Onderhoud: Engela Duvenage, skrywer van Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika

20/10/2021
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Foto-krediet-LitNet.co_.za_

Engela Duvenage het onlangs gesels met Wêreldwyd oor haar boek Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika.

Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika beskik oor baie interessante stories van navorsing en die wetenskap. Waar kom jou liefde vir die wetenskap vandaan?

Dit het meer te doen met my liefde vir inligting, en om te weet hoe die wêreld en die dinge daarin werk. Ek hou daarvan om bietjies-bietjies oor ’n klomp onderwerpe te weet, eerder as baie oor een tema. Ek hou ook van interessanthede, die raar-maar-waar dinge, omgewingsake, plante, diere en geskiedenis. So het ’n skoolvriend eens gesê dat ek ’n brein soos ’n Chappie-papiertjie het – dis vol brokkies inligting.

As wetenskapskrywer en -joernalis werk ek byna daagliks met navorsers en ander planmakers wat op hul manier en in hul veld probeer om van die wêreld ‘n beter plek te maak – ek reken hul bydrae, dikwels agter die skerms, word heeltemal te min gevier. Deur my werk probeer ek hul kennis en bevindinge in storievorm aan ‘n groter gehoor verduidelik.

Die boek doen wonders vir die uitbou van die Afrikaans as wetenskapstaal. Hoekom het jy gekies om hierdie boek eerste in Afrikaans te publiseer?

Baie dankie, ek waardeer die kompliment. Alhoewel ek in beide Engels en Afrikaans skryf, bly Afrikaans my moedertaal, en die taal waarin ek soms dig en ek reken ek die skeppendste is. Dit was daarom ‘n voorreg om dit eerste in Afrikaans te kon doen toe LAPA Uitgewers vir my die groen lig daarvoor gee, en om gedeeltelike navorsingsbefondsing vir die werk daaragter vanaf die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns te kon ontvang het. Daarna was dit ’n bykomende lekkerte om dit vir Penguin na Engels te kon vertaal.

Ideaalgesproke sou ek dit graag ook in ander amptelike tale wou sien, byvoorbeeld Zoeloe en Xhosa, maar die vertaling daarvan sal ek nie self kan behartig nie.

Hierdie is so ’n insiggewende boek met klomp feite en allerlei interessanthede. Is jy soms bang die volwassenes geniet dit meer as die kinders?

Ek is eerder opgewonde daaroor! Hoeveel mense het al vir my gesê dat hulle baie verbaas en trots was om te lees oor al die mense van hul eie land, oor wie hulle geensins geweet het nie. En hoeveel oupa’s en ouma’s het al erken hulle het net gou die boek deurgelees voordat hulle dit toe uiteindelik vir hul kleinkinders gegee het as geskenk! Volwassenes (of dit nou ouers, oupas en oumas of onderwysers is) is mos in elk geval ons kinders se leermeesters, so as hulle van die positiewe stories waaroor hulle self gelees het kan oordra in hul daaglikse gesprekke, soveel te beter. 

Hoop jy om weer ’n nuuskierige generasie te kweek wat wetenskaplike feite interessant sal vind?

 Eintlik weet ek daar’s ’n nuuskierige generasie daar buite. Ek kan net hoop om ’n bydrae te maak om hulle aan die lees en geïnteresseerd in die lewe te hou. Alle kinders is byvoorbeeld nie noodwendig fiksie-lesers nie, en sal veel eerder ‘n nie-fiksie boek deurlees. Hierdie boek sit mooi in die middel, as verhalende nie-fiksie. Ek hoop ook dat van die verhale kinders se belangstelling sal prikkel om meer oor spesifieke beroepe of onderwerpe te leer, bv. via dié van hematoloog of “bloeddokter” prof. Johnny Mahlangu, oor geologie (na aanleiding van die stories van die tweeling Richard and Morris Viljoen, of prospekteerder dr. Hans Merensky), van ingenieurswese (bv. op grond van satellietbouer prof. Herman Steyn of John Burland, wat met sy breinkrag help keer het dat die Toring van Pisa omval) of insekkundiges (bv. muskietkenner prof. Maureen Coetzee). En ek hoop dit laat hulle besef dat mens ’n werk uit jou belangstellings kan maak – selfs al is dit spinnekoppe of erdwurms, soos die geval met dr. Ansie Dippenaar-Schoeman en dr Thembeka Nxele is!

Hierdie boek verkoop soos soetkoek. Het jy gedink jou gehoor gaan so positief reageer op die boek?

Hierdie is en bly vir my eerstens ’n hartsprojek wat ek besonders graag wou skryf – vir my eie kinders maar ook vir andere s’n  – omdat daar nie so ‘n soort heldeboek in Suid-Afrika te vinde was nie. Daarom bly ek dankbaar vir die uiters positiewe reaksie op die Afrikaanse en Engelse weergawes, en dat ander mense net soveel genot en nut daaruit put soos wat ek gedurende die skryf daarvan gehad het. My hart swel elke keer as ek van ’n mamma ’n video ontvang waarin haar kind mondeling praat op grond van die inligting in die boek, of hoor hoe mense die boek van hoek tot kant lees en geniet, of in die klaskamer gebruik. 

Wat is die storie wat jou die meeste inspireer in die boek?

Daar is vir my ongelooflik baie inspirerende stories, en dit sou moeilik wees om een uit te lig. Wat ek uit die skryf van sovele mense se verhale geleer het, is dat niemand se pad noodwendig maklik is nie, dat almal voor uitdagings te staan kom, maar dat met breinkrag, durf, aanhou, harde werk en passie (en dikwels ook ’n goeie skoot geluk) mense baie dinge kan bereik en vermag. As jy wil!

Is hierdie boek geskik vir skooltake?

Absoluut. Ek het self laer- en hoërskoolkinders, vir wie ek oor die jare moes help inligting soek vir skooltake en mondelinge. Ek wou dikwels hê hulle moes oor Suid-Afrikaanse wetenskapshelde kon gesels, maar maklik genoeg bronne was nie beskikbaar nie. Met dit in gedagte het ek die verhalende stories dus so geskryf en aangebied dat daar genoeg inligting oor ‘n persoon of onderwerp te vinde is (van hul geboortedatum, tot waar hulle gematrikuleer en verder studeer het, byvoorbeeld) sodat ’n kind dit as ’n verwysingsbron kan gebruik. Elke storie word ook afgesluit met gepaste verwante inligtingsbrokkies. Hoeveel laerskoolonderwysers het reeds vir my vertel hoedat hulle vir verryking daaruit voorlees in hul klas as hulle spesifieke temas doen, en hoe lekker dit dan is om die persoon of die onderwerp verder met saam met hul leerders te Google. Een juffrou het byvoorbeeld olifante as haar week se tema gehad, en daarna vir hulle die storie oor olifanttandarts prof. Gerhard Steenkamp gelees. ’n Hoërskooljuffrou gebruik weer die individuele stories as begripstoetse, en om vir haar klas te leer hoe om boekresensies te skryf, ’n CV op te stel of om ’n in memoriam oor iemand te skryf, gebaseer op die inligting daarin. 

Hoe identifiseer jy ’n opkomende baanbreker?

Ek het in hierdie boeke mense ingesluit wat almal een of ander “eerste” behaal het – bv. die wêreld se eerste hartoorplanting (prof. Christiaan Barnard) of die eerste 3D-gedrukte middeloor oorplanting (prof. Mashudu Tshifularo), die ontdekkers van nuwe spesies plante of diere of fossiele (bv. plantfundi’s Elsie Esterhuysen en dr. Erns van Jaarsveld, fossielman John Nyaphuli of prof. Savel Daniels, wat nuwe soorte fluweelwurms en krappe ontdek het) of mense wat nuwe dinge begin het (bv. Pippa Haarhoff, wat die Weskus Fossielpark op die been gebring het, dr. Hendrik van der Bijl wat Eskom en Sasol begin het, Murendeni Mafumo wat ’n nuwe soort waterfilter ontwikkel het, SpaceX se Elon Musk en Chris Leatt, wat nekbeskerming vir motorfietsryers ontwerp het). 

Is hierdie boek beskikbaar in die buiteland? Ons Wêreldwyd-vriende sal mal wees hieroor.

Die boeke weeg teen sowat 370 bladsye sowat 2 kilogram, wat hopelik nie te swaar is vir Ouma of Oupa om as eg Suid-Afrikaanse present saam te neem as hulle oorsee gaan kuier nie! Hulle kan dit sommer in hul handbagasie pak, en heelpad op hul vlug sit en lees daaruit!

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels