Onderwys en leesprestasies in Nederland

07/01/2020
| Deur Alana Bailey
becca-tapert-GnY_mW1Q6Xc-unsplash-scaled

In Nederland is daar twee dinge wat my mateloos beïndruk. Die een is die groot aantal pragtige boekwinkels. Die ander is dat goeie of gewilde boeke skaars elders in die wêreld verskyn, of dit word in Nederlands vertaal. Tog sien ’n mens al minder mense wat byvoorbeeld op openbare vervoer lees – die meeste passasiers is maar met hul selfone doenig.

Lees as ’n noodsaaklike aktiwiteit het juis die afgelope week aandag geniet in Nederland ‒ kommer is uitgespreek oor probleme wat nie vir Suid-Afrikaners onbekend sal klink nie. Die resultate van ’n studie wat driejaarliks in 79 lande onder 15-jariges onderneem word, is pas bekend gemaak. Dié internasionale peiling staan as die Programme for International Student Assessment (oftewel die PISA-studie) bekend. Die bevindings wat nou aangekondig is, handel oor navorsing wat in 2018 onderneem is.

Hiervolgens het die leesvermoë van die Nederlandse jeug sedert 2015 gedaal. Daar is ook bevind dat Nederlandse skoliere al minder van lees hou. Uit die toetsgroep het die persentasie van tieners wat slegs lees as hul gedwing word om dit te doen van 34% in 2015 na 42% in 2018 toegeneem. Byna die helfte van die 5 000 Nederlandse deelnemers beskou lees as tydvermorsing.

Die land is nou in die 26ste plek op die PISA-lys wat leesvaardigheid betref, teenoor die 15de plek in 2015. Wat prestasie in wiskunde en natuurwetenskappe betref, presteer Nederland wel beter: Op die wiskundelys is dit in die negende posisie en vir prestasie in natuurwetenskappe 15de.

Ongelukkig neem Suid-Afrika nie aan dié studie deel nie. Vir ons lyk die bogenoemde bevindings dalk steeds na iets om van te droom, maar Nederlandse opvoedkundiges en selfs politici spreek hul kommer uit oor hoe dié agteruitgang die toekomstige internasionale posisie van Nederland sal raak.

Verdere interessante inligting is dat Nederlandse meisies oor die algemeen meer entoesiastiese lesers as seuns is. Aansluitende studies toon dat meisies meer deur nuuskierigheid geprikkel word om te lees as seuns. Hulle put ook meer genot uit die “verdwaal in ’n goeie storie”. Meisies vind verder meer emosionele ontlading in lees wanneer hulle byvoorbeeld verveeld, hartseer of kwaad is, vergeleke met hul manlike eweknieë.

’n Tendens in Nederland – wat ook in Suid-Afrika groot kommer veroorsaak – is dat leerlinge al minder daarin slaag om met begrip te lees. Hulle sukkel om die inligting wat hulle lees, te beoordeel en nadenkend te vertolk. Die Nederlandse kurrikulum word hiervoor blameer, omdat dit tans min aandag gee aan oefeninge om dié vaardighede te ontwikkel. Die span wat vir die ontwikkeling van die Nederlandse leerplanne verantwoordelik is, beveel nou aan dat leerlinge moet leer om krities met digitale en niedigitale inligting om te gaan en deeglik op die betroubaarheid en bruikbaarheid daarvan te let.

Daar word gehoop dat groter leesvaardigheid daartoe sal lei dat die jeug ook weer met meer genot sal lees.

Die rol van tegnologie word aansluitend onder die loep geneem – daar word onder meer gemeen dat skoliere daaraan gewoond raak om veral kort stukkies teks op hul selfone te lees en minder tyd met lang tekste en boeke deurbring, wat dan hulle lees- en konsentrasievermoë nadelig raak. Daar is oproepe dat dié verskynsel meer indringend nagevors moet word om die omvang daarvan te bepaal en oplossings daarvoor te vind.

Nog ’n ernstige probleem wat met die studie se bevindings in verband gebring kan word, is die tekort aan onderwysers in Nederland. In September 2019 is daar al met besorgdheid kennis geneem van die aantal vakante poste wat nie gevul kan word nie. In Amsterdam alleen was daar in daardie stadium byvoorbeeld 280 beskikbare poste in openbare skole, en in Den Haag 197. Dié krisis word regoor die land ervaar.

Akademici het aan my genoem dat al hoe minder jongmense in “roepingsgedrewe” loopbane soos onderwys en verpleging belang stel. Dié poste word ook toenemend deur dames gevul. In skole is die negatiewe gevolg dat seuns ’n tekort aan positiewe manlike rolmodelle het.

Daar is heelwat wat Suid-Afrika uit hierdie inligting kan leer. Anders as die Suid-Afrikaanse onderwysowerhede reageer die Nederlanders nie met veroordelende uitsprake oor die toetsprosesse nie, maar begin dadelik na oplossings soek. Die toekomstige internasionale rol van Nederland staan sentraal in dié beplanning. Foute word erken en geleenthede vir verdere navorsing geïdentifiseer om die omvang van die probleme beter te verstaan. Of dit positiewe resultate vir Nederland tot gevolg sal hê, sal die tyd moet leer, maar ten minste is daar reaksie en goeie bedoelings.

Die belangrikste les waarvan Nederland en Suid-Afrika moet kennis neem, is die noodsaaklikheid daarvan om te lees, en dan veral met begrip te lees. Dit bepaal nie alleen die toekoms van die individu nie, maar kollektief die vooruitsigte van elke land. Omdat dit so belangrik is, kan die verantwoordelikheid vir die kweek van ’n liefde vir lees nie alleen aan skole oorgelaat word nie; ouers en grootouers moet van kleins af vir kinders dié passie aanleer. Voorlees, saamlees en later gesprekke oor boeke en ander leesstof kan ’n groot verskil in dié opsig maak.

Met biblioteke, gratis aanlyn leesstof en die uitruil van boeke tussen vriende is lees ’n aktiwiteit wat bekostigbaar bly. En ja, in die geval van boeke in Suid-Afrika ’n plesier wat nie deur beurtkrag bederf kan word nie!

Deel op

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels