Ouers se aanpassing by kinders wat emigreer

15/02/2024
| Deur Dr. Douline Minnaar
Getty-images-Unsplash-002-scaled

Deur dr. Douline Minnaar (Geestesgesondheidberader)

Gewoonlik is daar met enige afskeid ’n hartseer ondertoon, ’n weemoedigheid wat nesskop. Maar as dit jou kinders is wat oorsee gaan, is dit ’n warboel van gevoelens.

Jy voel bly vir hulle part, trots en opgewonde vir nuwe geleenthede, maar agter die brawe glimlag steek jy jou menslike vrese en seer ouerhart versigtig weg. Jy sien hulle deur die rye by die lughawe beweeg en wonder of jy dit gaan oorleef. Arms en hande waai vir mekaar, soentjies word deur die lug gestuur, en dis die begin van ’n emosionele wipplankryery. As hulle agter die doeane-sekuriteit verdwyn, breek die walle. Of jou verlies nou in trane of met ’n groot terugsluk te voorskyn kom, jy weet hier wag groot aanpassings op jou.

Elke ouer wat hier lees, beleef die afskeid van hul kinders op ’n unieke wyse. Niks van wat jy beleef, hoef dieselfde te klink as jou vriendin of familielid se ervaring met kinders oorsee nie. Respekteer jou eie ervaring. Al vertel ander mense hoe gemaklik hulle daarmee is, is dit heeltemal in orde as jy nie dieselfde voel nie. Dit is normaal.

Heelwat ouers het al hulle belewenisse met my gedeel en dit blyk dat sommige herhaaldelik deur die rouproses gaan. Dit is nooit heeltemal afgehandel nie. Die kinders kom kuier, of julle gaan kuier, en dan wag die afskeid weer. Dan begin die rouproses van vooraf. Dit is ’n uitdagende pad van trane, blydskap, trots en verlange. Dié mengelmoes van gevoelens dra die ouers meestal in stilte en probeer maar elke keer op hulle eie aanpas.

Aanpassing vra dat jy jou gevoelens erken

Jy staar die eerste aanpassings sommer al in die gesig as julle van die lughawe af huis toe ry. Baie ouers raak dan reeds bewus van ’n nuwe kroniese teenwoordigheid: die metgesel van verlange.

Verlange het ’n manier om jou borskas swaar en broos te laat voel. Dis belangrik om bewus te raak van waar in jou liggaam jy die verlange voel. Vertoef doelbewus vir ’n tyd by jou gevoelens en skryf dit neer. Dit het soveel meer waarde as om net ’n gevoel te voel. As jy in woorde, kuns of musiek daaraan uiting gee, help dit jou om by die veranderinge te begin aanpas.

Aanpassing beteken dat jy nuwe rolle inneem

Miskien was jy as grootouer baie betrokke by jou kleinkinders se lewe en selfs by jou eie kinders. As hulle skielik nie meer daar is nie, kan dit lei tot ’n gevoel van nutteloosheid en doelloosheid. Nou moet jy weer ander doelwitte stel, ander roetines vestig. Dit kan lei tot angs en die gevoel dat jou lewe niks meer beteken nie. Dit is natuurlik glad nie waar nie en daarom moet jy jou gedagtes dissiplineer.

Die dissiplinering van jou denke moet jy soos ’n spier sterker oefen. Natuurlik gaan baie ouers nie dadelik na die emigrasie voel of hulle enigsins iets wil doen nie, maar hoe langer jy die fase van doelloosheid handhaaf, hoe harder moet ’n mens werk om weer beheer oor jou gedagtes te kry.

Weer eens kan jy in jou joernaal skryf. Skryf dit wat jou pla in een kolom neer. Skryf die waarheid neer in die kolom langsaan reg oor jou gevoel. Skryf byvoorbeeld reg oor “Ek voel ek beteken niks meer nie.” in die kolom langsaan “Alhoewel my kinders nie meer naby my is nie, beteken ek nog vir baie vir hulle en vir ander mense in my familie en gemeenskap.”

Aanpassing vra dat jy nuwe gewoontes aanleer

Jy sal nou wonder watter slegte gewoontes jy gehad het toe die kinders nog naby was. ’n Mens fokus dikwels so op hulle lewe dat jy jou eie ontwikkeling en innerlike groei onbewustelik systap. Nou is daar weer geleentheid om meer na jou eie menswees om te sien en vas te stel hoe jy ’n groter rol in die gemeenskap kan speel. Dit gebeur so dikwels dat ons goeie dade net in ons familie bly, maar ons verantwoordelikheid strek verder. Jou rol by jou kerk of ’n gemeenskapsorganisasie kan begin uitbrei. Daar is baie hande nodig vir goeie dade in ons land.

Dis ook nodig om jou brein aan die gang te hou. Moenie tot stilstand kom nie – nie fisies en ook nie intellektueel nie. Probeer om redelik by te hou met die tegnologie. Aanvanklik het mense meestal geSkype, maar deesdae is daar soveel ander platforms ook beskikbaar waarop families op die skerm kan saam kuier. Die kinders wat oorsee woon, kan hulle ouers hiermee bystaan en seker maak dat hul ouers ’n goeie internetverbinding het en weet hoe om met WhatsApp te kommunikeer.

Aanpassing vereis ’n verdieping in jou geestelike lewe

Sonder ’n geestelike basis sal die verlange na en bekommernis oor ons kinders nog meer oorweldigend wees. Later in ’n mens se lewe verdiep die meeste gelowiges se geestelike lewe en baie ouers kan getuig dat dit ’n onuitputbare bron van krag is. Jy kan aanlyn kursusse doen, en ’n dieper begrip van jouself en jou geestelike groei kan jou dra in tye wanneer jy nie jouself kan dra nie.

Ons as mens is geskape om aanpasbaar te wees. Al is die afskeid van en verlange na jou kinders soms baie uitdagend, is daar ondersteuning. Daar is ondersteuningsgroepe op sosiale media en berading is beskikbaar.

Baie sterkte aan al die ouers wat so diep verlang na hulle kinders en kleinkinders.


Dr. Douline Minnaar is ’n geestesgesondheidsberader en doen aanlyn beradingsessies vir ouers wie se kinders geëmigreer het asook vir volwassenes met emosionele probleme en kroniese of terminale siektes. Hulle families kan ook by haar aanklop vir berading.

Kontak dr. Douline gerus op haar e-pos by minnaarh@gmail.com

Sy sê: “Dit bly ’n voorreg om berading te doen met ouers wie se kinders geëmigreer het, of dit nou aanlyn of in persoon is. Ek loop graag ’n pad saam met mense totdat hulle weer die lig sien en kan voortgaan op hulle eie.”

Foto: Getty Images/ Unsplash

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels

Meer artikels deur