Deur Ilze Nieuwoudt
In 1658, 364 jaar gelede, is die Khoi-leier Autshumato (ook bekend as Herrie die Strandloper) en drie ander gevangenes na Robbeneiland verban. Hulle is daar gevange gehou tydens die Eerste Khoi-Khoi-Nederlandse Oorlog (1659-1660). Hiermee het Herrie een van die eerste gevangenes op dié eiland geword – die tradisie van ’n eiland vir gevangenes wat vir eeue daarna nog volgehou is. Volgens sekere bronne is enkele ander slawe en krygsgevangenes reeds vanaf 1657 op die eiland aangehou, maar Herrie was beslis dié eiland se eerste bekende gevangene.
Gevangenes op Robbeneiland moes reeds in die VOC-dae harde arbeid verrig en onder meer klippe kap en kalk myn. Dié grondstowwe is veral in destydse bouwerk gebruik.
Herrie, wat voorheen as tolk en adviseur oor Khoi-politiek opgetree het vir Jan van Riebeeck, het egter later in ’n lekkende boot van die eiland af ontsnap en tree daarna op as Khoi-woordvoerder onder verskeie Khoi-groepe. Hy sterf in 1663.
Krotoa (in die Nederlandse gemeenskap aan die Kaap bekend as Eva), ’n familielid van Herrie, was ’n ander bekende Khoi-tolk van dié tyd. Die lewe van Herrie, Krotoa en selfs Krotoa se dogter, Pieternella, is reeds in verskeie boeke en rolprente uitgebeeld (hoewel die weergawes soms met ’n sterk dosis fiksie vermeng is). Dalene Matthee se historiese roman Pieternella van die Kaap (2000) en die 2017-rolprent Krotoa is bekende voorbeelde hiervan.
Die kaart van Robbeneiland dateer uit 1731, bykans 80 jaar nadat Herrie die Strandloper een van die eiland se eerste gevangenes daar geword het.
Die verhale van Krotoa en haar dogter, Pieternella, is dekades lank al in boeke en rolprente weergegee.
Deel op
Nuutste artikels