Nuut by LAPA in November

14/11/2018
| Deur AfriForum Wêreldwyd
anthony-tran-378336-unsplash

Ons begin met Afrikaans: Waar kom ons taal vandaan? Daar is ook ’n blokraai, twee krimi’s, heerlike kos, baie boeke vir die jongklomp en, natuurlik, romanse!

Taal

Van Afrikaans gepraat

Christo van Rensburg

9780799384765

R250,00

Van Afrikaans gepraat, ’n splinternuwe boek deur Christo van Rensburg, is nou te koop.

Waar het Afrikaans begin? Wie het eerste Afrikaans gepraat? Was die Kaap regtig Hollands?

Hoe het die Khoi en die Portugese met mekaar handel gedryf?

Watter rol het slawe gespeel in die ontstaan van Afrikaans?

Wat is die invloed van townships op Afrikaans?

Hoe het die verskeie trekke Afrikaans beïnvloed? Die taalkontak wat daaruit gevolg het, of selfs ook die vrees vir taalkontak, is een van Afrikaans se belangrike stories.

Die skryf van Afrikaans het op verskillende maniere begin, met sterk invloede uit die Islam. Afrikaans se standaardisering gaan met heelwat vertellings gepaard.

Die boeke is moontlik gemaak deur ’n ruim skenking van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en is ’n koproduksie tussen Malan Media en LAPA Uitgewers. Die boek word deur LAPA bemark en versprei.

Oor Van Rensburg se vorige boek, So kry ons Afrikaans, het Dr. Willa Boezak gesê: “Dit het my lewe verander. Dit het van my ’n taalaktivis gemaak.”

Prof. Christo van Rensburg is een van Suid-Afrika se bekendste linguiste. Hy was veral bekend vir sy werk op Afrikaans se dialekte. Hy het afgetree as ’n direkteur by die Eenheid van Taalvaardigheid aan die Universiteit van Pretoria.

Christo Van Rensburg is oorlede die aand toe hy aan die finale bladproewe gewerk het. Prof. Hans du Plessis het die projek verder bestuur namens die gesin.

Hierdie boek is dus ook ’n viering van Christo van Rensburg se bydrae tot Afrikaans. Dit is ook in Engels beskikbaar as Finding Afrikaans.

Grootdrukblokraai 2

Ollie Olwagen

9780799384758

R90,00

Langarm is ’n dansvorm, grootdruk is vir lekker lees.

Moet jy soms naarstig na jou bril soek voor jy ’n blokraaie invul? Ná die sukses van ons Grootdrukbloraai nr. 1, het ons nog een laat maak. Hier is dus nóg 27 blokraaie wat nie jou oë behoort seer te maak nie.

Grootdrukblokraai nr. 2 beloof, nes sy voorganger, om ure se woord- en raaiselgenot te verskaf, sonder dat jou oë onnodige stremming voel. Die boek het dieselfde bestanddele as ʼn gewone blokraaiboek – al verskil is dat jy baie makliker die blokkies kan invul, want alles is twee keer groter as in die gewone blokraaiboeke.

Grootdrukblokraai nr. 2 bevat 27 woordraaisels wat vir jou brein ’n uitdaging sal wees, nie vir jou oë nie.

Krimi’s

Soos ’n diep waterkuil

Peet Venter

9780799388312

R295,00

Is daar perke aan die wreedheid van mense wat glo hulle is verhewe bo die wet?

“’n Sedelose vrou is soos ’n diep waterkuil. ’n Verleidster is soos ’n put waaruit jy nie kan kom nie. Eers was daar een. Toe was daar twee. Nou is daar drie.” Die stem wat laatnag met speur-adjudant Jaap Helberg, beter bekend as Boel, oor die foon praat, is skor en die elokusie dik soos iemand met ernstige laringitis en ’n verstopte neus.

Die moordenaar hou van raaiselspeletjies. Hy bel Helberg met die slagoffer se selfoon, vertel hom waar hy haar lyk kan kry en stuur vir hom ’n video van hoe sy vermoor word.

Hierdie is sy derde slagoffer. Volgens die moordenaar is die ander twee “in ’n verlate, stil en skemer plek. In donker water wat nooit son sien nie. Daar is ou masjiene, reuse-bloekombome en ’n groot swart kruis wat met die son kom en gaan.”

In sy ondersoek kom Helberg af op ’n sindikaat wat met diamante smokkel en hoewel die twee sake drasties verskil, is hulle op ’n manier geknoop. In die makabere klimaks waarop dit uitloop skiet iemand vir Boel.

 

Dag drie

Jeanette Stals

9780799388343

R265,00

Luna Joubert se moed en vernuf word weer tot die uiterste beproef in Dag drie. Sy en haar medespeurder, Johan, vergesel vir Mike, ’n volbloed diepdekkingsagent, op ’n missie na Mauritius waar Mike met ’n informant kontak sal maak.

Luna en Johan moet die skyn van gewone vakansiegangers vir hom help bewaar, maar niks loop volgens plan nie. Hul eerste dag op die eiland lewer die lyk van ’n jong meisie wat ooglopend vermoor is. Die informant laat nie van hom hoor nie en hulle word uit die bloute deur wildvreemde mense ‘bevriend’. Rooi ligte flikker toe hulle genooi word vir ’n visvang-uitstappie op ’n luukse jag.

Kos

Clover Onthoukos

Clover

9780799371611

R255,00

Onthou jy?

Baie van ons het aangename herinneringe aan kos. Reuke, geure en smake bring dikwels nostalgiese gedagtes terug. Ons assosieer baie maal ’n gunstelingdis met ’n geliefde persoon, of ’n sekere tyd in ons lewens.

Die probleem is dat talle van die disse wat ons mag onthou, se resepte nie meer beskikbaar is nie. Sommige is weg saam met die persoon wat dit altyd gekook het, ander het gewoon verlore gegaan.

Clover Onthoukos bevat 55 resepte wat nagevors en ontwikkel is om die smake en geure van ouds te herskep. Die samestellers, by Clover, het hulle produkte só gekies dat die disse ’n sensasie van ’n ander era sal oproep.

Al 55 disse is afgeneem – en die foto’s alleen kan ’n mens honger maak.

Clover Onthoukos is een van daardie resepteboeke wat jy vir die volgende geslag sal wil bêre. LAPA en Clover is trots daarop om ’n deel van hierdie smaaklike nalatenskap te wees.

Die boek is ook in Engels beskikbaar as Clover Food Nostalgia.

Vir die jongklomp

Rondomtalie: Die beste rympies en liedjies van Jaco Jacobs

Jaco Jacobs

Plus: CD wat 30 liedjies bevat

Illustrasies: Karen Ahlschläger

Musiek & Sang: Anna Davel

Ouderdom: 3+

9780799389357

R200,00

Hope kleuterpret met ’n CD by!

Wat kry jy wanneer drie van die land se talentvolste kunstenaars kragte saamspan om ’n kleuterboek en CD die lig laat sien? Hope pret, natuurlik!

In Rondomtalie verskyn ’n prettige keur uit die gewilde en bekroonde kinderrympie-koning Jaco Jacobs se kleuterversies. Die boek is pragtig deur die talentvolle kunstenaar Karen Ahlschläger geïllustreer. Om als te kroon, bevat die boek ook ’n CD waarop die veelbekroonde toonsetter en sangeres Anna Davel haar fantastiese toonsettings van al 30 versies sing!

Kom ry saam op die Teddiebeerbus, ontmoet vir Bambino die reus van Bitterbos, galop op die rug van ’n wilde perd, soek goggas in die tuin of hou ’n kussinggeveg!

Die boek bevat altesaam 30 rympies en 30 liedjies.

Hierdie pragpublikasie beloof ure se vermaak vir kleuters – en is ’n trotse toevoeging tot enige kleuter se boekrak en musiekversameling!

Jaco Jacobs is die skrywer van meer as 140 boeke vir tieners, kinders en kleuters. Meer as ’n miljoen kopieë van sy boeke is reeds verkoop en hy spog met talle bekronings, waaronder die Alba Bouwerprys, die CP Hoogenhoutmedalje, die Exclusive Books/IBBY-prys, die Tienie Hollowaymedalje en 24 ATKV-Kinderboektoekennings. Jaco woon in Bloemfontein saam met sy vrou, Elize, sy dogtertjies, Mia en Emma, drie honde, ’n kat en ’n troetel-luislang. Die luislang gee lekker drukkies, maar kan nie sssssssso goed rympies opssssssssssê nie.

Karen Ahlschläger is in Oos-Londen gebore en het ’n Nasionale Hoër Diploma in Grafiese Ontwerp behaal. Daarna het sy olieverfskilder aan die Michael Pettit-kunsskool in Kaapstad gestudeer. Sy het haar loopbaan as grafiese ontwerper, boekontwerper en rekenaargrafikadosent afgeskop, en het reeds kommersiële werk vir verskeie maatskappye asook plaaslike en internasionale uitgewerye gedoen. Sy was ook die illustreerder van Jaco Jacobs se Die Teddiebeerbus en ander rympies en Holderstebolder: Rympies vir rakkers.

Anna Davel bekoor gehore reeds twee dekades lank met ’n kombinasie van haar rokerige stem, sielvolle optredes en pragtige oorspronklike komposisies. Haar musiekloopbaan het in 1997 afgeskop toe sy die ATKV Crescendo-kompetisie met ’n oorspronklike komposisie gewen het. Nadat sy haar Diploma in Ligte Musiek/Jazz in 1998 aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie voltooi het, het sy die wêreld saam met die a cappella-groep Cutt Glass platgetoer. Haar sololoopbaan het in 2003 afgeskop, en sy het nege hoog aangeskrewe albums en ’n magdom oorspronklike liedjies die lig laat sien. In 2006 is haar solodebuut met die gesogte SAMA vir beste Afrikaanse volwasse kontemporêre album bekroon, en sy was ook as aktrise in rolprente soos Susannah van Biljon en Suurlemoen! te sien.

My eerste boek oor honde

Dorling Kindersley

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 7+

9780799390506

R130,00

Ontdek alles wat jy nog altyd oor honde wou weet, van verskillende rasse, eienskappe en versorging, tot fassinerende inligting oor hoe honde met ons en met ander honde kommunikeer.

Hierdie boek is perfek vir enige iemand wat van honde hou, of jy nou reeds ’n honde-eienaar is, of daarvan droom om jou eie hond te kry.

Leer wat honde met hul liggaamstaal wys, waarvan hulle droom wanneer hulle slaap, en wat hulle vir ons probeer sê. Kom beleef die wonderlike wêreld van honde met hierdie nuttige gids propvol fantastiese foto’s en skattige feite oor honde.

Vind uit hoe verskillende rasse se unieke eienskappe van mekaar verskil, leer hoe om jou beste vriend te versorg sodat sy stertswaai-gelukkig en gesond bly en verstom jou aan hierdie wonderlike diere se supersintuie en ratse toertjies.

Op My Planeet, die beste rympies van Jaco Jacobs

Jaco Jacobs

Illustrasies: Zinelda Mcdonald

Ouderdom: 7+

9780799390636

R250,00

Welkom op ’n planeet propvol pret!

Jaco Jacobs se planeet is ’n vreemde, fantastiese, vrolike plek waar ENIGE iets kan gebeur. Daar kan wurms met tamatiesous op jou spyskaart wees, of ’n walvis kan in jou sop beland. Jy kan uitvind hoe ’n skoonheidskompetisie vir monsters werk, of die waarheid oor haaie uitvind. Jy kan ontdek jou boetie is ’n ruimtewese, jou troetel-dinosourus saamgaan skool toe, of ’n luislang kan jou ouma insluk!

Haai, jy daar –

hou op met staar!

Kom staan bietjie nader en groet.

Mens sal sweer

dis die eerste keer

dat jy iemand met skubbe ontmoet.

Daar is deesdae byna nie ’n eisteddfod, kunswedstryd of klaskamer in die land waar Jaco Jacobs se skreeusnaakse, lawwe rympies nie gehoor word nie.

Hierdie reuse-rympieboek bevat van die gewildste verse uit Jaco se bundels wat oor die jare verskyn het, en daar is ook ’n paar SPLINTERNUWE rympies as bonus!

Jaco Jacobs is die skrywer van meer as 140 boeke vir tieners, kinders en kleuters.

Jaco woon in Bloemfontein saam met sy vrou, Elize, sy dogtertjies, Mia en Emma, drie honde, ’n kat en ’n troetel-luislang. Tot dusver kon die luislang dit nog nie regkry om iemand se ouma in te sluk nie.

Die dag toe Ernst ’n ertjie geëet het

Jaco Jacobs

Illustrasies: Johann Strauss

Kleuterfiksie

Ouderdom: 3+

9780799389401

R135,00

Ontmoet vir Ernst, Ernst de Vos. Hy eet so ampertjies enige kos: hamburgers, pizza, herderspastei, spaghetti, bobotie (met geelrys daarby), pampoenkoekies, kerrievis, blomkool en beet, maar Ernst WEIER om ertjies te eet.

Almal probeer vir Ernst oorreed om ’n ertjie te eet: Sy ma vertel vir hom dat selfs BEROEMDE popsangers dit elke dag eet – dalk moet hy dit ook probeer as hy beroemd wil word; sy pa bied aan om vir hom meer sakgeld te gee as hy ertjies sal eet – hy kan SKATRYK word, sy juffrou vertel vir hom dat ertjies amper ’n hele alfabet vol vitamiene bevat wat jou baie STERK maak. Dit help nie. Ernst weier om ertjies te eet.

Op ’n dag, toe niemand kyk nie, eet hy egter een piepklein ertjie. Meteens begin die vreemdste dinge met Ernst gebeur! Hy word so BEROEMD soos ’n rockster… hy word SKATRYK… hy word ’n STERK superheld wat die wêreld met sy ertjiegeweer red!

Beteken dit hy gaan van nou af ertjies eet?

Hierdie lawwe, rymende prenteboek met sy verrassende einde sal selfs die kieskeurigste kleuter ’n ruk lank van alle kosfiemies laat vergeet! Wees versigtig: dalk kry jy selfs lus om aan ’n ertjie te proe.

Die illustreerder, Johann Strauss, woon in Pretoria. Hy het al ATKV-Kinderboektoekennings en die M.E.R.-prys vir sy skets ontvang.

Jaco woon in Bloemfontein saam met sy vrou, Elize, sy dogtertjies, Mia en Emma, drie honde, ’n kat en ’n troetelluislang. Sy hele gesin eet soms ertjies. Wel, ons jok. Die luislang eet nooit ertjies nie.

Stalmaats Omnibus 2

Lize Roux

Ouderdom: 9+

9780799389302

R185,00

Die volgende vyf boeke in die Stalmaats-reeks verskyn nou saam in een lekkerlees-omnibus. Deur hulle saam uit te gee, kan ons elke storie verkoop teen ongeveer R37,00 elk – alles pogings van LAPA om kinders aan die lees te hou in benarde ekonomiese tye.

Kom word deel van die pret en avontuur by die Dagbreek-ryskool saam met Anri, Megan, Karen en die ander Stalmaats!

Of hulle nou aan ’n perdekompetisie deelneem, vakansie by die see gaan hou, of geld insamel om mishandelde en hawelose perde by ’n skuiling te red, waar Anri en haar maats is, sal daar altyd hope pret wees! Natuurlik is die katterige Vinette gedurig besig met allerlei planne om die lewe vir die res van die Stalmaats moeilik te maak.

Dan is daar Jacques, die ryskooleienaars se seun met sy blou oë, wat net so mal is oor perde en Anri se hart vinniger laat klop.

Hierdie omnibus bevat die volgende vyf titels:

  • Komaan, Karen!
  • Seeponies
  • Roset
  • Vrye Teuels
  • Gevaar op Dagbreek

Romanza

Vir ewig my altyd

Elsa Winckler

9780799388374

R225,00

Lien Morkel trap ’n slegte stel af met ’n baas in die hospitaal waar sy werksaam is. Sy gaan help uit op Haïti vir Dokters Sonder Grense en by haar terugkoms trek sy Kaap toe, waar sy by ’n mediese praktyk in Melkbos aansluit. Om in Nicol le Roux, haar nuwe skoonsuster se broer vas te loop, is ’n skok – hy was een van die redes hoekom sy weg is uit Johannesburg.

Nicol le Roux verhuis Kaap toe waar hy mede-direkteur word van ’n fondsbestuurmaatskappy. Die laaste mens wat hy verwag om in die Kaap raak te loop, is Lien, sy nuwe swaer se suster. Sy is een van daardie ‘moderne’ vroue wat alles self wil doen en geen hulp van ’n man wil hê nie.

Maar nou is al twee in die Kaap en beide van hulle kom agter soms het jy tog hulp nodig, al is dit uit die laaste oord waar jy dit vandaan wil hê.

Elsa Winckler maak gebruik van interessante karakterisering. Die held is ’n introvert, en die heldin ’n mediese dokter.

Soos altyd skitter Else se sin vir humor, ook in hierdie boek. Sy het al talle pryse gewen, en hierdie boek wys nog eens waarom. Hierdie is haar tweede SuperRomanza, en volg op Bewustelik joune.

My groot liefde

Elsa Winckler

9780799390988

R90,00

Katryn is tevrede met haar lewe, totdat sy eendag opkyk en ’n groot blonde man met Chris Pine-blou oë in haar deli sien stap. Vir die eerste keer in jare spring haar hart regop met ’n en-wat-het-ons-hier?

Liefde vir ’n cowboy

Didi Potgieter

9780799391015

R90,00

Ami is New York se gunstelingstouderd, Brad is die goue seun van Country-musiek. Hul Las Vegas-troue is ’n skandaal, maar hulle moet voorgee om verlief te wees om hul families te beskerm. Maar Ami beleef by Brad iets wat sy gedink het nie meer bestaan nie – liefde sonder voorbehoud.

Leisels na liefde

Cecilia Steyn

9780799388251

R90,00

Olivia is ’n Jordaan en Markus is ’n Verhoef. Die vete tussen hul families laat die Montagues en Capulets soos vriende lyk. Wanneer hy haar egter sien, struikel sy hart en ruk iets soos liefde in sy binneste.

Liefde binne die wet

Magda Schmidt

9780799388282

R90,00

Ingrid is sedert hul eerste ontmoeting op ’n agtervoet met Martin Steyn, maar hy is haar dosent en sy mag hom nie aantreklik vind nie. As die glinstering in sy oë net nie deur haar verdediging breek nie.

 

 

Deel op

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels