Die bloukraanvoël is Suid-Afrika se nasionale voël. Die “paradisea” in hulle spesienaam, Grus paradisea, is skynbaar in 1793 deur die ontdekkingsreisiger, Anton August Heinrich Lichtenstein, aan hulle gegee. Hulle staan steeds in Nederlands as paradijskraanvogels bekend.
Bloukraanvoëls word in graan- en graslande, of langs vleilande aangetref en vreet plante, insekte en selfs klein soogdiertjies, paddas of reptiele. Hulle word 100 tot 120 cm hoog en kan tot meer as 6 kg weeg. Gewoonlik woon hulle in pare saam en broei van Oktober tot Maart. Meestal word twee eiers gelê, met die mannetjie wat snags broei en die wyfie in die dag, terwyl die mannetjie haar en die nes verdedig. Die broeitydperk is dertig dae en die kleintjies begin van die ouderdom van 3 tot 5 maande af vir hulleself sorg. Hulle kan wel binne twee dae al loop en begin kort daarna selfs swem. Hulle bly by hulle ouerpaar tot die aanvang van die volgende broeiseisoen, wanneer die ouers hulle verjaag.
Ongelukkig is bloukraanvoëls ’n bedreigde voëlspesie, onder meer as gevolg van stedelike ontwikkeling en landboubedrywighede wat hulle habitat vernietig en gifstowwe waarmee gewasse besproei word. Baie vlieg ook in kragdrade vas, of raak verstrengel in baaltou en lyndrade wat hulle beseer of dood. Hulle word soms selfs slagoffers van onwettige handel, omdat ’n gewoonte bestaan het om hulle in tuine as troetelvoëls aan te hou. Dit is geheel en al onwettig.
Die afgelope twee dekades het hulle feitlik verdwyn in die Oos-Kaap, Lesotho en Eswatini, en daar word geraam dat hulle getalle in die Noord-Vrystaat, KwaZulu-Natal, Limpopo, Gauteng, Mpumalanga en Noordwes met tot 90% gedaal het. Groepe word veral in die ooste en suide van die land aangetref.
Dit is baie jammer aangesien hierdie statige voëls werklik indrukwekkend is en dan juis ook omdat hulle ’n nasionale simbool is. Hulle is onder meer al op posseëls en munte van die land uitgebeeld. Pogings om hulle te beskerm sluit wetgewing en die werf van hulp deur privaatgrondeienaars in. Birdlife South Africa doen navorsing oor die bewaring van dié voëls en kan met inligting oor hulle wel en weë gekontak word by www.birdlife.org.za.
Pretorianers is bederf omdat ons hulle van naderby kan sien in die Austin Roberts-voëlreservaat. Indien jy vroegoggend elders in die land gaan stap mag jy dalk gelukkig genoeg wees om hulle aan te tref waar hulle kos soek en hulle kenmerkende krrrrrr-klapgeluide te hoor. Mag dit ook vir ons nageslag beskore wees!
Foto: Melissa Whitecross/ www.birdlife.org.za