Wêreldwyd se Wêreldgids skep ’n suksesvolle netwerk om Suid-Afrikaners in die buiteland met mekaar in aanraking te bring sodat jy Suid-Afrikaanse ondernemings in jou omgewing kan ondersteun.
Vat die kans en word deel van hierdie netwerk. Netwerke is nie net vir ondernemings nie; dit is ook ’n waardevolle wyse om ’n ondersteuningsbasis te bou vir daardie dae wanneer die verlange na ’n goeie Suid-Afrikaanse wyn, kuier om ’n braaivleisvuur en die onmisbare Afrikaner-gasvryheid te veel raak.
Die Wêreldgids het tans meer as ’n duisend ondernemings, van prokureurs in Nieu-Seeland tot ’n Suid-Afrikaanse restaurant in Texas.
Hierdie week se onderneming in die Kollig is Oolfant.com. Oolfant.com is vir Afrikaanse tuisskolers wat soek na interessante inligting en inspirasie om van tuisonderwys ‘n reusesukses te maak.
Marisa Haasbroek is ’n veteraan-tuisskoolma. “Dit is ’n mooi manier om te sê ek is aan die verkeerde kant van … ag, toemaar, los maar. My twee kinders het nooit ’n enkele dag van hulle jong lewens op ’n skoolbank deurgebring nie. Hulle is nou onderskeidelik 23 en 21 jaar oud en is goed op pad om goedaangepaste, gelukkige grootmense te word,” sê Marisa.
Moenie dat sy oor Afrikaans en haar liefde vir haar moedertaal begin praat nie. Jy gaan haar nie weer stil kry nie. Daarom skep sy graag vir Afrikaanse tuisskolers beter leermateriaal en vul haar dae deur Afrikaanse taal- en skryfkursusse te skryf en te ontwikkel.
Kontak Oolfant.com:
E-posadres: marisa@oolfant.com
Klik hier om Oolfant se Facebook-blad te besoek
Klik hier vir Oolfant op Wêreldwyd se Wêreldgids.