Krismis in Duitsland

12/12/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Krismis in Duitsland

Deur Carla van der Meulen  

Glühwein, Weihnachtsmärkte, Adventskalender, Plätzchen, der heilige Nikolaus, tradisie – dis maar ’n paar dinge waaraan ek dink as ek aan Kersfees in Duitsland dink.

Kersfees is nie net ’n fees in Duitsland nie; dis ’n gevoel, ’n atmosfeer wat met eeue se tradisies saamgaan. Kersfees is naas Paasfees een van die grootste Christelike feeste wat in Duitsland gevier word.

Adventskalender

Ek onthou toe ek vir die eerste keer oor Kerstyd hier was: Ek was verstom dat die Adventkalenders al September in die winkels te kope was. Adventkalenders bied nie net ’n sjokolademannetjie hier of ’n Lindt-beertjie daar nie. Dit is heelwat meer. Dit maak nie saak aan watter produk jy dink nie, daar is ’n adventkalender daarvoor: van die tradisionele sjokolade tot plante; van badgoed tot streng vegetariese peuselhappies; van juweliersware tot bier; van grimering tot pap en selfs medisyne – ja medisyne! (Sien foto Rotkäppchen)

Foto: ’n Adventkalender met medisinale vitamieninspuitings!

Liggies en Kersbome

Soos wat die dae korter en kouer word en die aande langer en donkerder, kom die kersliggies stadig te voorskyn, maar nie soos wat ons dit ken nie. In die gehuggie waarin ek woon, is daar nie groot, wilde en kleurvolle liggies nie, maar eerder gewone stringliggies (fairy lights) in wit of geel. Dit skep ’n rustige en warm atmosfeer, veral in die ysige oggende en aande. En dan kan mens nie van die Tannenbäume (dennebome) vergeet nie. Dis ’n hele dag se uitstappie om die perfekte regte, egte boom uit te soek – en soms mag jy hom sélf afkap. Die meeste mense koop reeds afgekapte bome op Kersfeesboomplase, maar op kleiner dorpies kan jy die woud ingaan en jou boom self uitsoek en afkap. Dit kan ure in beslag neem om die perfekte boom te vind. Soos Gouelokkies: nie te groot nie (anders pas dit nie in jou huis nie), maar ook nie te klein nie; nie te veel takke aan die een kant en te kaal aan die ander kant nie. Soek jy een met twee punte bo of net een punt? Hoe breed moet hy wees en is die loof nie té lig of té donker nie? Dis iets ongelooflik. As jy uiteindelik die perfekte boom vind, mag jy hom afkap, in ’n net verpak en huis toe vervoer. By die huis moet hy uit die net gehaal word, in sy staander geplaas word en vir ’n paar dae eers ‘oopgaan’. Die reuk in jou huis is onbeskryflik. Dit ruik soos natuur, maar ook Kersfees, en dan eers is dit tyd vir balle en liggies en alle Tannenbaumschmuck (denneboomversierings) wat jou hart begeer. Die boom bly dan tot middel- of einde-Januarie in die huis, waarna dit weer na die woud teruggeneem word om weer deel van die ekologie te word.

Kos

Dit voel vir my asof kos ’n baie groot en belangrike rol met Kersfees in Suid-Afrika speel. Hier in Duitsland is dit nie eintlik so nie. Omdat dit winter is, word daar op Oukersaand en Kersdag eerder soppe en bredies geëet. Die kersie op die koek is die glühwein en die Plätzchen (tradisionele Duitse Kersfeeskoekies, soos Schwarz-Weiß Gebäck (swart-en-wit-gebak) en die baie bekende Lebkuchen). Om ’n bietjie Suid-Afrikaanse tradisie in te bring, bak ek gemmerkoekies en kerkvensterkoekies (die koekies het die Duitsers nogal baie beïndruk).

Weihnachtsmärkte

Dit is regtig Kersfees sodra die Weihnachtsmärkte (Kersfeesmarkte) in die laaste week van November open. Daar is verskeie stalletjies met kos, glühwein, kersversierings, geskenke en speelgoed. Die markte is almal buite; so, maak seker jy trek warm aan en kry dadelik vir jou ’n glühwein mit Schuss (met skiet, of met skop, soos ons in Afrikaans sou sê) as jy dit met alkohol wil hê, of Kinderpunsch vir ’n alkoholvrye weergawe). Die warm sjokolade is ook heerlik! En mens kan nie op ‘n leë maag rondloop nie! Wat van jou tradisionele Currywurst mit Pommes (kerriewors en aartappels) of dalk sampioene in ’n roomsous? ’n Heerlike schnitzel met aartappelslaai, of dalk Reibekuchen (aartappelpannekoek, amper soos ’n hashbrown, maar beter) met Apfelmus (appelmoes)? Dit klink dalk vreemd, maar smaak heerlik. En vir nagereg dalk ’n crêpe met Nutella, ’n wafel of dalk nog ’n warm sjokolade. Party Kersmarkte het ook Viking-stalletjies, waar jy jou eie messe kan maak of jou bylgooitegniek kan toets.

Der heilige Nikolaus en Das Christkind

Dié deel van die bevolking wat Katoliek is, vier op 6 Desember Der Nikolaus Tag (Nicholaasdag) Hier is nie iets soos Kersvader nie. Nikolaus klop saam met Kneg Ruprecht (kneg Ruprecht) op 6 Desember aan jou huis. As jy deur die jaar ’n soet kindjie was, kry jy iets van Nikolaus. As jy stout egter was, kry jy ’n stuk houtskool van Kneg Ruprecht (maar dit gebeur selde).

Op die aand van 24 Desember kom das Christkind (Jesus) en bring vir jou geskenke wat jy die oggend van 25 Desember onder die boom vind en mag oopmaak.

Die weer en klere

Ek kon uiteindelik my droom van ’n lelike Kersfeestrui uitleef – hoewel dit ook sin maak omdat dit hier winter is. As ek vir mense vertel dat ons in plakkies en swemklere Kersfees vier, kry jy baie vreemde kyke. Ongelukkig kon ek nog nie ’n wit Kersfees vier nie; op die meeste ’n baie koue, nat Kersfees. Miskien word ons hierdie jaar verras.

Adventskränze

Nog ’n deel van sowel die Katolieke as Lutherse geloof is die vier Adventsondae wat tot Kersfees lei. Jy steek op elk van die laaste vier Sondae voor Kersdag ’n kers aan en sing Adventliedere uit die kerkgesangboek. Dit is nogal baie spesiaal en mens voel ’n rustigheid oor jou kom as die kerse so brand en almal sing.

Adventskranz (Adventkrans): Op die laaste vier Sondae voor Kersdag word daar elke dag een kers aangesteek. Al vier kerse brand dan op Kersdag.

Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Duitsland

Deel op

Nuutste artikels