Nuut by LAPA in Oktober

06/10/2020
| Deur AfriForum Wêreldwyd
pexels-mentatdgt-1319854

LAPA spog met ʼn hele paar nuwe boeke, en soos altyd is daar lekkerlees boeke vir elke boekrak.

DROOMVANGER
Chanette Paul

DIE BOEK

Sy stoei vir asem …

Die mistigheid  is klam  en koel  en dwarrel  in vlae teen  haar  vel. Sy sak weg daarin. Los daarin op. Die mis rol nog digter teen haar aan, begin haar versmoor. Sy asem die digte klamheid hortend in. Nou is dit ook binne-in haar. Sy stoei vir asem …

Die droomwip  moes  haar drome  verklaar,  maar  sy weet steeds  nie wat hulle inhou nie.

Die  runesteen  moet  haar  beskerm,  maar  die eerste  aand  op die plaas  in die Maluti’s is daar ʼn moord.

Die antieke manuskrip kan dalk haar toekoms verseker … as sy oorleef.

Al die elemente  is daar vir ʼn lekker lees, en boonop is daar genoeg misterie en angswekkende gebeure om jou tone te laat krul van vrees.” – Wilna Adriaanse

WAT MAAK HIERDIE BOEK ANDERS?

  • ʼn Herskryf van Wip van die droomvanger wat in 1990 verskyn het.
  • ʼn Klompie uiteenlopende karakters word saamgegooi in ʼn afgeleë bestemming, moorde word gepleeg, en almal kan die skuldige wees.
  • Lesers van Agatha Christie sal plesier vind in die storielyn wat baie raakpunte het met verhale soos bv. Murder on the Orient Express en Death on the Nile.

DIE SKRYWER

Chanette Paul pendel  tussen twee tuistes:  haar oewerhuisie  in die Overbergse dorpie,  Stanford,  waar  die  man  in  haar  lewe ’n  rivierboot  bedryf,  en  haar skryfplek naby die suidelikste punt van Afrika. Chanette is ’n katliefhebber en smoorverlief op haar dowe kat, Thomas. Sy is ’n leesvraat, ’n onbehendige tuinier en ’n hopelose kok. Sy is lief vir swem en snorkel, en hoop sy sien eendag ’n meermin.

DIE GOEIE SUSTER
Henda Olivier

DIE BOEK

Die geheim van ʼn goeie leuen is om altyd bietjie waarheid by te voeg …

Mila Berg is seker van een ding: Sy en Markus hoort saam. Vandat sy hom die eerste keer gesien het, was haar hart syne. Die feit dat hy ʼn vrou en kinders het maak geen verskil nie, want Mila het ʼn plan. Sodra sy haar regmatige plek in sy gesin inneem sal die verlede nie meer saak maak nie.

Haar streng pa se frons sal nie meer rillings teen haar ruggraat afstuur nie. Haar ma sal haar weer in die oë kan kyk. Die liters bloed op die kombuisvloer sal skoongewas word. Hulle almal sal haar sien, raaksien vir meer as die goeie suster. Mila se werklike lewe is binne haar bereik. Al wat sy moet doen is kophou.

WAT MAAK HIERDIE  BOEK ANDERS?

  • ʼn Baie sterk debuut binne domestic noir met ʼn onbetroubare verteller en ʼn onverwagse wending teen die einde.
  • Hierdie keer is rolle omgeruil: Die vrou is die een wat die obsessie met ʼn manlike objek ontwikkel.
  • Die verhaal speel op emosionele vlak met die leser; jy sal voortaan twee maal dink oor “toevallige” ontmoetings of vriendskappe.

DIE SKRYWER

Henda Olivier is vier-en-dertig jaar oud en bly tans in Auckland saam met haar man en haar twee kinders. Sy is ʼn oud-onderwyseres (al is sy nog nie oud nie) en deesdae ʼn voltydse skrywer. Haar gunstelinggoed is goeie rooiwyn, ʼn skaaptjop, om mense in koffiewinkels af te luister en adrenalien-lose aktiwiteite.

OM WEER TE DROOM
Elsa Winckler

DIE BOEK

Nagmerries word soms mooi drome

Lizet  Vos  ontdek  tydens  die  opruim  van  haar  vermoorde  suster  se woonstel Marina se kluitklaplys. Hierna probeer sy om alles op dié lysie te doen – al is al die gewaagde, gevaarlike dinge eintlik heel teen haar aard. Haar eie drome skuif sy  ver  agtertoe. Totdat  haar  broer  Evan  se  lewe  met  dié  van  Anya  Breedt verstrengel  raak. Nou vorm  Stephen  en sy dogtertjie  Soekie  deel van familiekuiers.

Stephen spartel om na sy vrou se dood die balle in die lug te hou; hy het geen tyd vir ʼn donkerkop met blou oë wat hom hinder nie. Soekie mag dalk in Lizet se klas wees, maar hy is vasbeslote om juffrou Vos te vermy. Na ses maande kan hy egter die uitnodiging om klasbesoek te doen nie verder ignoreer nie.

Vir  die lewe  om sin te maak,  moet  Stephen  en Lizet  beide  opnuut  hulle  eie drome ontdek.

WAT MAAK HIERDIE BOEK ANDERS?

  • ʼn Inspirerende verhaal wat die impak van trauma ondersoek en die belangrikheid van hoop en drome beklemtoon.
  • Die tweede titel in die reeks (voorafgegaan deur Ware noord).

DIE SKRYWER

Elsa Winckler is op Upington gebore. Sy is ’n internasionaal-gerekende romanseskrywer  en  woon  saam  met  haar  man  op Bettysbaai.  Elsa  skryf  in Engels én Afrikaans en is internasionaal gepubliseer deur uitgewers soos HarperImpulse en Tule Publishing.

’N BROODJIE  VIR DIE LIEFDE
Rina Cilliers

DIE BOEK

Miskien is daar tog ʼn storieboek-einde vir die twee van hulle?

Comine Verbeuk is lelik in die steek gelaat deur ʼn man. Daarom aanvaar sy die werk om op ’n afgesonderde plaas naby George ʼn skrywer met sy manuskrip te help. Dit is die perfekte plek om die spoke van die verlede te begrawe, haar kop skoon te kry en mans finaal af te sweer.

Die mense op Seekamee herinner Comine egter aan ʼn tyd toe sy ook gelukkig was, voor haar ouers se dood en voor Len se verraad. Boonop lyk Sven soos ’n Noorman,   noem  haar Twiggy  en  veroorsaak   ’n  meteorietstorting   in  haar binneste  wanneer  hy ’n vertrek  binnestap.  Hy  is stug,  streng  en allergies  vir vroue.

Miskien is daar tog ’n storieboek-einde  vir die twee van hulle?

WAT MAAK HIERDIE BOEK ANDERS?

  • Die titel verwys na ʼn Kroasiese legende waarin ʼn meisie vir haar geliefde brood bak om haar liefde te verklaar.
  • Sven is, met sy lang blonde hare en dik baard, ʼn ware mitologiese held – en enige vrou se droom.
  • Die verhaal is die modern weergawe van die tradisionele plaasromanse.

DIE SKRYWER

Rina Cilliers woon saam met haar eggenoot op Hartenbos, sogenaamd afgetree. Sy was bevoorreg om voltyds ma (van vier kinders) en tuisteskepper te wees, het al vele kere in haar lewe op verskeie plekke gebly, maar hulle kinders het hoofsaaklik  skole en universiteit  in Pretoria  bygewoon,  waar hulle vir 25 jaar gebly het, en daarna Kaap toe en toe Greyton toe wat die punt van haar hart was. Buiten ma en vrou wees, is haar lewe interessant, kreatief en bowenal, positief; dis in hierdie gees wat hulle ’n hegte familie gevorm het.

LIEFDE VAN HAAR LEWE
Dina Botha

DIE BOEK

Moet sy vir hom veg of moet sy vlug?

Esti de Beer se nuwe buurman is steeds onmoontlik aantreklik, maar Omar is nie meer die verliefde tienerseun wat in die vervalle huis langs hare woon nie. Hy is nou ’n kosmopolitaanse prokureur wat nie uit haar sake kan bly nie. Omar met sy ongevraagde besorgdheid herinner haar aan ʼn tyd toe sy werklik gelukkig was, maar ook aan ʼn aand wat sy eerder wil vergeet.

Omar de Vries onthou vir Esti goed … Inteendeel, hy kon nie die snobistiese buurmeisie wat hom om haar pinkie gedraai het uit sy gedagtes kry nie. Die noodlot het haar terug gebring na Jagersville, maar hoe gaan hy haar dié keer laat bly?

WAT MAAK HIERDIE BOEK ANDERS?

  • Liefde van haar lewe is Dina Botha se 70ste Romanza.
  • Die heldin is ʼn kunstenaar, sterk en baie onafhanklik.
  • Dina Botha spreek belangrike temas soos fisiese mishandeling en die emosionele impak van intimiteit aan.

DIE SKRYWER

Dina Botha glo liefde is soos om ’n klippie in ’n poel water te gooi. Die rimpeleffek kan nie anders as om ander mense se lewe te raak nie. Daarom skryf sy al vir 11 jaar liefdesverhale. Sy is in Pretoria gebore en woon in Centurion. Op skool het sy Ena Murray, Elmar Steyn en ander bekendes se boeke verslind.

SOETER AS KONDENSMELK
Lizelle von Wielligh

DIE BOEK

Vergeet en vergewe

Leane kan haar dalk nog met twee jaar se geheueverlies versoen, maar nie om aan die mooie boer Rudolf met sy kakieklere verloof te wees nie! Hy is allesbehalwe haar droomman en boonop trou hulle oor ses dae. Toe hy haar uitkomkans gee, wys sy dit egter van die hand. Is dit haar gewete of sy donker oë wat haar weerstand afbreek en terselfdertyd noop om voort te gaan met die troue?

Om liggaam en siel aan hom te gee, is egter nie so eenvoudig nie. Daarby verskyn sy beste vriendin op die toneel – haar huwelik feitlik op die rotse en haar man galbitter omdat sy die grond aanbid waarop Rudolf loop.

WAT MAAK HIERDIE BOEK ANDERS?

  • Die heldin ly aan geheueverlies en moet haar verloofde opnuut leer ken.
  • ʼn Belangrike  tema  in  die  verhaal  is  die  impak  van  alkoholmisbruik  op familielede en die krag van rehabilitasie.

DIE SKRYWER

Met ʼn B.Compt. graad agter haar naam, sou Lizelle von Wielligh nooit kon droom om die pen op te tel en te begin skryf nie, maar toe bring die Here ʼn onverwagse draai op haar pad wat haar meer vervuld laat as wat sy ooit kon droom. Deesdae vind sy dit baie meer stimulerend om haar gedagtes kreatief aan te wend eerder as om syfers op die rekenaar te laat klop.Haar gesin kom altyd eerste in haar lewe. Sy is voltyds betrokke by haar kinders en is bevoorreg om ʼn “gelukkige einde” saam met haar man te leef. As sy nie skryf nie, moet haar hande besig bly met ʼn handwerkie. Sy is ook lief vir die natuur; veral die plaaslewe. Haar idees kry sy meestal op haar daaglikse wandeling deur die denneboomplantasies.

SONROEPER
Wilreza Smit-Theron

DIE BOEK

Sy moet haar plekkie in die son kry

Zea, ʼn talentvolle pottebakker, moet na haar pa se dood vir haar ʼn nuwe lewe skep – en ʼn kunsuitstalling in mooie Milaan bied haar juis daardie geleentheid. In Italië het sy nie tyd om te wonder oor die geheimsinnige mense wat langs haar intrek of die sexy vreemdeling wat sy vlugtig ontmoet nie. Totdat sy dié man weer in ’n katedraal sien. Sy glo nie aan toeval nie, maar wat van die noodlot?

In Italië ontdek Zea ’n ander sy van haarself. ’n Sy wat onmoontlik aangetrokke tot Antonio Vinetti is. Met sy warm soene en die beeldskone Paola wat altyd by hom ingehaak is, het Zea egter genoeg rede om hom te wantrou.

WAT MAAK HIERDIE BOEK ANDERS?

  • Die hoofkarakters is beide kunstenaars wat die trauma moet verwerk om familielede in tragiese ongelukke te verloor.
  • Deeglike navorsing oor Italië verseker dat die ruimte geloofwaardig en aanloklik is.
  • Sonroeper is ʼn heerlike ontvlugting in die Italiaanse kunswêreld.

DIE SKRYWER

Wilreza Smit-Theron is in 1964 in Pretoria gebore en het in die Kaap skoolgegaan. Na sewentien jaar het sy uit die onderwys bedank en is tans ’n vryskutvertaler/proefleser. Sy het nog altyd met stories in haar kop rondgeloop, maar nie geweet hoe om dit op papier neer te skryf nie. Daar het onlangs twee tienerboeke van haar by ’n ander uitgewersmaatskappy verskyn. Sy woon in Loevenstein naby Durbanville en in haar vrye tyd lees sy graag, fliek, draf, speel met haar vier Bassets en probeer drie tieners grootkry.

ROMANZA NOSTALGIE: DIDI POTGIETER

DIE BOEK

Met hierdie versamelitems vier ons vyftien jaar van ontspanning, ontvlugting en pure bederf.

Leer my liefhê

Toe Diaan uiteindelik haar studieleier ontmoet, is hy allesbehalwe  ’n verstokte ou man, hoe onverbiddelik hy ook al is. En hy weet van iets uit haar verlede wat haar drome oor hom fataal maak.

Hoe om ’n hart te wen

Janke  was van altyd  af verlief  op haar  grootwordmaatjie,  Louw.  Maar  nou is Louw verloof en hy trou binnekort.  Janke en Henry gaan voorgee dat hulle ’n paartjie is om Louw jaloers te maak en sy oë oop te maak, maar hulle hou nie rekening met Kupido se streke nie.

WAT MAAK HIERDIE BOEK ANDERS?

Romanza Nostalgie is ’n terugblik na die eerste titels van ons gewildste Romanza-skrywers  – daardie romanses wat lesers besonder baie geniet het. Daar verskyn ses titels in die Romanza Nostalgie-reeks: Madelie Human, Dina Botha, Rosita Oberholser, Didi Potgieter, Elsa Winckler en Alma Carstens. Met hierdie versamelitems vier ons vyftien jaar van ontspanning, ontvlugting en pure bederf.

DIE SKRYWER

Didi Potgieter woon op Potchefstroom. Haar eerste Romanza, Leer my liefhê verskyn in Januarie 2014 en daarna sien vele ander Romanzas die lig. Met soveel onvertelde stories in haar kop en hart, hoop sy om dit nog lank te kan doen. Didi wen die ROSA Imbali-toekenning  met Liefde vir ’n ridder en was al twee keer ’n finalis vir die ATKV-Woordveertjiesprys vir romanse.

NIE FIKSIE

MOET ONS WAAI?
OM TE EMIGREER OF NIE:
20 MENINGSVORMERS SÊ

Saamgestel deur Alet Law

DIE BOEK

Die debat oor emigrasie is so oud soos Suid-Afrika se demokrasie self. Toe die “nuwe Suid-Afrika” in 1994 aangebreek het, het talle mense die land verlaat uit vrees vir wat ‘n meerderheidsbewind sou inhou. Nog meer het in die jare sedertdien getrek opsoek na ‘n beter lewe en Suid-Afrikaanse gemeenskappe is nou in plekke soos Kanada, Engeland en Australië te vinde.

Vandag, 25 jaar ná demokrasie en in die lig van kwynende optimisme oor die toekoms van die land, is daar nuwe lewe in die debat oor emigrasie. Hierdie keer word dit nie net in reaksionêre kringe gevoer nie, maar om die eetkamertafels van meerdere Suid-Afrikaners.

Met die realiteit van nege vermorste jare wat aan ons beursies en toekomsmoontlikhede knaag, en die aanloklike geleenthede wat die globale ekonomie bied, vra al hoe meer mense, “Moet ek waai?”

In Moet ons waai? takel meer as 20 van Suid-Afrika se voorste meningsvormers, insluitend Piet Croucamp, Dana Snyman, Melanie Verwoerd en Jonathan Jansen, hierdie vraag. Dit is poging tot insig oor ‘n kwessie wat swaar weeg op ons kollektiewe psige, en ‘n uitdaging aan elke persoon wat dit oorweeg om te waai, reeds gegaan het of besluit het om te bly om te floreer as Suid-Afrikaners waar ook al hulle hulself mag bevind.

WAT MAAK HIERDIE BOEK ANDERS?

  • Dit is die eerste boek wat hierdie kwessie by die horings pak.
  • Ingeligte meningsvormers, insluitend Piet Croucamp, Dana Snyman,

Melanie Verwoerd en Jonathan Jansen, om net ’n paar te noem, bespreek een van die moeilikste vrae waarmee Suid-Afrikaners soms worstel: Moet ons waai?

  • Die boek bied insig aan Suid-Afrikaners wat reeds weg is, wat beplan om te emigreer of dié wat besluit het om te bly.
  • Die meningsvormers se menings word op ’n positiewe manier oorgedra.

DIE OUTEUR

Alet Law is die nuusbrief- en leserbetrokkenheidsredakteur by News24 en voormalige meningsredakteur. Sy het ‘n PhD in politieke kommunikasie aan die Universiteit van Kaapstad verwerf.

KINDER EN JEUG BOEKE

JUSTIN FORTUIN, SEEROWER
Theresa van Baalen

DIE BOEK

Justin Fortuin kuier nog lekker saam met sy ma by tannie Mary in die geheimsinnige Kasteel Boekanier. Dit is ’n reënerige dag wanneer hy en sy vriend Liam ontdek dat die kasteel nie net twee geheime tonnels het nie, maar drie. Waarheen lei die derde tonnel?

Die seuns besluit om die tonnel te verken en beleef ’n opwindende avontuur vol raaisels en geheime. Hulle kom ook op ’n ou seilskip af wat geanker is in ’n versteekte baai. Wat het dit met die kok Nicolas te doen? Is Nicolas dalk ’n seerower? Wie is Jessie, wat in die agterste kajuit van die skip aangehou word? En wie is die ware erfgenaam van Kaptein Verwoes se skat?

VERKOOPSINLIGTING

Hierdie is die tweede boek in die reeks. Die eerste boek, Justin Fortuin, skattejagter, het in Februarie 2020 verskyn en toon goeie verkope.

DIE SKRYWER

Theresa van Baalen beskou dit ’n wonderlike voorreg om kinderstories te kan skryf, juis omdat dit soveel ruimte bied vir kreatiwiteit. Kinderstories sal altyd haar eerste liefde wees. Haar alter ego, Cheryl Rogers, skryf romanses vir Lapa Uitgewers se Romanza-reeks. Cheryl is Theresa se tweede naam, en Rogers haar nooiensvan, so dit was ’n logies keuse vir ’n alternatiewe skrywersnaam. Solank sy elke dag kan skryf, hetsy as Theresa of as Cheryl, is sy op haar gelukkigste. Sy woon tans op Hermanus, maar haar hart is, en sal altyd, in Port Nolloth wees.

WAT MAAK HIERDIE BOEK ANDERS?

Theresa van Baalen is onder meer bekend vir die Sanri Steyn-reeks, wat ’n speurreeks vir dogters is. Die Justin Fortuin-boeke is weer gemik op seuns met speurelemente en avontuur daarby.

In die ouderdomsgroep is daar min boeke wat gemik is op seuns van 11+; daarom vul hierdie boek ’n gaping in die mark.

STORIEKAROS
Wendy Maartens

DIE BOEK

Hierdie bundel stories is ʼn karos waarmee jy jou kind opnuut kan koester. Daarmee saam kom die genadegawe om waarlik mekaar se harte te hoor. Om dit reg te kry het jy nie geld of goed nodig nie. Al wat nodig is, is om vir slegs 20 minute elke aand sonder die selfoon, TV en al die 1001 dinge wat jou aandag deur die dag opeis vir jou kind ʼn storie te lees. Die sleutel tot behoorlike lees- en taalvaardigheid begin lank vóór gr. R – by iets eenvoudig soos ʼn slaaptydstorie en jou onverdeelde aandag.

’n Ideale boek vir jou kleinding wat hou van stories, rympies en speletjies.

VERKOOPSINLIGTING

Wendy Maartens se boeke met versamelde stories is baie gewild. Van Die mooiste dierestories is meer as 9 000 kopieë verkoop, van Eendag op ’n reëndag meer as 6 000 kopieë, van Waarom Kameelperd se nek so lank is en ander dierestories is reeds meer as 4000 kopieë verkoop.

WAT MAAK HIERDIE  BOEK ANDERS?

  •  ’n  Fantastiese geskenk vir  enige jong storieliefhebber.
  • Perfek vir voorlees of selflees.
  • Hierdie  boek  bied  uitstekende opvoedkundige  waarde  omdat  dit ideaal is om in die klas te gebruik.

DIE SKRYWER

Wendy Maartens het grootgeword op Worcester, waarna sy op George skoolgegaan en gematrikuleer het. Sy woon tans op Melkbosstrand. Wendy is veral bekend vir haar hervertellings waarin sy nuwe lewe lewe in bekende en geliefde verhale blaas en die klassieke stories vir jong lesers toeganklik maak. Sy is die skrywer en samesteller van boeke soos Sprokies en ander gunsteling-stories, Die mooiste dierestories, Eendag op ’n reëndag, Vertel vir my ’n storie, Waarom Kameelperd se nek so lank is en ander dierestories, Towertapyt, Sylvester, ramkat van die Groot-Karoo en Halala Job Maseko. Webwerf: https://www.wendymaartens.co.za

DIE ILLUSTREERDER

Megan Bird is ’n Suid-Afrikaanse illustreerder wat in Pretoria bly. In samewerking met TBWA Durban en die aangepaste ateljee in Space Ace het sy die Assagi-leiersprys ontvang. Met jare se ondervinding agter die rug is sy absoluut passievol oor illustrasie en ontwerp en sit sy haar hart en siel in haar werk. Sy spesialiseer in natuur- en opvoedkundige illustrasies.

STERRE VIR DIE DONKER
Noreen Nolte

DIE BOEK

Dit is aaklig om op amper sewentien so baie dinge nie te weet nie. Nie te weet of jou ma dalk reg is en jy net ’n pil moet drink om die donkerte te keer nie, nie te weet of jou broer se ambisie hom die kluts gaan laat kwyt raak nie. Om nie eers te praat oor die feit dat jy glád nie te weet wat jy met die res van jou vreeslike gemiddelde lewe wil doen nie.

En die een persoon wat alles sou verstaan het, is vir altyd weg.

Gelukkig bring die nuwe jaar ’n paar veranderinge wat Helena so ’n bietjie ligter laat voel. Haar viool begin weer sing, en sy besluit om self antwoorde te begin soek. Ongelukkig is ’n antwoord egter nie altyd goeie nuus nie …

Hoe kón sy Luca met die duifgrys oë se gesels, sy hand om hare, so heeltemal verkeerd verstaan het? Kan een dom-onnosele besluit se gevolge regtig so ver uitkring dat dit iemand se toekoms sal vernietig? Ergste nog, wat presies moet sy met al hierdie antwoorde doen? Helena begin dink dat om nie te weet nie, dalk tóg beter is.

Skielik klink weghardloop na ’n goeie plan … maar is dit?

VERKOOPSINLIGTING

Een van Noreen se ander titels, Om te dans, is geskryf vir dieselfde teikenmark. Dié titel het 3 000 kopieë verkoop met sy verskyning in 2018.

DIE SKRYWER

Noreen Nolte bly in die Boland saam met haar gesin. Haar liefde vir woorde kom al van haar kinderdae in ’n huis vol boeke af. Sy het in 1995 in Somerset- Wes gematrikuleer en in 2002 haar M.Sc. in voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Sy het vir ’n paar jaar in die voedselbedryf gewerk, van die Noord-Kaap tot in Gauteng. Hier het sy ’n jare lange liefde vir ballet vol sirkel getrek deur as balletonderwyseres te kwalifiseer. Haar gesin was vir ’n paar jaar haar primêre fokus; maar toe sy opnuut die lekkerte van boeke saam met haar kinders ontdek, het dit ’n lus vir skryf by haar wakker gemaak.

WAT MAAK HIERDIE  BOEK ANDERS?

In hierdie pragtige roman moet die hoofkarakter, ‘n normale meisie,  met aller- lei grootword-probleme worstel, soos die dood van ‘n geliefde, groepsdruk en eerste liefde.

MÔRE AS ONS GROOT IS
Fanie Viljoen

DIE BOEK

Môre begin die toekoms …

Dis matriekafskeid  – die wonderlikste  aand  in elke tiener  se lewe.  Maar  wat gebeur  wanneer  dit  verby  is,  wanneer  selfs  die  after  party  end  kry?  Vier jongmense  staan op die grens van hulle grootmenslewe.  Liza, Quin, Noku en Wayne  kom  elkeen  uit  verskillende  agtergronde  en  die  toekoms  lyk  ook  vir elkeen van hulle anders.

In hierdie dramateks neem vier vriende afskeid van hulle skool, hulle vriende, hulle kindwees … en dalk hulle drome.

VERKOOPSINLIGTING

Fanie Viljoen het voorheen ‘n drama gepubliseer genaamd Betower die drama. Die boek is voorgeskryf by FET-skole en het al meerdere herdrukke beleef.

DIE SKRYWER

Fanie Viljoen het in Welkom grootgeword. Hy het op skool reeds in kuns belang gestel, en afgesien van sy bekroonde skryfwerk vir kinders en jongmense, is hy ook ’n visuele kunstenaar en kinderboekillustreerder wat al aan verskeie uitstallings deelgeneem het. Sy boeke BreinBliksem en Onderwêreld is albei met die Sanlamprys vir Jeuglektuur bekroon, Betower en Afkop was naaswenners in LAPA se jeugromankompetisie,  en hy het al ’n rits ATKV-Woordveertjies ingepalm.

WAT MAAK HIERDIE BOEK ANDERS?

’n Kortfilm is gemaak wat gebaseer is op die dramateks. Die film kan gekyk word by: https://www.imdb.com/title/tt5559816/

Min dramatekste is beskikbaar vir hoërskoolleerders  – dit maak hierdie ’n ideale boek om in die klaskamer te gebruik.

BETHEL SE BERG (NAASWENNER IN LAPA SE JEUGROMANKOMPETISIE 2020)
Maretha Maartens

DIE BOEK

Dis die onstuimige tagtigerjare. Bethel Hendrix, haar broers en hulle ma reis deur die land in ʼn Kombi. Hulle leef  ʼn nomadiese bestaan en bly net vir ʼn kort ruk in een dorp voor hulle na ʼn volgende beweeg. Om die gesin aan die lewe te hou, verkoop Bethel se ma vetkoek. Maar oral waar hulle kom, is dit duidelik dat die gesin anders is. Dat hulle arm is. Dat hulle nie in ʼn regte huis bly nie. Dat hulle ma anders lyk en dink. Dat daar nie ʼn pa saam met hulle is nie.

Al wat Bethel graag wil hê is ʼn plek waar sy haarself kan wees …

VERKOOPSINLIGTING

Maretha Maartens het al meer as 140 titels onder haar naam. Sy is ʼn bekende Suid-Afrikaanse skrywer, maar het nog nie voorheen by LAPA uitgegee nie.

DIE SKRYWER

Maretha Maartens verwerf veral bekendheid met haar kinder- en jeugverhale en verower verskeie pryse in hierdie genre; onder meer: die M.E.R.-prys, die Sanlamprys Goud vir Jeuglektuur, die Credo-prys, die HAUM-De Jager-prys, en die J.P. van der Walt-prys. Benewens haar kinder- en jeugskryfwerk is sy ook bekend vir die groot aantal geestelike en didaktiese boeke wat sy tot dusver gepubliseer het.

WAT MAAK HIERDIE BOEK ANDERS?

“Hierdie  novelle  kan  veral  bydra  tot  vernuwing  in  Afrikaanse  jeugliteratuur binne die genre van memoires of herinneringsverhale”  – anonieme keurder van jeugromankompetisie  2019.

UITVINDERS, PLANMAKERS EN ANDER SLIMKOPPE VAN SUID-AFRIKA
Engela Duvenage

DIE BOEK

In hierdie boek sal jy lees van allerlei uitvinders, planmakers en slimkoppe van Suid-Afrika. Hier is stories oor mense wat mediese deurbrake gemaak het. Stories oor mense wat met diere en plante werk. Stories oor mense wat die geheime van die hemelruim probeer ontrafel. Stories oor mense wat interessante ontdekkings oor fossiele, die aarde, water en die klimaat maak. Dit is voorwaar  ’n trots  Suid-Afrikaanse  boek  wat elke leser  sal inspireer  en motiveer om vrae te vra, te ontdek en te skep.

VERKOOPSINLIGTING

Hierdie boek is enig in sy soort, maar dit kan vergelyk word met ‘n boek soos,Slimkop. Daar het 3 000 kopieë van die boek verkoop.

DIE SKRYWER

Engela Duvenage hou besonders baie van feite en van stories. Sy het ’n MPhil in Joernalistiek van die Universiteit Stellenbosch verwerf. Vir die afgelope twee dekades skryf sy gereeld vir koerante, tydskrifte en vir universiteits- en navorsingspublikasies  oor Suid-Afrikaanse  wetenskap  en die mense daaragter. Sy stel onder meer ’n landbounavorsingsblad vir die Landbouweekblad  saam, en skryf ’n maandelikse omgewingsrubriek  vir die tydskrif Lig.

Engela het op Oudtshoorn  grootgeword,  en woon reeds byna twee dekades op Wellington in die Boland saam met haar man en twee dogters.

WAT MAAK HIERDIE BOEK ANDERS?

Hierdie is ’n eg Suid-Afrikaanse  boek wat daarop fokus om ’n stem te gee aan onder meer wetenskaplikes  wat baanbrekerswerk  verrig. Die boek sluit daarom aan by die tendens in boeke wat gerig is op sogenaamde STEM-onderwerpe (Science, Technology, Engineering, Maths).

 

 

 

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels