Sy’s ’n boeremeisie, hy ’n Jood. ’n Boerejood, ja, maar nogtans ’n Jood. Vir hulle liefde is daar geen toekoms as hulle dit nie self skep nie.
Verbode drif het vir die eerste keer in 2006 verskyn. Wanneer daar by leeskringe of boekgesprekke gevra word, sê skrywer Irma Joubert altyd Verbode drif is steeds haar gunsteling van al die boeke wat sy geskryf het. Sy het haar tande geslyp op romanses, Verbode drif was die eerste langer enkeltitel wat weggebreek het van die tradisionele romanse. Dié historiese liefdesroman het ’n ligter aanslag as boeke soos Tussen stasies, Anderkant Pontenilo en Immer wes wat daarop gevolg het. En, anders as Irma se ander boeke, wat almal deel van ’n reeks is, is Verbode drif ’n alleenstaande titel.
In hierdie derde heruitgawe het Irma van die “soetsappighede”, soos sy daarna verwys, gesny en tonele uitgebrei. Die kernverhaal is egter dieselfde: Kort na die Boereoorlog raak Boerenooi Elizabeth verlief op die Jood, Izak Katz. Hulle albei weet dat ’n verhouding tussen hulle nooit sal kan werk nie, dat daar van ’n toekoms saam geen sprake is nie. Die liefde laat hom egter nie voorskryf nie, Elizabeth en Izak raak besigheidsvennote – en jare daarna sou mense nog opmerk:
“Hulle was formidabele span en dáárby sulke goeie vriende.”