O ellende, ek het ’n visum nodig!

24/07/2025
| Deur Alana Bailey
O ellende, ek het ’n visum nodig!

Enigeen wat al die wêreld met die sogenaamde Groen Mamba (ook bekend as ’n Suid-Afrikaanse paspoort) in die hand aangedurf het, ken die pynlike proses van visumaansoeke.

Volgens die webtuiste visafreecountries.com se verslag van Junie 2025 is daar 78 lande waarvoor Suid-Afrikaners geen visum benodig nie, maar steeds 106 lande wat wel vereis dat ’n gewone sakepersoon of toeris eers ’n visum verkry voordat hulle ’n reis daarheen onderneem.

Die Henley Paspoortindeks is die gesaghebbendste ranglys van die wêreld se paspoorte. Dis gebaseer op amptelike data van die Internasionale Lugvervoervereniging (IATA) en die ranglys word opgestel volgens die aantal bestemmings wat houers van ’n bepaalde paspoort sonder ’n visum kan besoek. Volgens die Henley Paspoortindeks is die Groen Mamba tans nommer 53 op die lys van reisvriendelikste paspoorte ter wêreld. Al wat ek vir paspoorthouers van nommer 54 en almal daarna kan sê, is: “Sterkte!”

Helaas lei my werk en my jeukende voete my selde na een van daardie 78 verwelkomende lande. Nee, ek beland elke keer by die toonbank van ’n “visumsentrum”, bewend en klouend aan ’n lêer met meer velle papier in as wat die Kook en Geniet bladsye het.

“Wat het jy uit die proses geleer?” vra Sue-Ann de Wet van AfriForum Wêreldwyd my na my jongste wedervaringe. Die verantwoordelike stemmetjie in my binneste sê: “Om nie die landsgrense oor te steek nie!” Maar nou ja, ek wag juis nou vir ’n visum, dus help dit nie om die vraag so maklik te probeer omseil nie. Daarom is my antwoord dat ek eindelose respek het vir mense wat emigreer, want as ’n kuier soveel koste en papierwerk vereis, kan ek net dink hoe dit sal gaan om ’n land te oortuig dat jy permanent daar aanvaar moet word.

Maar kom ek hou by praktiese raad wat dalk net iemand mag help. Let op dat sommige van die wenke vaag mag klink. Die rede daarvoor is dat elke land se vereistes verskil. Selfs die Schengen-lande, wat tegnies almal dieselfde grensbeheer toepas, se vereistes vir aansoeke verskil. Lande kan hulle vereistes ook op kort kennisgewing verander. Wees dus wakker en hou deurlopend dop wat aangaan wanneer jy ’n reis beplan.

Stap een is dat jy moet vasstel of jy ’n visum benodig. Amper elke land het deesdae ’n soort aanlyn vorm waarop jy jou beplande reis (bestemmings, doel van die reis, duur van die besoek) kan invul om inligting te kry oor die spesifieke soort visum waarvoor jy moet aansoek doen.

Jou paspoort moet nog vir redelik lank vooruit geldig wees wanneer jy ’n reis beplan. Jy kan nie te na aan die datum waarop dit verstryk vir ’n visum aansoek doen, vertrek of terugkom nie. Dit moet ook nog minstens twee leë bladsye bevat – visumplakkers kan nie op bestaande stempels geplak word nie.

As jy die soort geliefdes het wat jou dalk met ’n buitelandse reis sal wil bederf, of as jy aan kompetisies deelneem waar jy oorsese reise kan wen, ’n werk het wat internasionale besoeke mag vereis, of vriende of familie in die buiteland het wat jou hulp op kort kennisgewing mag benodig, sorg dat jy altyd ’n geldige paspoort het. Eerder ’n paspoort wat jy nooit gebruik nie as wat jy ’n kans verbeur omdat Binnelandse Sake voete sleep met jou paspoortaansoek. Dit is ’n dilemma waarmee AfriForum jou nie kan help nie!

Maak seker watter dokumente jy moet saamneem vir die visumaansoek se afspraak. Deesdae laat sommige lande toe dat jy vorms gedeeltelik of geheel en al aanlyn invul of selfs dokumente elektronies aanheg. Ander gee duur opsies om jou toe te laat om dit te doen. Kies wat vir jou die maklikste en bekostigbaarste is.

As jy twyfel of jy iets moet aanheg of saamneem, doen dit. Ek is byvoorbeeld een oggend met my paspoort op pad na ’n visumafspraak, want die aanlyn instruksies het gesê dit is wat ’n mens moet saambring: net die paspoort self. Toe ek egter by die toonbank staan, vereis hulle skielik ’n fotokopie daarvan ook. Gelukkig het ek een saamgeneem.

Almal is bang mense sak op hulle land toe en word ’n las op die staat, dus moet jy gewoonlik die laaste drie maande se bankstate aanheg. In Oktober 2024 het ek die state gedruk en die bank het dit net met ’n stempel as waar bevestig. Teen Desember moes ek weer vir ’n visum aansoek doen, en toe mag ek skielik nie meer self die state druk nie – die bank moet dit doen. Ek het ’n hoop papier gemors. Toe doen ek in 2025 weer aansoek en ek maak die fout om op ’n Vrydagmiddag bank toe te gaan. Die man wat my help, hoor reeds die naweek se Lorelei-stem roep en laat ’n klomp bladsye weg. So … kyk maar baie mooi en maak seker wat gedruk word, is volledig.

Baie lande hanteer ook nie meer self hulle visumaansoeke nie. Switserland, België en Portugal gebruik byvoorbeeld VFS Global, Brittanje gebruik TLScontact en Frankryk Capago. Jy gaan daar met ’n Suid-Afrikaanse werknemer van die sentrum praat en nie by ’n ambassade met iemand van die land wat jy gaan besoek nie. Hulle mag nie vir jou ’n aanduiding gee of jou aansoek gaan slaag nie en hulle weet gewoonlik ook niks van die land waarheen jy op pad is nie. Dit help dus nie om toerismevrae te vra nie – dit kan jy eerder aanlyn rig aan die toerismeburo van die plek wat jy wil besoek.

Maak seker waar die sentrums is waar jy vir visums moet aansoek doen, hoe afsprake werk, of daar parkering is en hoe die verkeer op pad daarheen op sekere tye van die dag lyk. Wees eerder te vroeg as te laat. As jy laat is, kan jy jou afspraak verbeur en moet jy dalk duur betaal vir ’n nuwe geleentheid.

Tydsberekening is net so belangrik soos wanneer jy ’n soufflé uit die oond haal. Veral voor piektye soos Paasfees, somer in die land wat jy wil besoek en Kersfees gaan daar meer aansoeke wees en gaan dit langer neem om jou aansoek te verwerk. Soms het lande stelselprobleme en neem die aansoeke ook uiters lank om verwerk te word. Hou webtuistes van die lande en die visumsentrums dop vir advies in dié verband.

Seker die belangrikste is dat jy NOOIT moet jok of verkeerde inligting gee nie. As jy nie seker is nie, sê dit eerder as om ’n antwoord op te maak. As jy getroud is, maar jou paspoort is nog op jou nooiensvan, verduidelik en maak seker jy vul die vorm korrek in eerder as om te dink jy gaan dinge eenvoudig hou en net nie noem dat jy getroud is nie. As een land jou merk as iemand wat onbetroubare inligting voorsien, kan dit lewenslank vir jou groot probleme veroorsaak wanneer jy wil reis.

Ten slotte, bly kalm en vriendelik tydens jou visumafspraak, selfs al moes jy lank wag en die lugreëling het opgepak en die mense wat langs jou sit het ’n tweeling met koliek … Daardie beampte (wat óf dikmond, óf gaaf kan wees) gaan veel meer behulpsaam wees en vinniger deur jou aansoek werk as jy die mooi maniere wys wat jou ma jou geleer het. Dit kan ook nie sports wees om elke dag met ’n spul mense te werk wat almal dieselfde vrae vra en foute maak nie.

Deel op

Nuutste artikels