Nog gesprekke oor die kontroversiële verandering aan die kwytskelding van belasting op buitelandse inkomste
Verskeie organisasies en persone wat geraak word deur die wysigings aan die kwytskelding van belasting op buitelandse inkomste vir Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, het aan die einde van verlede jaar voorleggings aan nasionale tesourie gemaak.
Volgens bedryfrolpelers het tesourie nou tot die hou van ’n spesiale werkswinkel oor dié onderwerp ingestem, hoofsaaklik weens die belangrikheid en omvang van die voorleggings wat dit ontvang het.
Volgens die wysiging sal belastingvrye inkomste wat buite Suid-Afrika verdien word vanaf 1 Maart 2020 tot R1 miljoen beperk word, en enige inkomste wat dié bedrag oorskry, sal teen ’n moontlike marginale belastingkoers van 45% in Suid-Afrika belas word.
Bedryfsliggame versoek dat dié beperking voordele sal uitsluit wat ’n noodsaaklikheid in sommige lande is. Hulle het ook hul kommer uitgespreek oor die beperking op buitelandse belastingvrye inkomste wat in randwaarde uitgedruk word. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingpraktisyns (SAIT), Tax Consulting South Africa, die Expatriate Petition Group (EPG) en die South African Rewards Association (SARA) is van die entiteite wat voorstelle voorgelê het wat vir die Februarie-begroting oorweeg moet word.
’n Opname deur die TPG, wat ongeveer 20 000 lede het, het bevind dat sowat 30% van respondente in die Verenigde Arabiese Emirate werk, dat die helfte van ekspats verplig is om belasting te betaal en dat die gemiddelde marginale koers 15% is. Dit het ook bevind dat 26% van die ekspats se buitelandse inkomste voordele en toelaes soos mediese fonds, behuising, skoolfooie, sekuriteit en ongerieflikheidsubsidies insluit. Meer as 70% het ook bevestig dat hulle die R1 miljoen-drempel sal oorskry as hul vergoedingspakkette in rande uitgedruk word.
SAIT het in sy voorlegging gesê dat dit duidelik is dat die R1 miljoen-kwytskelding min verligting bring vir tipiese werkgewergeborgde afgevaardigdes wat normaalweg van ’n aantal aanstellingspesifieke voordele voorsien word. Jaco la Grange, voorsitter van SAIT se werkgroep vir persoonlike belasting, het vroeër gesê dat dié voordele nie daarop gemik is om afgevaardigdes te verryk nie, maar eerder om te verseker dat hulle nie beter of slegter aan hul “werkgewergeïnisieerde verplasing” toe is nie, en dat hulle van ’n lewensgehalte voorsien word wat sover moontlik dieselfde is as wanneer hulle tuis sou bly. SAIT het opgemerk dat residensiële behuising gereeld ’n groot deel van internasionale afgevaardigdes se pakkette uitmaak – hetsy dit in Rwanda of die VK is.
Weens hoë behuisingskostes kan dié voordeel op sy eie die R1 miljoen-kwytskelding uitput, het La Grange gesê. Hulle het voorgestel dat behuising wat deur die werkgewer voorsien word van vergoeding uitgesluit word.
Die wisselvalligheid van die rand en die besluit om die beperking in randwaarde uit te druk, bly ernstige bekommernisse. SAIT het voorgestel dat die kwytskelding teen ’n stabieler buitelandse geldeenheid vasgepen word, veral as daar in ag geneem word dat die salarispakkette van die meerderheid persone op ’n buitelandse geldeenheid gebaseer is.
Tax Consulting South Africa het met verwysing na XE Corporations se historiese koerse gesê dat fluktuasies in wisselkoerse oor die afgelope dekade baie duidelik is. In die geval van die rand/dollar was dit 106%, die rand/euro 61%, die rand/Britse pond 33% en die rand/Emiratiese dirham 106%. “In wese kan faktore soos die politiese klimaat in Suid-Afrika of watter kabinetslede hul werk behou, bepaal hoeveel belasting ekspats sal moet betaal,” sê Tax Consulting in hul voorlegging.
SAIT het ook ’n jaarlikse aanpassing van die beperkingsdrempel versoek. As die kwytskelding spesifiek daarop gemik is om lae- tot mediuminkomstepersone wat oorsee werk – soos verpleegkundiges en onderwysers – te ondersteun, is daar ’n argument te voer dat die beperkingsdrempel jaarliks aangepas moet word om jaarlikse salarisverhogings te akkommodeer.
SAIT het ook verwys na die verwagte toename in aansoeke vir belastingkrediete weens die beperkte verligting en moontlike dubbele belastingheffing – waar ’n Suid-Afrikaner op dieselfde inkomste belasting in sowel die gasheerland as in Suid-Afrika sal moet betaal.
Hoewel daar geen finale dubbele belasting sal wees nie – weens die moontlikheid om krediet te eis vir belasting wat reeds in die gasheerland betaal is – sal persone duidelik in ’n negatiewe kontantvloeisituasie as weerhouding van betaalstaatbelasting tegelykertyd in twee jurisdiksies plaasvind,” het SAIT in sy voorlegging genoem.