Natuurhoekie 74 – Uittreksel uit Op Vlerke-boekereeks oor die name van plekke in die Nasionale Krugerwildtuin
Deur André Christof
In die Op vlerke-boekereeks deel André sy en sy vrou Katie se liefde vir die natuur en die Krugerwildtuin. In dié wildtuin is daar besonder interessante plekname, maar min mense weet van die oorsprong of betekenis daarvan. Hiermee meer inligting oor die herkoms en betekenis van ’n paar van die name waaroor hy geskryf het.
Balule Satellietkamp
Balule is die Tsonga-woord vir Olifantsrivier.
Letaba
Dié naam beteken “rivier van sand” en verwys na die droë herfs- en wintermaande wanneer die rivier wat in die somer breed vloei, opdroog tot ’n paar kanale en kuile waar olifante, buffels en ander diere kom drink.
Malelane
Hierdie naam is ontleen aan die Swazi-woord emlalani, wat beteken “plek van die Lala Palms”.
Mopani Ruskamp
Die kamp is vernoem na die Mopanieveld en is geleë langs die Pionierdam. Mopani beteken “skoenlapper” in Setswana, die taal van daardie streek, omdat die pare blare van dié boom soos ’n skoenlapper lyk!
Numbihek
Numbi is die Sjangaan-woord vir “ontmoetingsplek”.
Punda Maria
Hierdie kamp het as buitepos in 1919 ontstaan toe kaptein J.J. Coetser as die eerste wildbewaarder daar aangestel is om wilddiefstal te bekamp in dié gebied wat sedert die vroeë 1900’s as ’n rowersnes bekend was.
Die hoek waar Suid-Afrika, Suid-Rhodesië (vandag Zimbabwe) en Mosambiek bymekaar kom, was toe al die ideale wegkomplek vir wapensmouse, wilddiewe, smokkelaars en almal wat wetstoepassing probeer vermy het, omdat daar oor enigeen van die drie grense geglip kan word. Die verre noordoostelike enklawe is tot vandag toe bekend as Crook’s Corner.
Coetser het dié buitepos Punda Maria gedoop omdat hy verkeerdelik geglo het dit is die Swahili-naam vir ’n sebra – die eerste dier wat hy gesien het toe hy daar aangekom het.
Die regte naam was egter punda milia, wat “gestreepte donkie” beteken.
Na dit aan hom uitgewys is, het hy egter die naam behou omdat sy vrou se naam Maria was en uit eerbewys aan haar wat aan twaalf kinders die lewe geskenk het. Die wildtuin het dit baie jare later reggestel en dit was toe vir ’n tyd as Punda Milia bekend, maar in 1981 is dit egter weer terug na Punda Maria verander.
Satara
Satara is uniek onder die Nasionale Krugerwildtuin se kampe. Dit is nie op ’n rustige rivieroewer of bo-op ’n heuwel geleë met uitsigte oor die wildernis nie. In plaas daarvan is dit in die middel van ’n uitgestrekte vlakte van plat grasvelde en doringveld so ver as wat die oog kan sien, bewoon deur duisende weiende diere en natuurlik die roofdiere wat hulle volg. Dit is presies die rede vir Satara se gewildheid; dit het waarskynlik die hoogste digtheid van groot Afrika-roofdiere in die hele wildtuin.
Satara is ’n verkeerde spelling van die Hindi-woord satrah, wat sewentien beteken, en so genoem deur ’n landmeter en sy Indiese assistent wat hierdie stuk laeveld vir gebruik as landbougrond in die laat 1800’s opgemeet het. Kolonel James Stevenson-Hamilton het Tim Healy in 1910 as die eerste veldwagter in die pos by Satara aangestel, en hy is gevolg deur veldwagter W. Lloyd, wat weens longontsteking ontydig dood is en deur sy vrou en ’n hulp net buite die huidige kamp begrawe is in ’n kis wat van plafonplanke gemaak is.
Teen 1929, drie jaar nadat die wildtuin geproklameer is, is die eerste twaalf hutte by Satara aan oornagbesoekers beskikbaar gestel, en teen 1974, met die bedreiging van malaria en deurweekte paaie in die reënseisoen voldoende onder beheer, kon besoekers Satara die hele jaar deur geniet (in plaas van net in die winter).
Shingwedzi
Shingwedzi beteken “plek van ystersteen” wat verwys na die gabbro-rots wat algemeen in die omgewing voorkom. Shingwedzi is afgelei van die Tsonga-woord ngwetse wat “die geluid van metaalvoorwerpe wat teen mekaar vryf” beteken.
Skukuza
Skukuza is die hoofruskamp van die Nasionale Krugerwildtuin. Die naam, aangepas vanaf die Zoeloewoord Sikhukhuza, was ’n troetelnaam vir James Stevenson-Hamilton. Dit beteken “nuwe besem”, omdat Stevenson-Hamilton die gebied “skoongevee” het van wilddiewe en ander skelms. Die kamp is in 1902 opgerig, en het eers as Sabiebrug bekend gestaan tot dit in 1936 na Skukuza herdoop is.
Die Op Vlerke-boekereeks is op verskeie platforms beskikbaar, insluitend Loot, Bob Shop en Amazon.co.za.
Weg met myn by Krugerwildtuin!
Tenbosch Mining (Edms.) Bpk. wil met ’n steenkoolmyn oor ’n gebied van ongeveer 6 251 hektaar op die voorstoep van die Krugerwildtuin begin. Veg saam met AfriForum teen die myn by die Krugerwildtuin. Sluit aan hier.