Natuurhoekie 71: Die groot wildebeesmigrasie, ’n uiters gevaarlike onderneming – Deel 2

25/06/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
piotr-usewicz-LCz-NxpXDu4-unsplash

Deur André Christof

In die vorige aflewering het ek beskryf hoe die jaarlikse wildebeesmigrasie langs die Serengeti en in die Ngorongoro Bewaringsarea begin. Jaarliks neem soveel as 1,5 miljoen wildebeeste hieraan deel. Dié verskynsel word erken as een van die sewe wonders van die natuur. Die diere se soeke na groener weivelde kom egter nie sonder gevaar nie, soos ek hier beskryf.

’n Paar dae na die eerste oortog waarvan ek in die vorige aflewering vertel het, is daar een oggend vroeg, ’n hele ent verder langs die rivier af, nóg ’n kruising.

Aan die duskant van die rivier loop die veld van ’n ent weg waar dit baie deur wild gebruik word, geleidelik of terrasgewys af tot onder in die rivierbedding. Aan die anderkant is daar ’n kolossale, bykans regaf wal van seker by die twintig meter, of dalk meer. ’n Groot gedeelte daarvan loop van die kant waar die water sterk na regs verbyvloei, baie skuins op boontoe, buiten vir ’n plek in die middel teen die wal uit, waar die helling nie baie skuins is nie en dit inwig soos wat die water uit die veld dit weggekalwe het. Daar is ’n afplatting wat oor ’n groot area geleidelik na die kante toe wyd insny.

Van daar af is dit nog so vyf meter regaf tot by die veld hoër op. Ook is daar aan die bokant ’n paar slote weerskante van die afplatting soos water al afgekom het en wat die diere kan volg tot heel bo.

By die honderd van die wildebeeste het dit toe nié gemaak nie, hulle is op die plek aan die bokant by die afplatting vasgekeer en is daar deur die massas doodgetrap.

Die karkasse lê daar nou digby mekaar, met hier en daar een verder weg teen die skuinste van die wal.

Dit is net roofvoëls wáár ’n mens kyk – die ongeveer vyfhonderd aasvoëls en ’n klompie maraboes het ’n fees! Hulle het alleenreg, geen leeu of ander roofdier sal dit dáár waag nie. Nee, hul beurt kom later aan die bokant in die veld op die uitgestrekte vlaktes waar die terrein nie so onbegaanbaar is nie.

Die magdom witrugaasvoëls het krom skerpgepunte snawels en kragtige skerpgeboë kloue. Hulle koppe en lang, bykans kaal nekke is met donse bedek en sierlike wit vere sit tussen hulle skouers aan die agterkant van die nekke.

Meeste sit uitgestrek aan die bokant op die wal en wag hul beurt af, hier en daar loop een rond. Baie drom egter regoor die plek waar die karkasse lê saam.

Onderkant hulle sit ’n klomp weerskante van die karkasse teen die wal in afwagting, terwyl ’n magdom in die middel by die afplatting aan die dooie diere vreet. Dit klim oor die karkasse, verdring mekaar, sprei die vlerke soos dit van een na ’n ander karkas hop, hulle jaag mekaar en soms pik een verwoed na ’n ander. Nou en dan vlieg van hulle so ’n paar treë na ’n volgende karkas toe. ’n Mens hoor die voedingswaansingeluide soos hulle kompeteer om by die vleis uit te kom.

Die maraboes, met hulle veerlose koppe, rubberagtige nekke, yslike pienk keelsakke,  massiewe wigvormige snawels en lang wit bene, wag hul beurt af. Hulle moet elke nou en dan vir ’n aasvoël koes wat opstyg, of van die wal af ondertoe vlieg om by die ander te gaan vreet. Af en toe sien jy hoe ’n maraboe iets van die grond af oppik.

Om en by vieruur die middag is daar weer ’n oortog van wildebeeste op dieselfde plek, maar nou het heelwat aasvoëls voorlopig ’n ent weg padgegee, dit is net dié en die maraboes by die karkasse teen die wal, asook enkeles in die veld direk aan die bokant wat oorgebly het.

Die wildebeeste het weer oorgeneem, dit is net donker lywe wáár jy kyk. Hulle kom van duskant die rivier af. Daar waar die massas uit die veld opdaag, gaan hulle in hul hordes agtermekaar skuins oor na die anderkant – party met sulke groot uitbundige spronge deur die vlakker water.

Foto: Getty Images/ Unsplash

Die vloei is aan die diepkant só sterk dat die water skuimend wit teen die voorlywe opspat en jy nou en dan net die langerige swart gesigte en gedraaide horings dobberend bo die oppervlak sien uitsteek. Dit neem hulle binne oomblikke ’n hele ent regs in die rivier af na die oorkant toe.

Daar gaan hulle oor ’n afstand van by die dertig meter digby mekaar aan wal en draai in hul getalle links na die gebied waar die karkasse lê. Eers loop hulle ’n ent deur die vlak water. Die klomp van agter af arriveer egter só vinnig dat hulle mekaar vorentoe druk. Hulle probeer op ’n plek duskant die dooie blouwildebeeste teen die steil wal aan die bokant uitgaan, maar hulle loop hulle teen die regaf wal vas. Hulle kan nie daar uit nie!

Nou staan die massa donker lywe daar saamgebondel. Dit druk en beur teen mekaar. Hulle is soos sardientjies ingeryg, het nêrens om heen te gaan nie, en dit raak net al erger. Hulle kan ook nie omdraai om terug te gaan soos hulle gekom het nie, want die horde vul net eenstryk deur van agter af met nog meer diere aan.

Die wildebeeste wat van agter af aankom, beweeg later verby en trap ’n paadjie oop wat uiteindelik na die veld lei. Nou stroom die klomp in hul menigte daarheen.

Intussen het van die wildebeeste wat regs van die karkasse teen mekaar staan en beur het, omgedraai en hulle begin stadig soos hulle gekom het, terug teen die wal af beweeg.

Van daardie wat aanvanklik nie kon omdraai nie, probeer egter nou verder ál teen die wal aan die bokant met ’n ompad teruggaan. Hulle vorder net so twintig meter toe ’n stuk van die wal meegee. Party gly na onder, ander stort saam met die grond na benede, beland tussen die massas aan die onderkant en swem stroomop terug na die oorkant toe.

Jy hoor hul aanhoudende gebulk bo die geraas van die water, die onophoudelike geluide wat na ’n gekerm en gekla klink. Die krokodille met hulle lang driehoekige snoete, het ’n féés. Dit wriemel en draai in die rondte op plekke in die water soos hulle hap, dan sien jy die bekke bo die oppervlak uitkom waar hulle gulsig sluk, waarna hulle afsak en terug na die karkasse beweeg vir ’n volgende hap.

Maar nóg is dit nie die einde nie, die res van die blouwildebeeste wat nog nie die tog terug oor die rivier aangepak het nie, beweeg nou ’n ent langs die water verby stroomaf na ’n menigte wat hulle ook dáár teen ’n wal vasgeloop het.

Hierdie groep verdeel in twee, ’n klomp veg hul weg na regs oop teen die ongelooflike steil helling uit en beweeg aan die bokant van die wal verder in die rivier af, waar hulle later slote vind wat na die veld lei.

Na die trek verby is, beloer diegene wat dit aanskou het vir oulaas die wal aan die oorkant. Wat ’n ongelooflike belewenis was dit nie! Al wat nou oorbly, is herinneringe: daardie karkasse in die middel, die aasvoëls en maraboes, regs van hulle ’n verdwaalde troppie blouwildebeeste wat nog daar staan waar hordes aan die bokant nie kon uit nie, ’n breë modderspoor wat die wildebeeste agtergelaat het én die krokodille wat nog draai aan die onderkant in die water.

Dan sien jy daardie massas wat dit wel gemaak het waar hulle aan die bokant op die uitgestrekte grasvlaktes op ’n streep met ’n spoed in die verte tussen die vaalgroen grasse deur verdwyn.

Foto: Edgar Okioga/ Pexels

Foto: Piotr Usewicz/ Unsplash

Skryf vir ons

Is jy lief vir die natuur? Het jy al enige interessante dieremaniere dopgehou of pragtige landskappe in die buiteland ontdek? Deel jou staaltjies en foto’s met ons by wereldwyd@afriforum.co.za

Lees ook: Natuurhoekie 70 – Die groot wildebeesmigrasie, ’n uiters gevaarlike onderneming – Deel 1

Deel op

Nuutste artikels