Hoeveel artikels kan iemand van bykans 65 skryf oor die jaar toe hy sewe jaar oud was? Die uwe kan byvoorbeeld op die aarde niks onthou van sy st. 3-jaar nie. Niks nie.
Maar as amperse Kersbaba was die jaar in die VSA mooi tussen my sewende en agtste verjaarsdae ingepak. Sommer so met die inval behoorlik in die sneeu ingeval. Dit was in New York, en aan huise van my pa se neef, die Afrikaanse digter-skrywer Barend J. Toerien, sy vrou Maria, ‘n uitgeweke Tsjeg met ’n senior pos by die VN, en hul dogter Janna, deesdae ’n perdeboer van Maryland.
En hier het ’n koerant van New York ’n berig oor ons gesin kom skryf, en dié berig én ’n foto is verlede jaar opgespoor ná my ma se dood op 90.
Ons verblyf in Fayetteville kan net as idillies beskryf word. Agter ons huurhuis was ’n oop veld, en hier kon die kinders ure en ure vertoef. Agter die huise aan die oorkant van die straat was ’n gholfbaan met ’n lekker helling waar ’n kind of twee in die winter kan slee ry tot dit huis-toe-gaan-tyd was. En hier het ons ook sneeubalgevegte geveg en sneeumanne gemaak. Ons, uit Afrika, moes touwys gemaak word: Eers ’n bondel sneeu in die hande vorm en dan in die sneeu begin rondrol totdat die sneeubal so groot soos ’n grootmens se maag is. Dan een effe kleiner, en ’n derde – nóg kleiner – bo-op vir ’n kop. ’n Geelwortel vorm die neus, maar die ander goed soos mond en oë vereis bietjie vernuf.
’n Slee het ons sommer gou gehad, en gery het ons gery.
Op die skip op pad VSA toe (’n kinderfees op sy eie) het Pa van iets geheel onbekend begin praat – ’n TV. Pa was opgewonde hieroor, want hy het dit van vorige besoeke oorsee geken. Nog sonder ’n eie ryding is Pa sommer omtrent dadelik met die bus vort winkels toe. Die bus het nie tot naby ons huis gekom nie, en ons het Pa doer ver op in die straat sien aankom met ’n yslike ding skuins oor sy skouer.
Ek het Pa nog nooit so moeg gesien soos daai dag nie.
Dit het die wonderlike TV blyk te wees. Klokslag elke middag vyfuur het die kinderprogramme begin. Ja, Micky Mouse en sy maats was daar; Superman was daar; Popeye met sy spinasie was daar (en dit het gemaak dat ons Ma oortuig het om vir ons ook spinasie te kook – iets waaraan ons uiteindelik nie ons monde wou sit nie). Maar Ma het ons vooraf gewaarsku …
Soos ek die ding onthou, was dit in die dae van ”regte spinasie”. Sleg, o so sleg. Later het daar goed soos beetspinasie gekom, wat darem te heerlik vir woorde kan wees as dit reg gaargemaak is.
Yogi Bear en die Flintstones – en periodiek die Jetstones – het tot dié ongelooflike vermaak bygedra.
En natuurlik sou Kersvader binne dae sy opwagting maak. Alle tradisies is saamgegooi. Lang, rooi kouse oor ons beddens se koppenente, ’n Kersboom waar ons op Kersdag self geskenke sou kry, en dan Kersvader se opwagting Oukersaand en nogmaals geskenke (as ons soet genoeg sou wees). Oral het Kersliedere gespeel, maar veral Jingle bells. Eers jare later het ek begin wonder hoe ’n lied wat glad nie na Jesus, sy geboorte of selfs Kersfees verwys nie, ’n Kerslied kon wees. En toe blyk dit dat die lied eintlik vir ’n ander groot Amerikaanse feesdag en kalkoenvreesdag van die Amerikaners geskryf is: Thanksgiving. Die lied het later eers ’n lied vir Kersfees geword.
Op ’n dag, heelwat later, word die kinders elkeen ’n mandjie of beker in die hand gestop en met mombakkiese en goed die strate ingestuur. So saam-saam word die huismense opgeklop, en dan skree-sing ons saam: “Trieghertriet!” Dan gaan die deur oop en elkeen kry ’n paar lekkernye by die huismense. Jare later sou ek uitvind ons het eintlik “trick or treat” vir die huismense geskree.
O ja, dit was “hêllowhien” of so iets.
Soggens is ek saam met die ander skoolgaande maatjies met ’n geel skoolbus skool toe, en later die dag weer terug. By die skool het ek saam met die klasmaats die een of ander bohaai oor die vlag gemaak (die Amerikaanse vlag, nie ons ou landsvlag nie), maar wat die okkasie was, kon ek nie uitpluis nie. Etenstye kon ons ’n “hot plate” of a “cold plate” kry, en ek het altyd ’n “cold plate” bestel, behalwe as daar “chicken noodles” op die spykaart was – het dit nie gemis nie.
Maar toe, later, kom die lang somervakansie, en Pa en Ma benut dié geleentheid om die VSA bietjie wyer te gaan verken as net na die skilderagtige Green Lake waarheen ons gereeld oor naweke uitgebreek het.
Pa het ’n Dodge Lancer gekoop. Hy het, so ver ek weet, presies dieselfde enjin gehad as die Valiants van destyds, met so ’n wielvorm op die kattebak se deksel afgedruk, maar die Dodge het nie dié afdruk gehad nie. Verder het die twee karre maar bitter baie na mekaar gelyk. En toe vlieg ons weg, want destyds was daar nog nie spoedbeperkings nie en die VSA is groot. Eers ry ons Groot Mere toe, en die Niagra-waterval. Toe al langs die grens na die Yellowstone-park toe. Ek en my jonger boetie kon in Stellenbosch nie eens van die huis af skool toe ry sonder minstens een boksgeveg nie. Nou is daar tyd vir toernooi op toernooi. Iewers gryp Boet my speelgoedkarretjie en slinger dit by die venster uit. Pa jaag so vinnig dat, toe ek my mond oopgemaak kry om te protesteer, ons omtrent twee state verder is. Boet verweer en sê ons kan die karretjie mos met die terugkom weer kry. Maar Pa het lank voor ons in die pad geval het al gesê ons gaan met ’n ander pad terugkom.
In die Yellowstone-park slaap ons in ’n tentjie. Dit reën gereeld, en raak nou net aan die seil dan kom die water deur die seil ingestroom. Saans kom lol ’n beer en keer die vullisblikke om. Ná ’n dag of so vang die bewaarders hom in ’n hok. Nog nooit ’n beer so hartseer en bekaf gesien soos dié een toe hulle met hom wegry om hom ver in die berge te gaan loslaat nie.
Ons gaan besoek Old Faithful, die bekende geiser, en stap al langs die warm salpeterpoele. Die reuk en hitte oortuig my die hel is sommer daar vlak onder die oppervlak, en ja, mens kan hoor hoe gil en huil die klomp daar onder. Dit maak ’n onuitwisbare indruk op ’n sewejarige se gemoed.
En toe ry ons iewers dwarsdeur ’n tonnel in ’n groot boom. Uiteindelik is ons weer by die see – in Seattle, en ons bly in ’n reusekaravaan op ’n hawemuur. Laagwater lê die bodem bloot.
Die volgende wat ek onthou, was ons by ’n reusemeer. Die toeriste dryf op hul rûe in die water rond of hulle hul in die Dooie See bevind. Dis die Groot Soutmeer. Ma dryf te lekker, en nooi kiepie om saam te kom dryf. Sy verduidelik nog van die sout, maar nie ’n sekonde later nie is die uwe al halfpad gesink. En nog ’n sekonde of wat later amper op die bodem.
Ons ry weer terug huis se kant toe. Ek onthou die klein dorpie waarin ons buurvrou se ma gewoon het. Ons kuier daar, en elke paar minute ry daar ’n stoomtrein verby. Iewers van die myne af. Hy fluit nie, maar het ’n groot klok voor op die neus. Die rede hoekom mens daai trein onthou terwyl ons al ’n hele paar treine langs die pad gekry het wat amper oneindig lank gelyk het, was daardie klok.
Op die sypaadjies groei iets wat amper soos braambosse lyk, maar iets dra wat net soos okkerneute lyk en proe. Iewers ry ons deur ’n Indiaanse reservaat. Eenkant van die pad staan die tipees ingeryg. Nou, as iemand wonder wat ’n tipee is, kyk in amper enige Suid-Afrikaanse boek, skoolboek ingesluit, onder “wigwam” Maar ons prentjies is g’n van wigwams nie, dis tipees. ’n Wigwam lyk gans anders. Stroes njannies. Aan die ander kant van die pad is ’n krans, en hier kap mense dinosourusbeendere uit die krans uit. Reusebene. Ek meen dié krans is nou met glas toegebou, en die tipees word nou as snuisterywinkels gebruik.
Ons was by ’n vreemde berg aan. Later jare loop ek die foto daarvan in ’n boek raak en onthou. Toe sien ek dis Devil’s Tower. Vroeër jare was dit ’n groot krater, en dié loop toe vol magma. Die magma stol, die kraterwande erodeer weg – en daar staan dié rooi toring.
Ons is terug huis toe; dit word weer winter; ons beleef weer ’n ongelooflike Kersfees; en ons is terug New York toe, waar oom Barend ons, met kar en al, hawe toe neem. Ons pleit, maar pa wil niks weet om die slee ook saam te bring nie.
“Dit sneeu nie in Suid-Afrika nie.” Arme pa. Hoe moes hy nou weet in ons heel eerste winter sneeu die Vrystaat spierwit, en ons het juis by Ouma op die plaas buite Bloemfontein kom wintervakansie hou.
Dit sou egter nie my laaste besoek aan die VSA wees nie. Ek kan nie dink wat nie, maar met die kleintydse besoek moes ek iets aangevang het wat die Yanks nie aangestaan het nie, want my visum is aanvanklik geweier.