Natuurhoekie 40: Eybersstraat en die kaalwangvalk

11/07/2022
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Polyboroides_typus_-near_Sand_River_Selous_Selous_Game_Reserve_Tanzania-8_crop

Deur Alana Bailey

In Natuurhoekie gebruik ons dikwels beeldmateriaal wat Katie en André van Two-V Productions voorsien. Hierdie keer plaas ons ’n essay deur André Christoff. Boeke in hulle Op Vlerke-reeks kan van AfriForum Uitgewers bestel word en is ook weer in die winkels in ruskampe van die Nasionale Krugerwildtuin beskikbaar. Dit sluit die vierde boek in die reeks wat onlangs verskyn het, in. Hiermee dan die verhaal van die kaalwangvalk (Polyboroides typus):

Nou en dan hoor ons bedags ’n kaalwangvalk in die omgewing van die huis. Soeee-eeee-ooo, gee dit net so een lang fluit, nie lank nie hoor ons weer, soeee-eeee-ooo, maar dié keer is dit nader, nou gaan loer ons by die kombuisdeur uit of ons dit nie kan gewaar nie, kyk in die lug op, oor die huise se dakke heen in die heuwelagtige area waar ons woon.

Hierdie besonderse valk se rug, klein kop en bors is liggrys, dit het ’n kaal geel gesigsvel en verlengde agternekvere. Die pens is wit met fyn donker dwarsstrepe. Die vlerke is liggrys met ’n swart rand omring met ’n smal wit lyn. Die stert is swart met ’n breë wit band. Die breë flappende vlerke is opmerklik in vlug, die agterrand is swart.

Dit het ’n buitengewone vermoë om met behulp van sy vlerke en lang dubbelgelede geel bene in bome te klim. Hier in die boomryke area in die Laeveld is hulle nogal lief vir palmbome waar hulle hul prooi tussen die droë blare aan die bokant om die stam soek, ook daar waar die takke by die stam uit kom. Die stamme is daar aan die bokant oortrek met stukke vervlegte oorblyfsels van ou blare wat verweer en afgeval het, vesels wat daar af hang. Die valk het ’n krom skerpgepunte snawel en kragtige skerpgeboë kloue om hom in die uitvoering van sy taak by te staan.

Ons het in die verlede al een gesien waar dit aan die voorkant van die huis, anderkant die terras met gras en plantegroei op, op die grensmuur sit en met gekromde nek tussen die bakstene in soek.

Met die jare het van die sement al verweer en daar is openinge en gleuwe waar bloukopkoggelmanders in skuil, dié sit dikwels in die somermaande op die muur in die son en bak. Partymaal sit een aan die straat se kant teen die muur, net die blou kop steek aan die bokant uit. Hulle is nogal lief daarvoor om op die dekorasiemuur duskant die terras langs die voorstoep te sit.

Per geleentheid gewaar ons ’n lekker fris bloukopkoggelmander met die baie mooi helder metaalkleure wat daar op die muur sit. Hy stut met sulke reguit armpies weerskante van hom op die baksteen, die bolyf oor die voorpote gelig terwyl hy rondkyk, dan beweeg hy, elke nou en dan, die kop en voorlyf op en af.

In die wintermaande kom frette en ander voëls uit die veld om in die woongebiede kos te soek, veral die gewone frette daag in hul getalle op, sak op die grassade toe. Ons beloer hulle menigmaal soos sekeres met reëlmaat na die halms toe op spring, terwyl ander op die grond rond pik.

Daardie tyd van die jaar hoor ons dikwels die kaalwangvalk se fluit.

Die rooiborsduif, grootringduif en gewone tortelduif kom hier algemeen voor, asook ’n verskeidenheid van ander voëls.

Dit is nogal ’n aardigheid om die rooiborsduifie te beloer waar dit op ’n tak sit, die vere gepof as hy hom later versorg. Eers woel dit met die snawel by die bobors vere, nie lank nie werk hy teen die lyf af. Daarna lig hy die kop, kyk vlugtig rond en werskaf weer met die snawel teen die onderlyf. Hierna maak hy ’n vlerk oop, druk die kop aan die agterkant teen die lyf af om nou dáár te woel. Nie lank nie, lig hy weer die kop, dan druk hy die bek nou aan die voorkant onder die vlerk in. Daarna maak hy die vlerk toe, sit ’n oomblik doodstil, en ooo-koo-koo-koo, ooo-koo-koo-koo, roep hy saggies.

Ons sien gereeld ’n swartoogtiptol met die klein donkerbruin kuifie waar dit op ’n tak rits, ’n mens sien net die bottergeel onderstertvere flits. Elke nou en dan vlieg dit op na ’n insek toe, maak ’n vangs, dan kom sit dit weer op die tak om die kossie te vreet. Daarna rits dit weer vir ’n tyd op die tak, nou gesels dit so aanmekaar terwyl dit, so tussendeur, die kop, met die klein kuifie en delikate slank snawel, skuins hou soos hy die omgewing bespied.

Ons hoor sekere tye van die jaar die geelblestinker met reëlmaat roep, tienk, tienk, tienk, tienk. Dit klink kompleet soos ’n windpomp se skakeltuig, doer in die verte.

Toé-poedelie toé-poedelie toé-poedelie, weerklink die roep van rooikophoutkappers in ’n duet oor die veld.

Kok-kok-kok-kok-kok, kók kók kók kók kók, laat bloukuifloeries van hulle hoor. Soek jy, is die kanse goed dat jy die pragtige skarlakenrooi ondervlerke sien soos een met gespreide vlerke blitsvinnig in ’n boom se takke ophardloop, hy na ’n tak hoër op wip, na ’n volgende boom vlieg.

Oooooop oooooop, oooooop oooooop, hoor ons af en toe die roep van die spookvoël, wat maar ’n sku woudbewoner is, êrens in die omgewing van die agterplaas. Ons het hom al daar onder die blaredak gaan soek, maar dis ’n onbegonne taak, want hy is ’n besige jagter, hy bly aan die beweeg.

Ek sit nou een middag in die woonkamer en kyk TV, die volgende oomblik gewaar ek ’n donker voorwerp wat so ’n meter bo die grond anderkant die skuifdeur links van die TV verbyblits. Ek dog eers dit is ’n blouaap, maar sit dit onmiddellik uit my kop, dit was verseker ook nie ’n hadida nie, dié is mos ’n rustige, maar lawaaierige voël. Die volgende oomblik sien ek ’n groot donkerkleurige voël met breë flappende vlerke ’n draai oor die huis skuins onderkant ons maak en ’n entjie verder op ’n dwarstak aan die voorkant van ’n yslike boom in die agterplaas gaan sit.

’n Kaalwangvalk met die onmiskenbare kaal geel gesigsvel!

Daar kyk dit ’n oomblik rond, mens kan sien dit het iets in ’n poot beet, iets kleinerig, toe trek daar net vere soos dit met gekromde nek aan die prooi pluk.

Die grasperk op die terras in die agterplaas loop skuins op na ’n natuurtuin toe met natuurlike plantegroei wat daar voorkom. ’n Ent weg staan daar ’n beesklouklimop, ook genoem vlam-van-die-vlakte want die blomme met die orgideeagtige kroonblare vlam in die somermaande in die pragtigste pienk tot baksteenrooi kleure. Ons het met die jare voor so ’n yslike rotsbank wat daar teen die kop lê, tussen die granietklippe en rotse tuin gemaak, aalwyne geplant, ’n paar broodbome en heelparty struike, ’n hele bos riete, bougainvillea, grondbedekkers.

Daar staan ook ’n paar dadelpalms, ’n bergkiepersol, ’n koraalboom, ’n flambojantboom en ’n raasblaar. Raasblaar verwys na die ratelende geluid (geraas) wat die boom se blare en sade maak as die wind waai. Die vrugte kom meestal in trosse voor. Dit is viervlerkig, geriffel met onopsigtelike skubbe. Dit is groot, haarloos en verkleur van heldergroen tot geelbruin by wasdom. Die sade is ovaalvormig met vier oorlangse groewe. Dit word ryp in Maart en dit hang soms tot die volgende seisoen aan die boom.

Raasblaar sade.

In die middel van die grasperk is daar ’n groot essenhout boom met ’n ronde spreidende kroon met hangende takke. In die somermaande dra dit die pragtigste klein wit blommetjies met ’n soet geur wat insekte lok. Die vruggies word deur ’n verskeidenheid voëls benut. Onder die boom is daar ’n bedding boslelies met die groot trompetvormige rooi blomme.

Ons hou nou en dan daar in die agterplaas sulke liggeel en klein wit skoenlappers dop, partykeer roes-bruines met so ’n swart randjie om die vlerke, asook naaldekokers.

Natalse fisante kom dikwels agter teen die kop af tussen die plantegroei deur om op die gras, ’n entjie van die essenhout boom af, te kom wei en skrop. Kek kék-kék-kék, kek kék-kék-kék, krys dit.

Ons beloer hulle gereeld waar hulle, regs van ’n heining kanferfoelie, wat daar teen die kant van die erf af groei en van tyd tot tyd in sulke massas trosse oranje trompetters blom, doenig is. Dan sien ons ook in die somermaande die blomme se kroonblare op die gras lê soos die blouapies dit daar laat val het, na hulle dit afgepluk het om die nektar uit te suig. Voëltjies, meestal suikerbekkies, kom dan ook gereeld daar ’n draai maak.

’n Paar dae gelede, so laatmiddag, hoor ons weer die kaalwangvalk se fluit. Nie lank nie, roep Kate vir my om by die middelkamer se venster oor die agterplaas te kom uitkyk. Toe is daar twee Natalse fisante op die gras doenig, ’n ma en haar opgeskote kuiken. Maar die ma staan kiertsregop, soos ’n standbeeld. Sy roer nie, dit lyk skoon of sy op haar tone staan, die nek is na bo gestrek, die kop gelig, soos sy aandagtig luister, bespied. Die jongeling het nie ’n saak nie, weet van niks nie, pik net lustig in die omgewing van die ma rond.

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels