Media se rol moet verwelkom word, maar nie altyd hul gedrag nie

14/11/2018
| Deur Wian
rawpixel-569600-unsplash

Die media se invloed in enige gegewe samelewing korreleer sterk met ander vryhede en die vlak van ekonomiese ontwikkeling.

As die tellings op Freedom House se Freedom of the Press 2017-indeks vinnig bekyk word, word hierdie tendens dadelik bevestig. Die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) se media word as “onvry” bestempel en is sonder twyfel een van die erbarmlikste lande ter wêreld. Suid-Soedan en Venezuela toon dieselfde korrelasie. Desgelyks is Kanada een van die rykste lande ter wêreld en hul media is ook baie vry. Dieselfde geld vir Finland en Australië.

Daar is uiteraard sekere uitsonderings, soos China (die tweede grootste ekonomie ter wêreld en ’n groeiende middelklas met stewige per capita inkomstes) en Singapoer (een van die welvarendste en mees leefbare lande ter wêreld). Beide het ’n onvrye medialandskap en is welaf (of in China se geval besig om te word). Dié lande is egter die uitsondering eerder as die norm.

Hoekom is die media dan so belangrik vir die sukses van ’n land? As die sogenaamde vierde mag (Engels: fourth estate), het dit ’n onregstreekse sosiale invloed deur die vermoë om agendas te bepaal. Dit is veronderstel om veral die politieke klas verantwoordbaar te hou, maar eintlik enige persone of instellings met mag. Dit moet tog ’n teenwig vir tirannie vorm deur die burgery se stem en waghond te wees – wel, veronderstel om te wees.

Nie meer hoofstroom nie

Die hoofstroommedia in Suid-Afrika en elders doen steeds uitstekende werk om korrupsie te ontbloot en die regering aan die man te bring. Hulle en hul publikasies het ook allerweë met allerlei gevare soos bose regerings te doen, soos die wrede moord op Jamal Khashoggi in die Saoedi-Arabiese ambassade in Istanboel, Turkye, getuig. Hierdie bedreigingskaal wissel van moord tot intimidasie, en van buitegeregtelike arrestasies tot die sluit van publikasies – om maar net ’n paar te noem. ’n Rekordgetal joernaliste is byvoorbeeld verlede jaar wêreldwyd in hegtenis geneem.

Die geloofwaardigheid en lewensvatbaarheid van die hoofstroommedia word ook op ander maniere bedreig – en soms is dit selfopgelegde wonde. Eerstens het die hoofstroommedia hulself aan fopnuus en blatante valshede skuldig gemaak. Die Sunday Times het onlangs erken dat hulle sulke foute gemaak het met stories oor die Cato Manor-doodsbende en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se sogenaamde “rogue unit” . Dis beslis nie die enigste soortgelyke foute wat die koerant al voorheen begaan het nie en die Sunday Times is opsluit nie die enigste oortreder nie. Tesame hiermee het daar ’n soort “verplatting” van die medialandskap plaasgevind met die koms en groei van die sosiale media en allerlei alternatiewe aanlyn blogs en publikasies.

Die hoofstroommedia (en meer bepaald koerante) het selfs so kort gelede soos 30 jaar die diskoers en agenda steeds alleen bepaal. Vandag kan mens bekendes se eerstehandse menings op Twitter en Facebook lees en dadelik met mekaar op die internet (eerder as in koerante se kieskeurige briewekolomme) oor kwessies debatteer sonder die “mediasie” van die hoofstroommedia. Dit is nie noodwendig goed nie en dit is nie altyd beleefd nie, maar dit is die hedendaagse werklikheid en daar is ook voordele daaraan verbonde. Mense het vandag heelwat keuses en is nie net van ’n handvol hekwagters afhanklik nie, maar hulle moet self die alomteenwoordige “geraas” uitskakel. Vir baie mense is die hoofstroommedia nie meer hoofstroom nie.

Behoudens die tegnologiese veranderinge en snelveranderende eise waarmee die media en joernaliste te kampe het, dryf baie media en joernaliste hul eie agenda en tree onbehoorlik op. Ek het nooit gedink mense glo als wat Max du Preez en ander linkse kommentators skryf en sê nie. As iemand wat self vir ’n aantal jare ’n joernalis was en nogtans baie lief is vir die media, maar vandag vir ’n burgerlike organisasie met ’n hoë mediaprofiel werk en dus weet wat die waarheid (oftewel ongeveer die waarheid) is, is ek terdeë daarvan bewus dat joernaliste en kommentators gereeld subjektief en bevooroordeeld te werk gaan. In die proses bly feite in die slag, groepe en mense word gestereotipeer en geëtiketteer, en veralgemenings (asook groepsdenke) gedy.

Misleiding as feite

’n Vriend van my noem onlangs dat AfriForum darem maar baie slae in die media kry. Dit is gereeld waar, maar nie naastenby geregverdig nie. Ek noem toe aan hom dat heelwat media blatant oneerlik is en sonder bewyse goed aan AfriForum, die Afrikaner en vele situasies toedig wat eenvoudig nie waar is nie. Dit gebeur byvoorbeeld ook met Donald Trump in Amerika (en hy dik self ook aan) – dis nie slegs ’n Suid-Afrikaanse verskynsel nie. Ek stel toe vinnig vas dat wat hy as “feite” in rubrieke lees eintlik blote bespiegeling, innuendo’s, drogredenasies en valshede is. Hy kan nie tussen hulle onderskei nie en helaas is hy nie alleen nie. Dit is nog meer van ’n probleem as iemand net van ’n paar publikasies afhanklik is om hul menings te vorm. As jy iemand ’n Nazi of rassis noem, moet jy bewyse daarvoor kan lewer of eerder stilbly.

Insgelyks het ek al besef dat my Europese vriende op Facebook ook heeltemal ’n wanindruk van Suid-Afrika en die Afrikaner het. Party word doelbewus deur plaaslike en oorsese media mislei, terwyl ander op vooropgestelde idees en klein brokkies (sowel akkurate as onakkurate) inligting staatmaak om ’n geheelbeeld te vorm. Dit is baie gevaarlik en lei tot verdraaide keuses en beïnvloeding. Hierdie gevare word briljant uiteengesit in Bobby Duffy se The Perils of Perception: Why we’re wrong about nearly everything. Dit gebruik as grondslag jare se kwantitatiewe data deur die peilingsreus Ipsos en toon hoe die publiek se siening van gebeurtenisse en tendense soos migrasie en misdaad totaal groot verskille met die werklikheid toon. Dit is ’n soberende kragtoer van ’n boek.

In hierdie era van mediaversplintering en -veelheid is dit daarom belangrik dat ons op allerlei maniere probeer vasstel wat die waarheid is sodat ons onder meer beter besluite kan neem. En ons moenie bloot iets glo omdat ’n bekende persoon dit op ’n prominente nuuswebwerf of in ’n koerant met ’n groot sirkulasie kwytgeraak het nie. Die Sunday Times is slegs een voorbeeld van feilbaarheid. Kom ons vier die media se rol, maar kom ons wees terselfdertyd krities oor wat ons lees en kyk, en kom ons dring aan op feite terwyl ons ons eie verifiëring doen.

Deel op

Nuutste artikels