Ons hier in Engeland het verbasend maklik deur die maande lange Brexit-mediastorm en die grou, nat Junie geseil, want ons troefkaart was ons opkomende Botswana-ekspedisie.
Ek het jare lank gemik om weer Moremi-wildtuin toe te gaan; ‘n groep van ons was daar in ons finale jaar by Tukkies. Oom Neels du Preez, ‘n liewe maar eksentrieke tandarts, het ons destyds in sy twee Land Rovers gevat en die romantiek van só ‘n vierwielaangedrewe ekspedisie het my bygebly. Later het ek en Mariaan saam met Francois en Tana Coetzer in Savuti rondgery, begelei deur Petri Viljoen wat toe met leeunavorsing besig was, en die eerste keer regtig van aangesig tot aangesig met ʼn leeu te doen gekry.
Les Sharpe, ʼn ou vriend wat in Sydney bly, het met die voorstel gekom dat ons in die Sentraal-Kalahari en Moremi gaan kamp. Hy is gereeld in Suid-Afrika met die giet van sy beeldhoukunswerke en hy het al die nodige kamptoerusting en kontakte. Ek het Les in die sewentigs in Londen ontmoet toe hy by Croyden School of Art geswot het, sy vrou Christelle by die SA ambassade gewerk het en ek in Wandsworth begin praktiseer het. Ons eerste wegbreek was ʼn Paasnaweek na Aviemore in Skotland; jare later het die Transkei en Namibië gevolg. Les was opgewonde oor die feit dat Piet Botha, ʼn ou klasmaat van hom, en sy bekwame vrou Carin ʼn ogie oor ons sou hou, aangesien hulle ervare kampers is en Botswana ken.
“Blind date” vir Khwai
Ek en Mariaan was druk besig met al ons reëlings toe ons so agt dae voor ons sou vlieg die slegte nuus kry dat Les in die hospitaal opgeneem is. “Dit het ons omtrent ʼn dekade geneem om so ver te kom om die Botswana-ding te reël en nou loop alles skeef,” het ek ʼn pasiënt vertel. Die dokters het Les ingelig dat hy toetse moet ondergaan en nie binne ʼn paar weke sal kan vlieg nie, so ek en Mariaan het alternatiewe bestemmings begin oorweeg. Maar ons het alreeds ʼn vierwielvoertuig gehuur en ons wou graag Botswana toe gaan, so ons besluit toe om saam met Les se vriende Piet en Carin te gaan al het ons hulle nog nooit ontmoet nie. Ons het met Christelle daaroor gesels en sy het toe ons “blind date” met die Bothas gefinaliseer. Ons het ooreengekom om op Peet Koen, ʼn ou vriend van Pretoria en nou ʼn bekende wildboer van Ellisras, se pragtige plaas te ontmoet.
Ons koppe was al klaar in die Bosveld en ons vlug Johannesburg toe het nog voorgelê.
Verwarring met ons vlug
Ons het opgelet dat BA-vlugte drasties goedkoper is van Frankfurt af en het toe so bespreek. Maar ons moes steeds via Heathrow vlieg en dit was met die terugvlug van Frankfurt na Heathrow dat dinge erg skeefgeloop het. Ons het amper twee uur laat by ʼn chaotiese Terminaal 5 aangekom – die gevolg van een of ander “go slow”-staking deur lugverkeerbeheerbeamptes – en mis toe ons Johannesburg-aansluiting. Daar was letterlik honderde verdwaasde reisigers wat hulle vlugte gemis het en angstig rondgeskarrel het. Die uiteinde was dat ons toe eers Kaapstad toe moes vlieg om by O.R. Tambo uit te kom, sonder ons tasse nogal. Ja, ʼn mens kan partykeer vir jouself die lewe moeilik maak. Mariaan se tas het ná ʼn dag opgedaag, maar ek moes vinnig ʼn klomp goed aanskaf om my deur te sien.
Ons avontuur skop af
Al die spanning en angstigheid verdamp sommer toe ons van die N1 afdraai en daardie Bosveld-gevoel begin kry toe ons die wonderlike ou maroelabome en plekname soos Matlabas sien en by die kleurvolle kiosks met al hulle tuisgemaakte lekkernye stop.
Dis heerlik om weer vir Peet en Alma te sien en ons kliek sommer dadelik met die Bothas, maar daar is ook dadelik ʼn haakplek: ʼn bout breek af en die sleepwa se wiel val uit. Sommer vroeg die volgende oggend buig Piet die beskadigde modderskerm met ʼn domkrag reg voor ons Ellisras toe ry om die bout te vervang. Die 4×4-spesialiste in Ellisras, oftewel Lephalale, is uiters behulpsaam en bedien ons selfs met koffie terwyl die werk gedoen word. Daarna val ons in die pad vir die 800 kilo’s Maun toe. Ons eerste dorp in Botswana, Mahalapye, is belangrik vir Mariaan, omdat haar pa, dr. Koos du Toit, sowat 70 jaar gelede vir ʼn ruk daar gepraktiseer het voor hy hom in Zeerust gevestig het.
Daarna ry ons deur ʼn redelik vervelige deel van die land met dorpies en gehuggies wat maar kleurloos is. Die konstante gekuier en laat nagte begin my vang en vir die eerste keer vandat ek in 1968 begin bestuur het, raak ek vir ʼn oomblik weg en ry net buitekant Serowe van die pad af. Die Toyota Hilux bokspring ʼn bietjie, maar ons kom sonder skade tot stilstand en ek waardeer die verligte applous van die wagtende groepie by die busstop. Dit het in ʼn oogwink gebeur en my laat besef hoe vinnig dinge kan verkeerd loop. Ons twee voertuie is gelukkig, danksy die deeglike Bothas, in radioverbinding en dit help ons deurentyd om in kontak te bly, want ons moet voortdurend op die uitkyk wees vir beeste, bokke, donkies of honde in die pad. Veral die laaste stuk in die donker is senutergend.
Ons kom laat en baie moeg by Maun aan en help vinnig vir Piet en Cari om kamp op te slaan by die Sedia Hotel se kampplek. Die volgende oggend, na ʼn stewige ontbyt, gaan betaal ons vir die kampplek by Khwai. Die kantoor is naby die besige Maun-lughawe geleë en daar is ʼn duidelike Wilde Weste-pioniersgevoel in die kleurvolle, besige, deurmekaar en stowwerige plek. Dis net vierwielaangedrewe voertuie met gidse en toeriste, diere (meestal donkies en bokke) en handelaars waar jy kyk.
Paar dae in die paradys
Die 140 kilo’s na die Khwai-deel van Moremi vat ons sowat drie uur en ek val ʼn slag vas toe ek nie die Toyota se vierwielaandrywing behoorlik aansit nie. Ons stop op pad by ʼn pragtige, boomryke watergat, drink rustig ʼn bier en geniet die rus en vrede. Piet wys ons waar die olifante met hulle konstante geskuur die bas weggeskuur het en as’t ware die bome blinkvryf. Ons slaan kamp op by staanplek nommer Mag3 in die Khwai Community Camp met sy pragtige uitsig op die rivier. Die leeus brul sommer al vroeg die eerste nag en ons maak natuurlik ʼn stewige vuur. Die volgende oggend wys ons outomatiese kamera ʼn hiëna het gedurende die nag by ons vuurtjie se oorblyfsels kom rondsnuffel. Toe kan ons ook die bedrywige omgewing begin waardeer; daar is ʼn groot trop seekoeie (omtrent 23), baie waterbokke en ʼn visarend wat partykeer op die grond langs die water rond jag vir krappe of iets. Die pragtige berghaan met sy stomp stert sweef gereeld verby. Ek merk dat die olifante deur die aangrensende kampplek loop op pad water toe en dat die kampeerders ewe nonchalant is daaroor.
Ons besluit om nie ver te ry nie en word beloon met ʼn leeuwyfie wat ons oorkant die rivier sien stap. Dit lyk of sy ʼn ander leeu roep, en toe hoor ons ʼn mannetjie antwoord. Toe dit net mooi donker word, kom iemand ons waarsku dat die leeus besig is om in ons rigting in die paadjie af te stap, en ons weet nie of ons moet gaan kyk of net in die karre bly sit nie. Ons word daarna beloon met Cari se heerlike kerriehoender en Mariaan se notas vertel van baie lag en terselfdertyd hoe bang sy gevoel het.
Goliat tussen ons
Donderdag gaan ry ons ʼn hele ent tot by Chobe voor ons ʼn intense maalvleis-en-pap-brunch wegsit. Ons sien die twee leeus van gister is oorkant die rivier besig om te paar. Die jong mannetjie het kenmerkende donkerbruin maanhare. Ons sien ook vir die eerste keer buffels en vlakvarke.
Vroegmiddag, net toe Mariaan haar eerste glas wyn in die hand het, fluister Cari dringend: “Hier kom hy. Sit doodstil.” Ons kyk op en sien die groot olifantbul rustig naderkom. Ek probeer skarrel vir die kamera sonder om te angstig te raak, want die groot meneer pyl reguit op ons af. Daar stap die pragtige, massiewe dier op sy tyd tussen ons twee tente deur; Piet kan hom amper op die boud klap. Dit is vir ons almal ʼn onvergeetlike oomblik, want die majestueuse ou bosreus het ʼn teenwoordigheid wat ʼn mengsel van agting en bewondering afdwing. Cari vra na die tyd vir Piet hoekom hy aanmekaar “nee, nee” geprewel het en Piet erken dat hy nie eens weet hy het dit gedoen nie. Daarna word ons omring deur olifante en kan vir ʼn ruk nie by die toilet uitkom nie, maar ons gee nie om nie; ons is nog steeds besig om die oomblik te verteer. Die nag is baie raserig met leeus wat brul en paar en luidrugtige seekoeie wat baie na aan ons kamp wei en ons uit die slaap hou.
Ons sien weer die leeus die volgende oggend. Mariaan beskryf die wyfie as “pragtig jonk met ʼn spierwit baardjie en maag en ʼn welige, swart klosstert. Ons gaan ry en kyk na ʼn pragtige privaatkamp genaamd Sable Alley. Ons kuier ʼn bietjie en kyk hoe die olifante in die water baljaar terwyl ons lekker eet en drink. Terug in die kamp sien ons die leeus duidelik oorkant die rivier in die skaduwee lê. Terselfdertyd let ons op dat ʼn trop olifante met baie kleintjies reg op hulle afpyl. Die leeus is net besig om te begin bekruip toe die olifante hulle ruik en met ʼn luide getrompetter op hulle afstorm en hulle verjaag. Ons besef weereens ons is omring deur ʼn konstante dierevervolgverhaal van drama, plesier en tragedie.
Ou Goliat verskyn weer net toe Mariaan haar eerste glasie witwyn skink (sy het besluit om dit liewers in die middel van die dag te geniet as saans wanneer jy op jou hoede moet wees), maar dié keer stap hy na die groot kameeldoringboom in ons kampplek. Daar buig hy sy knieë, druk sy slurp teen die boom se stam op en skud die boom toe met soveel brute geweld dat jy net dooie takke, peule en blare sien waai. Daarna begin hy rustig die peule met sy slurp se vingertjies optel. Ons monde hang oop, want ons het nie geweet wat om te verwag nie.
Hartseer Simba
Dis tweeuur in die oggend toe die luide gebrul afskop. Dit is so hard, dis amper oorverdowend en vrek naby. Elke keer antwoord ʼn ander leeu van oorkant die rivier. Die brutale simfonie hou vir ure aan en teen dagbreek kan ons die leeu uitmaak – dis ʼn jong mannetjie met ligte maanhare. Toe daar ʼn voertuig aankom, staan hy op, merk die gras deeglik met sy urine en loop toe kruppel weg. Hy was duidelik die verloorder in die geveg om die wyfie. Ek was al lankal lus vir koffie, maar het nie durf waag om my kop by die tent uit te steek nie. Toe ons uiteindelik by ons vroeë koffie en beskuit uitkom, meet ek hoe ver van ons tente die jong Simba was: ses meter van Piet en Cari af en agt meter van ons af. Wat ʼn ondervinding!
Dis ons laaste dag in Khwai en ons moet regmaak vir die volgende dag se lang trek Kasane toe.
Kyk noord
Die pad na Kasane, ʼn dorpie naby die Victoria-valle waar ons vir Les en Christelle gaan ontmoet, is 170 kilometer grondpad en daarna so 90 kilo’s teerpad en dit gaan deur beide die Chobe- en die Savuti-wildtuine. Ons val vol moed in die pad, met die verwagting dat ons so ses uur nodig het vir die afstand. Maar die sand is verskriklik los en dit neem ons toe ʼn harde tien en ʼn half uur voor ons uiteindelik teen donker in Kasane se buitewyke aankom. Ek en Mariaan het eerste vasgeval en Piet moes ons met sy Isuzu uitsleep. Nie lank daarna nie val hy kwaai vas met die sleepwaentjie. Cari waarsku ons gelukkig oor die radio om ʼn ander paadjie te vat. Ons grou, laat meer lug uit die bande, gooi rubbermatte – maar maak geen vordering teen die droë, poeierige sand nie. Gelukkig maak ʼn Botswana Waterwese-vragmotor sy verskyning en sleep die Isuzu teen ʼn drafstap uit. Die padoppervlakte is die slegste sinkplaat wat ek nog gery het en ons moes dus uiters stadig ry. Die meeste van die tyd lyk dit of dit net een aaneenlopende Mopaniebos is met hier en daar oop savannavlaktes wat deel is van die Savuti Mababe-leegte, neem ek aan. Net toe ons kla dat ons geen lewe sien nie, kom ons af op ses leeus teen die pad. Hulle is naby en ʼn mens kan aan die letsels op die jong leeus sien hoe erg die oorlewingstryd is. Ons was nog nooit so verlig om ʼn netjiese teerpad te sien nie – en toe sommer die breë Chobe-rivier as ʼn bonus. Die stinkende karkas van ʼn jong olifant langs die pad in die buitewyke van Ngoma herinner ons weer hoe kwesbaar selfs die groot diere is teen die trokke en groot vierwielaangedrewe voertuie. Ons begin nou gereeld die unieke kremetartbome teenkom. Blykbaar is daar agter die Kasane-polisiestasie ʼn uitgeholde ou kremetartboom wat vroeër jare as ʼn tronk gedien het, met ʼn werkende seldeur en al. Ons waardeer die warm storte by die kampplek en dis ʼn plesier om by die Chobe Safari Lodge aan te sit vir ʼn lekker hamburger en oor die uitgestrekte Chobe-rivier uit te kyk.
Ek en Mariaan stel ons terugkeer met ʼn dag uit om darem die Sharpes te sien. Na al die spanning en onsekerheid is Les duidelik aangedaan toe hulle die aand daar aankom.
Ons probeer die volgende oggend om ʼn ou tiervissie aan te keer, maar kom met net drie vet babers terug. Interessante karakter wat die boot aan ons verhuur; hy is in Kasane gebore, maar merk so uit die bloute op dat Magnus Malan nog steeds sy held is. “Waarom sê jy so?” vra ek verbaas. “Because he could get things done.” is die antwoord.
Ons laaste middag in Kasane vaar ons met die boot op die groot ou rivier en geniet die pragtige sononder met ʼn bier in die hand. Dis tyd om vir beide ons ou en nuwe vriende totsiens te sê.
Die pad terug via Francistown is meestal ʼn plesier, behalwe dat ek vir spoed gestop word net buite Francistown, maar die vriendelike beamptes laat my gaan nadat ek my saak gestel het. Ons laaste aand in Botswana gun ons onsself ʼn heerlike kamer in ʼn vyfsterhotel. ʼn Luukse badkamer en skoon wit lakens was nog nooit so lekker nie!