Moedertaaldag 2025: Afrikaans in die sakewêreld – ook in die buiteland!
Wanneer besoekers aan verre lande advies vra oor wat hulle kan doen om hulle reis te vergemaklik, is die antwoord gewoonlik “Praat ’n paar woorde in die plaaslike taal en mense sal jou baie meer vriendelik behandel.” Foute wat uitgewys word, is dat jy die verkeerde taal gebruik, soos Spaans in Portugal of Deens in Finland. Franse is weer berug daarvoor dat hulle toeriste wat hulle in Engels aanspreek, soms stief behandel. Taal tel en Internasionale Moedertaaldag wat jaarliks wêreldwyd op 21 Februarie gevier word, is ’n gepaste geleentheid om ons weer daaraan te herinner.
Jare gelede het ’n lid by AfriForum gekla dat sy gunsteling restaurant nie Afrikaanse spyskaarte het nie. Ons het die besigheid dadelik gekontak en die eienaar se verduideliking was: “Natuurlik het ons Afrikaanse spyskaarte, maar niemand vra ooit daarvoor nie”. Dit verduidelik baie van die taaldilemmas van Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika – die verbruikers vra nie diens in ons taal nie en die verskaffers bied dit nie spontaan aan nie.
Selfs in die buiteland is dit deesdae nie meer onmoontlik om in Afrikaans diens te kry nie. Die groot aantal besighede en ander professionele diensverskaffers wat in AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids gelys word, is bewys hiervan! Ons hoor graag van julle ervarings met ’n Afrikaanse woord, besigheidsnaam of ander taalmeevallertjies wat julle al buite die grense van die land aangetref het.
Hoe meer tale jy in jou onderneming kan gebruik, hoe sterker kan jy natuurlik jou kliëntebasis uitbou. Ek dink byvoorbeeld aan gastehuise en ander besighede in die gasvryheidsbedryf wat op hulle mure, bemarkingsmateriaal of sosiale mediaplasings aankondig dat hulle ook diens in meer tale kan aanbied.

AfriForum het onlangs ’n peiling geloods om te probeer bepaal hoe van ons lede oor diens in hulle moedertaal, Afrikaans, voel. Duidelik speel taal ’n belangrike rol in hulle keuse van diensverskaffers in die land. Peilings lok meestal nie veel reaksie uit nie, maar 1 934 mense het die keer daaraan deelgeneem!
Sowat 81% van die deelnemers het bevestig dat wanneer hulle eerste interaksie, hetsy telefonies of in persoon met ’n verskaffer in Afrikaans is, hulle graag die persoon of besigheid wil ondersteun. Kommentaar wat bygevoeg is, was onder meer “Ek voel ek kan beter kommunikeer met sulke ondernemings en vertrou hulle meer” en “Ek sal hulle gereeld ondersteun en hulle dienste wyd verkondig”.
Die Afrikaanse handelsmark is kapitaalkragtig. Daar word geraam dat sowat ’n derde van die mark in die land steeds uit Afrikaanssprekendes bestaan en besigheidseienaars moet dus beslis van hierdie ingesteldheid kennis neem. Ook diegene wat sake in die buiteland bedryf, moet dit in gedagte hou. Die wêreld word al kleiner en net omdat jy buite die grense werksaam is, beteken nie dat jy nie Afrikaanssprekende kliënte sal lok nie.
Wat reklame aanbetref, is ’n handige wenk wat uit die peiling afgelei is, dat humor immer gewild is en dat advertensies met inhoud wat verbruikers laat glimlag, hulle lank bybly!
Vir mense in die buiteland wat dalk bekommerd is dat hulle Afrikaans al verroes het, is daar die troos dat baie hulpmiddels bestaan om seker te maak dat hulle taal nog nommerpas is – AfriForum Wêreldwyd plaas gereeld artikels oor hoe ’n mens Afrikaans buite die landsgrense lewendig kan hou.
Gebruikers aan ons peiling het ook aangedui dat hulle baie geduld met taalfoute het en waardeer as iemand ten minste probeer om Afrikaans te praat. Al wat die meeste van hulle woedend maak, is die gebruik van kru taal en doelbewuste mengeltaal (of te wel, Mengels). ’n Fout of twee gaan hulle beslis nie afskrik as ’n mens aandui dat jy bereid is om te leer nie!
Die gevolgtrekking wat die navorsingsontleder, Lize-Mari de Villiers, uit die terugvoer van die respondente gemaak het, is dat die gebruik van Afrikaans kliënteverhoudings kan versterk en kulturele identiteit bevorder.
Ongeag van waar jy jou in die wêreld bevind, kan jy bydra tot die toekoms van Afrikaans deur dit te gebruik – nie alleen tuis of tussen familielede en vriende nie, maar selfs ook wanneer jy diensverskaffers kies (met behulp van die Wêreldgids natuurlik!), sake doen, professionele dienste benodig of aanbied. Wie weet: ’n Afrikaanse woord op sy tyd kan dalk selfs help om nuwe vriende te maak en ons unieke Afrikaanse humor en kultuur saam met ander Afrikaanssprekendes in jou omgewing te geniet.
Ken jy ʼn onderneming in die buiteland wat ʼn diens of produk in Afrikaans kan lewer? Merk (“tag”) hulle in die kommentaar – ons lys die onderneming GRATIS op die Wêreldgids.
Lys jou onderneming hier: https://wereldgids.co.za/
Foto’s: Getty Images/ Unsplash