ʼn Winterwonderland Kersfees in Chicago

11/12/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
ʼn Winterwonderland Kersfees in Chicago

Deur Annelise Blom

Vir 21 jaar het ons al die voorreg om hier op die pragtige noordoewer van Chicago langs die Michigan-meer te woon.

Kersfees was nog altyd ’n ongelooflike spesiale tyd van die jaar vir ons gesin. Ons het al vir baie, baie jare dieselfde pragtige tradisies waarna ons altyd so uitsien.

Natuurlik is een van die grootste voordele van so ver noord woon, ’n winter wat sneeu bring! Daardie gevoel wanneer jy in Desember wakker word en buite is ’n spierwit winterwonderland ná ’n nag se sneeu, is onbeskryflik. Dit waai Kersfees reg in jou hart en jou huis in. En daarmee saam kom die bou van ’n sneeuman, ’n vuur in die kaggel, Kersmusiek wat speel en soetruikende kaneelappeltertjies met geklopte room en laataand stap saam met die kinders in ’n doodstil, wit sprokiesland. En baie glimlagte, opgewondenheid en afwagting van goeie dinge wat voorlê!

Herfsversierings kom die dag ná Dankseggingsdag (Thanksgiving) af en dan is dit tyd om ’n kersboom te gaan haal. Ons gaan al amper 22 jaar na ’n pragtige kwekery toe genaamd Chalet. Wanneer ek daarheen gaan (nou met ’n 21- en 19-jarige) onthou ek met liefde toe my kinders klein was en hoe hulle altyd eerste na die rendier gehardloop het (oortuig hulle is van die Noordpool natuurlik) en dan deur die soet Frasier-dennebome opsoek na die perfekte kersboom om huis toe te vat. Die spesiale boom word bo-op jou kar vasgemaak en die rit terug huis toe deur ons woonbuurt wat skitter met huise en tuine versier vir Kersfees en sneeu wat val, is absoluut die beste gevoel in die hele wêreld.

Die rooi bokse met blink ornamente en flikkerende liggies wat elke jaar soos “magic” verskyn, lei altyd tot wonderlike gesprekke. Ons versamel al vir meer as 30 jaar ornamente van reg oor die wêreld op ons reise. Daar is altyd so baie “onthou jy’s” en nostalgie. En dan is daar neutkrakers, rendiere, sneeumanne, sleë en Kersfeesvaders wat uit bokse kom en die hele huis omskep in ’n Kersfeesparadys.

Sommige van ons gunstelingtradisies in Chicago is om die Duitse Christkindlmarket in die stad te besoek waar verkopers lekkernye en unieke seisoenale Kersversierings verkoop. Ons het goeie vriende van Poland en elke jaar koop ons ’n handgemaakte ornament uit Pole by hul stalletjie. Om ’n toneelstuk by een van Chicago se ou mode-teaters te sien, ’n gesinsfoto te neem by Navy Pier’s Winter Wonderland, inkopies te doen op Michigan-laan, die Museum of Sciene and Industry te besoek om die versameling versierde Kersbome van reg oor die wêreld te bewonder, is almal gunsteling- en jaarlikse tradisies. En dan natuurlik yshokkie! Ons is groot Chicago Blackhawks-ondersteuners en om op ’n yskoue aand ’n hokkiewedstryd in die United Centre by te woon is ’n lank bestaande en ongelooflike lekker Kersfeestradisie.

Ons woon naby die Chicago Botaniese Tuine wat werklik ’n juweel is en tydens Kersfees omskep word in ’n sprokieswêreld. Daar is die pragtige Lightscape-uitstalling met duisende en duisende kersliggies regdeur die tuine. En dan is daar die mini-treinuitstalling waar treine rustig deur pragtig versierde mini-Kersfees-dorpies tjoef-tjoef en ’n plesier is vir my kinders al hul hele lewe lank.

Ons geniet dit ook om te ski en byna elke jaar gaan ons voor of ná Kersfees Colorado toe om tyd saam met ons beste vriende (ook van Suid-Afrika) in die berge deur te bring. Dit is wanneer die Suid-Afrikaanse pret uitkom. Ons luister na al die nuutste Afrikaanse musiektreffers, sokkie soms buite op die stoep en ons “braai” elke dag. Ons maak Suid-Afrikaanse disse en drink Windhoek Lager en Old Brown Sherry. Ons haal herinneringe oor Suid-Afrika, ons gesinne en kultuur op. En ons kom terug huis toe met ons harte vol wonderlike herinneringe en baie dankbaarheid.

Kersfees is vir ons baie spesiaal en ons is altyd so dankbaar teenoor die Here vir die jare en jare se tradisies wat ’n pragtige skatkis van herinneringe in ons harte geskep het.

Lees ook: Vier jou kultuur: ’n Bloginskrywing uit Amerika

Deel op

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels