Deur Sue-Ann de Wet
Daar is ’n ou gesegde wat lui: Dit vat ’n dorp om ’n kind groot te maak.
Maar wat gebeur wanneer daardie dorp duisende kilometers ver is?
Vir baie ouers in die buiteland is dit een van die stilste maar swaarste realiteite: jy doen ouerskap sonder oumas wat kan inval, sonder tannies wat kom help, sonder daardie bekende mense wat jou kind van geboorte af ken. Jy is pa en ma – en dikwels alles tussenin.
Wanneer kinders ook die verlies voel
Kinders pas dikwels vinniger aan as volwassenes, maar dit beteken nie hulle dra niks saam nie. Hulle voel die afwesigheid van familie op maniere wat nie altyd woorde kry nie:
- ’n kleuter wat vra wanneer Ouma weer kom kuier
- ’n skoolkind wat in ’n noodgeval nie iemand het om te bel nie
- ’n tiener wat nie ’n ouer neef of niggie het om mee te praat nie.
Vir kinders is familie nie net mense nie – dit is veiligheid, kontinuïteit en identiteit. Wanneer daardie kring skielik verdwyn, bou hulle ’n nuwe gevoel van behoort, terwyl die gemis aan familie nog deel van hulle daaglikse werklikheid is.

Die las wat ouers dra
Ouerskap in die buiteland vra meer emosionele arbeid. Jy is die buffer, die verduideliker, die trooster – sonder die ondersteuning wat jy dalk vroeër gehad het. Daar is niemand wat vir ’n middag na die kinders kan kyk wanneer jy moeg is nie. Niemand wat sê: “Ek sien jy sukkel; kom rus ’n bietjie.”
Baie ouers voel skuldig omdat hul kinders nie grootword met dieselfde familie-erfenis as wat hulle gehad het nie. Ander voel weer onder druk om alles reg te doen, want daar is geen vangnet nie.

Hoe lyk ondersteuning wanneer die dorp ver is?
Die “dorp” verdwyn nie heeltemal nie – dit verander net van vorm.
1. Bewuste verbinding met familie
Gereelde oproepe, stemboodskappe, foto’s en selfs vaste “familietye” help kinders om te onthou: Ons mense is wel ver, maar hulle is steeds deel van ons lewe.
2. Gemeenskap word gekies
Vriende, ander gesinne, kerke, skole en kultuurgroepe raak deel van ’n nuwe ondersteuningsnetwerk. Dis nie dieselfde as familie nie, maar dit kan steeds vir jou die nodige ondersteuning bied.
3. Taal en tradisie as anker
Wanneer kinders hul moedertaal hoor, stories ken en tradisies beleef, bou dit ’n gevoel van behoort – selfs al is die mense wat dit oorgedra het, ver weg.
4. Eerlike gesprekke met kinders
Kinders hoef nie teen alle hartseer beskerm te word nie. Wanneer ouers eerlik praat oor verlange, gemis en aanpassing, leer kinders dat hul eie gevoelens normaal is.
Jy hoef nie alleen sterk te wees nie
Ouerskap sonder ’n dorp beteken nie jy faal nie. Dit beteken jy doen iets ongelooflik moeiliks in onbekende omstandighede. Dit vra moed.
Ondersteuning lê nie net in groot gebare nie, maar ook in klein, volgehoue verbindings – mense wat jou taal verstaan, jou konteks ken en jou kinders raaksien.
Selfs al is die dorp ver, kan dit steeds bestaan oor grense, oor skerms, en in nuwe verhoudings wat stadig maar seker wortel skiet.
En dalk is dit die grootste les vir ons kinders: dat familie nie net ’n plek is nie, maar ’n verhouding. En dat mens, selfs ver van alles wat bekend is, steeds kan behoort.

Hoe AfriForum Wêreldwyd jou kan ondersteun
By AfriForum Wêreldwyd verstaan ons dat ouerskap in die buiteland nie net praktiese aanpassing vra nie, maar ook emosionele ondersteuning. Daarom skep ons ruimtes waar gesinne mekaar kan vind, ervarings kan deel en weer ’n gevoel van gemeenskap kan beleef – selfs oor tydsones heen.
Deur ons Wêreldgids, nuusbriewe, artikels en gemeenskapsinisiatiewe help ons gesinne om verbind te bly aan hul taal en kultuur en aan mekaar. Ons deel praktiese inligting, vertel stories van ander ouers wat dieselfde pad stap en skep geleenthede waar mense weer daardie “dorp-gevoel” kan ervaar – al lyk dit anders as wat dit vroeër was.
Jy hoef nie alleen sterk te wees nie. Daar is steeds ’n gemeenskap wat saam met jou stap.



















