Oranje is vir baie Afrikaners nie net ’n kleur nie – dit is die kleur van die taal van hul hart en dit wat hulle Afrikaners maak. Oranje is onder meer ’n simbool van vryheid, Afrikaans, die Protestantse geloof, Afrika-sonsondergange én Afrika-grond. Dié elemente is nou op ’n treffende wyse vervat in ’n nuwe proteslied, gesing deur Steve Hofmeyr, wat in opdrag van AfriForum en Solidariteit geskryf is en vandag amptelik op Internasionale Moedertaaldag bekendgestel is.
Die lied “Oranje” is deur die gesoute liedjieskrywer Johan Vorster geskryf in samewerking met Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum en dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Die idee van die lied het gevolg in reaksie op die oorweldigende see van oranje wat op 5 November 2024 op die terrein van die Voortrekkermonument in Pretoria toegesak het, toe meer as 10 000 mense, meestal geklee in oranje, standpunt ingeneem het teen die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela) se aanslag op Afrikaanse skole.
“In omstandighede waar daar doelgerigte pogings deur sommige is om Afrikanersimbole te stigmatiseer, het oranje weer op dié dag sy regmatige plek as Afrikaner-simbool ingeneem,” verduidelik Kriel.
Hermann benadruk dat die “rivier” van oranje wat opgestaan het vir Afrikaanse onderwys, weer iets in die kollektiewe onderbewussyn van Afrikaners losgemaak het. “Afrikaners van vandag besef weer opnuut dat hulle nie vlugtelinge in hul eie land wil wees nie. Ons wil vry wees aan die suidpunt van Afrika – ons bloed ís oranje!”
Ten spyte van ongegronde pogings om oranje te stigmatiseer, benadruk Kriel dat dié kleur eeue lank al verweef is met Afrikaners se geskiedenis.
“Oranje is nie ’n nuwe simbool nie. Dit staan al vir baie jare aan die kern van Afrikaners herkoms, ons ontstaansgeskiedenis én die Afrikaanse taal,” meen hy.
Afrikaners se band met oranje strek tot in Nederland en Frankryk – twee belangrike stamlande van die hedendaagse Afrikaner. In Nederland het die sestiende-eeuse stadhouer en voorganger van die Nederlandse monargie, prins Willem van Oranje, ’n belangrike rol teen die onderdrukking van Protestante in Nederland gespeel. Die verwysing na “Oranje” in sy naam is afkomstig van die gelyknamige Middeleeuse prinsdom in die suide van Frankryk wat hy geërf het en gevolglik deel van sy naam geword het.
Oranje het egter volledig wortel geskiet op Afrika-grond en gevestig geraak as kleur van Afrika. Dit is ook ’n Afrika-kleur vanweë die vele invloede van Nederlands hier op Afrika-bodem wat gelei het tot die skepping van ’n nuwe inheemse Afrikataal, naamlik Afrikaans. Dié taal – die derde grootste taal in die land – het dus ’n onlosmaaklike band met die kleur en die woord “oranje”.
Benewens die geografiese, historiese en geloofsimboliek van die kleur, het vroeë Afrikaners wat hul sedert die 1600’s aan die suidpunt van Afrika kom vestig het, die woord “oranje” in allerlei belangrike benamings gebruik. Die gebruik van die woord in die naam van die Boererepubliek die Oranje-Vrystaat en die benoeming van Suid-Afrika se langste rivier, die Oranjerivier, is voorbeelde van dié band met die kleur wat ook op Afrika-grond en in ’n land met sy kenmerkende oranje sonsondergange voortgesit is.
Volgens Hermann en Kriel is die gebruik van die woord “oranje” en die kleur belangrik vir die bewussyn van hedendaagse Afrikaners. “Ons het simbole nodig en binne die huidige omstandighede, waar daar ’n aanslag op ons simbole is, moet ons dit terugeis. Dit is juis wat ons met hierdie lied wil bereik. Ons wil hierdie belangrike historiese simbool terugeis, toesien dat dit weer ’n regmatige plek as Afrikaner-simbool inneem en weet dat, soos die “Oranje”-lied dit stel, ons sal oorwin, al is die aanslag fel. ‘Die kleur van ons bloed bly oranje!’”