Daar sit ek in sak en as toe ek besef dat ek nie gou genoeg Duits sou kon praat om in Switserland te gaan kuns gee nie. Die glans van ’n opwindende avontuur in ’n vreemde land verdof in ’n stikdonker wolk van “Wat de os nou?”
Wat doen ek as ek nie kan skoolhou nie? Wie is ek dan?
Die penarie waarin die meeste “trailing spouses” hulle bevind, is om hulself in elke nuwe land te herontwerp.
Die beste vertaling wat ek daarvoor kon kry, is “nomadegade” vir die goeie dae en “sleepsel” vir die res.
Daardie dag was ek ’n sleepsel. Die deur na my droomwerk het in my gesig toegeklap. Nou moet ek aan ander deure gaan klop. My man kon sien dat dié vasvatvrou van hom sukkel om die feniks uit die as te laat verrys. Min het ek geweet dat my toekoms letterlik in daardie as gelê het en dat ek ’n hele nuwe lewe vir myself sou moes oopteken met die stukke in die as. Nee, nie die houtskool in jou braai wat na wors en tjops ruik nie, maar die as waarmee kunstenaars ander mense betower.
Wim torring al jare aan my om weer kuns te skep. Maar as ‘n mens ander mense leer hoe om kuns te skep, bly daar maar min tyd oor om dit self te doen. En kuns as stokperdjie is lekker, maar dit sit nie kos op die tafel nie. Om met kuns ’n inkomste te verdien, is nie maklik nie. Dit is juis daarom dat ek die makliker pad gekies en ’n kunsonderwyser geword het. Maar nou is klasgee nie meer ’n opsie nie, dus het ek niks om te verloor nie. ’n Mens kan nie verder val as jy reeds ’n sleepsel is nie; jy kan net boontoe.
Hy is pragtig en pryk vir maande trots bo ons bank. Met elke kuier is die buffel in die middel van die gesprek en sy storie loop later wyd. Uit die bloute bel kunstenaars, organisasies en galerye. Ek skrik my so wit soos die papier – so geïntimideerd dat ek amper weer tot op sleepselvlak daal en onder ’n klip gaan wegkruip. Maar toe besef ek die ander deur begin oopgaan, al is dit net op ’n skrefie.
Jinne, maar ek teken dat die stof so staan – letterlik, want daai houtskool dwarrel oral in die huis rond. Kort voor lank het ek darem dertig stukke om van te kies vir ’n uitstalling. Ek is op Facebook, Instagram en het ’n tuisblad.
’n Paar jaar later, met oor die dertig uitstallings agter die rug, meer as honderd en vyftig verkope en talle werkswinkels, gassprekergeleenthede en persverskynings, kan ek nie glo wat uit die as verrys het nie.
Nou kyk, dit was nie maklik nie. En moenie dink dat ek nie deur donker dieptes van selfvertwyfeling en kommer oor kontantvloei is nie. Daar was veel meer sleepseldae as fênsie nomadegade-dae. Maar waarom ek vandag dié stuk skryf, is om te sê wanneer ’n deur toegaan – nee, kliphard in jou gesig toeklap – is daar ’n ander deur wat oopgaan. En moenie dink jy gaan deur daardie deur wals nie – jy gaan hom waarskynlik moet oopstoot tot die sweet jou aftap of hom selfs met ’n byl afkap, soos ek! Maar moenie opgee nie. Ek weet hoe jy voel. Jy is nie alleen nie. Jy kan dit doen. Jy kan jouself herontdek, herskep en hope pret daarmee hê in die vreemde. Vind jóú buffel.