’n Merkwaardige gebeurtenis ’n eeu gelede – standbeeld van president Steyn in Nederland onthul
Deur Alana Bailey
Een van die mees aangrypende beelde van die Anglo-Boereoorlog is ’n foto van president Paul Kruger, rug na die kamera gekeer, op die dek van die Gelderland, onderweg na Europa terwyl die Anglo-Boereoorlog voortwoed. Hy sou nooit weer sy vaderland sien nie.
’n Toneel wat ’n mens selfs nog dieper raak, word in prof. Jaap Steyn se laaste boek, So is onse mense, wat pas by AfriForum Uitgewers verskyn het, beskryf. Met die aanvang van die vredesonderhandelinge van Mei 1902 was president M.T. Steyn al ernstig siek. Die jare in die veld saam met sy manne het hulle tol geëis. Op 30 Mei 1902 het hy noodgedwonge die amp as president van die Oranje-Vrystaat (OVS) neergelê. Kommandant C.A. van Niekerk het later die verslae stilte van die laaste toneel toe sy manne hom groet, só neergepen:
Hy kon nouliks nog orent kom. Op sy kampbed het hy gelê, met sy oë toegeval, sy arms magteloos langs hom. Diep bewoë, ontroerd, het ons daar in die sieketent maar net om hom gestaan. Niemand wou dit waag om na hom te gaan en hom te groet nie. Die stoere kommandant Frans Mentz van Vegkop het eerste vorentoe getree en gegroet. Vir my was dit byna ondraaglik, maar toe het ek my moed bymekaargeskraap om kommandant Mentz te volg en nader te gaan. Met sy twee lamme hande het hy myne geneem en ek het syne vasgehou. Trane het oor sy wange gevloei en ook oor myne. En toe is ek die tent uit.
In Julie 1902 het Steyn en sy vrou na Europa vertrek om behandeling vir sy siekte te kry. Hy was feitlik heeltemal verlam. Eers in 1905 het hy na sy vaderland teruggekeer, tot ’n groot mate gesond, met die uitsondering van sy ooglede en handspiere wat nooit weer volkome herstel nie.
Kakebeeke en ’n studentevriend van Steyn, dr. Houck, het die Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Vereeniging (NZAV) met die voorstel genader en toe dr. H.P.N. Muller, ’n oud-konsul-generaal van die OVS. ’n Kommissie is onder die voorsitterskap van Muller gestig om die oprigting van so ’n standbeeld te ondersoek. Beeldhouers kon hulle voorstelle vir die beeld voorlê en die kommissie het besluit op die voorstel van Antoine Dupuis (1877-1937), ’n beeldhouer wat in Antwerpen gebore is, maar mettertyd in Den Haag gewoon het. Dupuis het Steyn uitgebeeld waar hy in die veld sy burgers toespreek, bandelier om die lyf en sy hand op die Bybel. Die voetstuk van die beeld, bestaande uit rotsblokke, stel ’n koppie in die Vrystaat voor. Die stadsraad van Deventer het grond naby die stasie beskikbaar gemaak waar dit opgerig is.
Op 6 Julie 1922, ’n eeu gelede, is die beeld onthul. Aanvanklik sou prinses Juliana (later die Nederlandse koningin) of Steyn se weduwee die plegtigheid waarneem, maar oplaas het sy dogter, Gladys Steyn, dié rol gespeel. Die geleentheid is deur vele hoogwaardigheidsbekleërs bygewoon.
Tydens die seremonie het Muller verklaar dat die verblyf in Deventer liefdevolle herinneringe by Steyn gelaat het en dat dit daarom gepas was dat die eerste standbeeld wat ooit vir die onbaatsugtige, nederige man opgerig sou word, daar sou staan. Die hoop is uitgespreek dat dit bande tussen Nederland en Suid-Afrika sou versterk.
Die seremonie is in die nabygeleë St. Lebuïnuskerk voortgesit, waar onder meer ’n telegram van genl. J.B.M. Hertzog voorgelees en die Vrystaatse en Transvaalse volksliedere op die orrel gespeel is. ’n Onthaal het gevolg in ’n saal wat met die Vrystaatse vlag versier is.
Op 7 Julie 1922 het ’n berig oor die plegtigheid in die Deventer Courant verskyn. Daarin word Steyn as ’n “man uit een stuk” en ’n “glorierijke symbool van trouw aan eene edele taak” beskryf.
’n Gedenkblad met ’n foto van Steyn en genl. C.R. de Wet, asook ’n gedig van ene W. le Roux van Bloemfontein is ook versprei. Die gedig (wat sonder ’n titel is) lui:
Met rouw en met droefheid weent al ons volk.
Ach! over ons gaat er een donkere wolk:
Reeds over ons hoofd is zij plotseling gegaan.
Treurend wij hierover, denk er eens aan
Hij was ons tot vader, leidsman en hoofd;
In hem heeft ons volk ten volle geloofd.
Nooit wordt die wond, geheel weer hersteld.
Uw volk zal u steeds erkennen als held.
Slaap voort, slaap zoet, onz’ geliefd President.
Thans dicht by ons dierbre vrouw’ Monument.
Heer sterk ons genadig in ure van pijn.
Een Staats- en Godsman was President Steyn.
Uw goedheid, O Heer! wordt door ons erkend.
Nu rust hy in vrede onz’ geliefd President.
In stille aanbidding buigen wij neer.
Sta moeder en kinders ter zijde, O Heer!
Sterven voor hem was een slaap in den Heer.
Te midden van moeders daar zakte hy neer;
Een groot man is weg: ons volk staat alleen;
Yverig in welvaart van volk ging hij heen;
Nu rust hij in vrede, zoo zacht en alleen.
Die gedig verwys na Steyn se dood toe hy op 28 November 1916 inmekaar gesak het terwyl hy besig was om die Oranje-Vrouevereniging in Bloemfontein toe te spreek. Hy was maar 59 jaar oud.
Hierdie besondere onthullingsgeleentheid in Deventer van ’n eeu gelede, is deur dr. Jan Ploeger in ’n artikel beskryf wat in Desember 1967 in die tydskrif Lantern verskyn het.
Steyn se standbeeld staan steeds op dieselfde plek in Deventer en volgens internetfoto’s word dit netjies onderhou.
In skrille kontras hiermee is Steyn se standbeeld in 2020 van die kampus van die Universiteit van die Vrystaat verwyder met dieselfde nyd as wat Afrikaans uit die universiteit se taalbeleid verwyder is. ’n Instelling wat sy ontstaan aan hierdie besondere man te danke gehad het, het hom nou as verleentheid beskou en gehoor is gegee aan die tydelike ideologiese eise van studentebetogers. Só bly Steyn steeds uitgelewer aan die strominge van ons tyd – ’n tragedie, omdat die waardes waarvoor hy gestaan en letterlik sy lewe opgeoffer het, juis dié is waaraan ons in ons tyd so dringend behoefte het.