Sandbeeldhouwerke in die Lange Voorhout, Den Haag – Junie 2018

12/07/2018
| Deur Alana Bailey
20180606_123257

In Junie 2018 het ek die voorreg gehad om Den Haag in Nederland te besoek as deel van AfriForum se internasionale bewusmakingsprogram oor onteiening sonder vergoeding. Die hotel waar ek tuisgegaan het, is geleë naby die Lange Voorhout, ’n boomryke laan in die stad. Volgens die inligtingsbord staan daar 314 lindebome, 11 Nederlandse olmbome en 7 perdekastaiingbome. Bome word al vir meer as 800 jaar hier aangeplant en die oudstes dateer uit ongeveer 1745.

Somer

Herfs

Winter

Om daarlangs na ’n afspraak of die stasie toe te stap, is altyd ’n plesier, ongeag die seisoen. Hierdie keer was dit nóg meer die geval, aangesien ’n groep van nege internasionale sandbeeldhouers van 4 tot 12 Junie 2018 daar aan die driejaarlikse Sandbeeldhou Wêreldkampioenskappe deelgeneem het. Dit is die eerste keer dat die kampioenskap in Nederland plaasgevind het. Deelnemers was onder meer van Japan, Singapoer, die VSA, Mexiko en Brittanje afkomstig en is deur die WSSA (World Sand Sculpting Academy) gekeur. Hulle beoefen hierdie unieke beroep voltyds, onder meer met borgskappe, donasies en natuurlik prysgeld.

Die Nederlandse strandoord Scheveningen is vanjaar 200 jaar oud en die tema van die kompetisie, “200 jaar van sand, see en …”, het hierby aangesluit.

Die beeldhouwerke wat geskep is, is 4 tot 5 meter hoog. Kunstenaars kon self op hulle interpretasie van die tema besluit en het ook inligtingsborde by hulle werke opgerig om die simboliek daarvan te verduidelik. Volgens die deelnemer van die VSA met wie ek gesels het, is net die fynste sand vir die kunsvorm geskik – dus eerder rivier- as seesand, wat meer korrelagtig is. Elke deelnemer het hier sowat 40 000 kg sand, afkomstig uit die Maasrivier, gebruik. Slegs sand en water word vir die beeldhouproses gebruik. Die sand word dig saamgepers sodat dit stormwind en reën kan oorleef. Nadat ’n werk voltooi is, het dit geen instandhouding nodig nie. Dit hoef dus nie weer natgespuit te word nie. Dit kan lank oorleef – in Japan is daar so ’n beeldhouwerk wat reeds 30 jaar oud is.

Die beelde sal nog tot 19 Augustus 2018 besigtig kan word, waarna dit gesloop en die sand vir bouprojekte in die stad herbruik sal word.

Daagliks kon ’n mens die kunstenaars se vordering dophou. JOOheng Tan van Singapoer het sy skepping “Dimensies van skoonheid” genoem. Hy bewonder die Nederlandse skilder Vincent van Gogh en noem homself die 21ste eeu se Vincent Sand Gogh!

6 Junie 2018

8 Junie 2018

Benjamin Probanza van Mexiko het met sy “Liefde vir altyd” op die stormagtige verhouding van Frida Kahlo en Diego Rivera gefokus.

6 Junie 2018

7 Junie 2018

My gunsteling was die vrou wat deur Thomas Koet, die Amerikaanse deelnemer, geskep is. Hy het die derde prys verower.

6 Junie 2018

8 Junie 2018

Die wenner was Baldrick Buckle van Brittanje met sy stoomroller getiteld “Die pad na Scheveningen”.

Die stoomroller se detail, soos die ruitveërs, deurknippe en skarniere is inderdaad verstommend.

Helaas moes ek Nederland verlaat voor die werke voltooi is, maar daar is heelwat webtuistes waar belangstellendes foto’s daarvan kan besigtig. Lees ook gerus meer hieroor by http://www.zandsculpturendenhaag.nl/nl/wereldkampioenschap-zandsculpturen-den-haag-2018/.

Hierdie minder bekende kunsvorm kom aanvanklik vreemd voor – soveel tyd en hulpbronne word gewy aan beelde wat maar enkele weke bestaan. Terugskouend is dit egter juis die broosheid en verganklikheid daarvan wat ’n mens die meeste aangryp en bybly.

My advies is: moenie die geleentheid laat verbygaan om só ’n uitstalling te besoek nie.

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels