Onderneming in die kollig: The Baking Saffa

27/05/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
thebaking5

Hierdie week se kollig is op The Baking Saffa. The Baking Saffa is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van reg oor die wêreld bymekaarkom om ’n gemeenskap te vorm. Op dié manier raak hulle deel van hierdie wonderlike netwerkgeleentheid.

Lees meer oor The Baking Saffa

Hallo. My naam is Kim en ek is The Baking Saffa. Lees gerus hier ‘n bietjie meer oor my en hoe my bakkery begin het.

Ek is gebore en getoë in die pragtige Kaapstad in Suid-Afrika. Nadat ek ‘n spysenierskursus en ‘n kroegmeisie-kursus gedoen het, het ek die wêreld in 2002 opgewonde ingevaar, beginnende by Londen. Kreatiwiteit was nog altyd die fondament waarop ek alles bou. Dit inspireer my om altyd nuwe idees te toets, of dit nou teken, bak of hekel is. Die gebak, plakkers, kaartjies, webwerf en foto’s wat jy sien, is alles deur my bedink en vervaardig.

Nadat ek in 2008 leer hekel het, het ek Kims Colourway gestig, my onderneming wat reg deur die jaar op die internet en op plaaslike Kersmarkte wonderlike geskenke verkoop. Ek ondersteun graag plaaslike liefdadigheidsondernemings en hospitale deur broodnodige komberse, vroetelmoffies en ander artikels te maak en aan bejaardes en siekes te skenk. Jy kan dalk ook ‘n gehekelde verrassing as blykie van waardering saam met jou bestelling ontvang. Alle hekelwerk wat jy op my foto’s sien, is deur my gemaak en ek verkoop dit van tyd tot tyd hier op my webwerf.

In 2019 het ‘n vriendin wat haar eie bakonderneming het my gevra om haar te help koeksisters bak. Dit is ‘n tradisioneel Suid-Afrikaanse lekkerny van gebraaide deeg wat in stroop geweek is. Ek het die kans met albei hande aangegryp, want ek is baie lief vir bak en is daardeur opnuut geïnspireer om tradisioneel Suid-Afrikaanse lekkernye te bak. Sy het my gevra om haar winkel van Hertzoggies te voorsien, en net daar het ek besluit om my eie bakkery te begin.

My twee tieners en my man ondersteun albei my ondernemings en inspireer en motiveer my om vir my kliënte die heerlikste gebak in my nederige kombuis op te tower. Hulle is mal daaroor om aan alles te proe en duim in die lug te wys hoe lekker dit is! Hulle help my almal op baie maniere, so The Baking Saffa is eintlik ‘n familieonderneming. My dogter het twee onderskeidings in matriek (GCSE) behaal vir Gasvryheidstudies en Spyseniering, en nou neem my seun Voedseltegnologie as matriekvak.

Ek is by my plaaslike raad as tuisbakker geregistreer en toe my kombuisinspeksie op 22 Februarie 2022 gedoen is, het ek 5 (die hoogste punt) gekry. Ek het ‘n Sertifikaat in voedselallergieë en Vlak 1 en Vlak 2 in Voedselhigiëne en -veiligheid. Ek werk tans aan Vlak 3 in Voedselhigiëne en -veiligheid.

Ek hoop jy geniet alles wat jy by my bakkery in Dartford, Kent, koop.

Op AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids word jy nie net deel van ’n sakenetwerk nie, maar dit is ook ’n waardevolle manier om ’n ondersteuningsbasis te bou vir daardie dae wanneer die verlange te veel raak en almal net te ver weg is.

Help jou onderneming om te groei, gebruik hierdie skakel en maak seker jou onderneming word gelys op Wêreldwyd se Wêreldgids.


Ons wil graag hoor waar jy koop, met wie jy praat en hoe jou netwerk in die buiteland lyk. Laat weet ons by wereldwyd@afriforum.co.za.

Kontak The Baking Saffa

Klik hier om The Baking Saffa se webtuiste te besoek.

Klik hier vir The Baking Saffa op AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids.

Lees ook: Onderneming in die Kollig: Breytenbachs Immigration Consultants Limited

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels