverwags toe is omdat daar geen elektrisiteit of water is dié dag nie.
Ek wonder: Miskien moet ek volgende keer reeds in die vertreksaal van die lughawe solank my goete op die internet bestel en die toek-toeks dit tuis laat kom aflewer terwyl ek sit en rus? Sommer al op die eerste dag!