Kruip in die modder – Pieter de Lange

21/10/2016
| Deur Sue-Ann de Wet
kruip-die-modder-pieter-de-lange

Ek kan goed onthou hoe ek een mooi, sonnige middag in die sewentigs in Wandsworth ná tennis sommer teruggedraf het huis toe. Meer as een motoris het vir my getoet en aangedui hulle dink ek maak ʼn spektakel van myself. Later, in die vroeë tagtigs, het my buurman in Highgate meer as een keer ewe gevra of ek koors het as ek ʼn entjie gaan draf het in die nabygeleë Hamstead Heath.

Ja, in die sewentigs en tagtigs was die Britte nie eintlik op oefening ingestel nie, maar dinge het drasties verander. As jy dink ons drink net tee en eet botterbroodjies hier op “moddereiland”, dan het jy dit ver mis. Ons het begin soek na iets weg van die meedoënlose roetine van die gimnasium, want ʼn mens is in elk geval altyd binnenshuis. Ek het al verskeie kere The Vitality British 10k London Run gedoen vir Starfish, die Suid-Afrikaanse MIV-liefdadigheidsorganisasie. Maar dié keer het ek begin navorsing doen oor die uithou-hinderniswedlope (endurance obstacle course races). Ek was verbaas oor hoe gewild en algemeen dié soort ding deesdae is.

Die keuse is baie wyd en by tye amper ʼn bietjie intimiderend. Die Tough Guy vereis byvoorbeeld dat voornemende mededingers ʼn doodsvrywaring teken en slegs 66% van die deelnemers slaag dan ook daarin om dié baie strawwe kompetisie te voltooi. Die Tough Mudder is seker die bekendste van dié soort byeenkomste en klink formidabel met die “Walk of Death” (ʼn plank oor vriesende water) en die sogenaamde “Electroshock Therapy”. Die Spartan-byeenkomste word in baie lande aangebied en hulle “Beast” bestaan uit 26 hindernisse oor ʼn afstand van 20 km. Die “Zombie Evacuation” het ʼn heel oorspronklike tema: jy het drie “lewens” wat aan jou gordel gekoppel word en jy moet hulle teen die “Zombies” (vrywilligers wat jou die heeltyd aanval) beskerm. As jy nog verder wil kyk, is daar die Nuclear Rush, die X-Runner, die Mighty Deerstalker in die nag in Skotland en die Total Warrior in die pragtige Meredistrik.

Ek en Christiaan het besluit op die 5 km-hinderniswedloop wat deur die Royal British Legion naby Tunbridge Wells aangebied word. Dis deel van hulle Major Series en die baan word deur soldate beman. Die weer was vir die hele week voor die byeenkoms baie aangenaam, maar toe die groot Saterdag aanbreek, was dit koud, mistig en nat. Op pad soontoe het die motors met hulle ligte aan gery al was dit tienuur in die oggend. Toe ons by Eridge Park aankom, was dit winderig en ʼn koel 12 ºC. Daar was die gewone maalstroom van deelnemers – party klaar vol modder en heel selftevrede, ander angstig besig met voorbereidings. Toe ons na die wegspringarea beweeg, kon ons nie help om op te let dat ons omtrent die enigstes was met ʼn gewone PT-kortbroek en frokkie of T-hemp nie. Die meer ervare deelnemers het langmoue aangehad en party het ook armbeskermers en handskoene vir die toue aangehad. Ek kon sien Christiaan bewe van die koue; my vetlagie het my ʼn bietjie gehelp. Die ergste tydjie is wanneer jy wag om weg te spring, maar die “sersant-majoor” het ons vinnig deur ʼn rondspring-warmmaakroetine gelei wat baie welkom was. Ons het almal “tags” aan ons hardloopskoene gehad, wat beteken dat jou tyd elektronies bepaal word, maak nie saak waar jy wegspring nie. Dit het gou duidelik geword dat die modder seepglad was. Geen wonder nie, want dit het heeloggend gereën en daar het amper ʼn duisend deelnemers reeds voor ons klaargemaak. Ek het ʼn goeie idee gehad wat om te verwag, want ʼn mens sien dit vooraf op jou rekenaar, maar dit was baie meer modderig en glad en nat as wat ek verwag het. Ons moes eenkeer onder doringdraad deur die modder seil. Ander plekke was die modderwater nogal diep en donker en jy moes voel-voel deurwaad. Die walle was so glad van al die honderde wat voor ons daar uitgeworstel het dat dit partykeer ʼn stryd was om uit die stroompie te kom. Ek het ses of sewe keer gegly en geval en was baie dankbaar toe al die waterhindernisse verby was. Die klimmery oor die bale en met toue teen die A-raamhindernis op was eintlik ʼn relatiewe plesier.

Ná die tyd kon ons in ʼn groot tent ʼn bietjie afwarm en iets eet. Die groot drang was net om van die modderige klere ontslae te raak. Daar was nie ʼn moontlikheid om te stort nie en ons het sommer by die kar droog aangetrek en by die huis gaan stort. Om die klere skoon te kry, was ʼn ander storie. Dit is ʼn taai, stink modder wat jy nie sommer uitspoel nie; jy moet klere en skoene herhaaldelik skrop om dit af te kry.

Ons twee se resultate was verrassend goed: Christiaan het 10de uit 339 deelnemers geëindig en ek, met my middeljarige lyf, 30ste. Slegs vier deelnemers was ouer as 60. Dit was regtig die moeite werd.

 

Deel op

Nuutste artikels