Sewe snaaksighede van Amerika

29/09/2016
| Deur Marisa Haasbroek
1-300x163

1. Jy mag oor rooi verkeersligte ry.

Nee, jy hoef nie die brandweer of polisie te wees nie. Gewone mense mag. Maar net as jy gaan regs draai. En nadat jy gestop en gekyk het of daar nie ander motors aankom nie, veral nie onverwags van die oorkant af nie. Eers het dié reëling ons lekker deurmekaar gemaak en baie Amerikaners het vir ons toeter geblaas. Tot ons die hele situasie in ons koppe na Suid-Afrika toe terugverplaas het: verbeel jou jy staan en wag om links te draai by ’n rooi verkeerslig; as niemand van oorkant af wil regs draai nie, gaan die verkeer mos beter vloei as jy solank draai.

In Amerika moet jy egter mooi kyk, want partykeer kruip ’n wit bordjie met swart letters wat jou verbied om op rooi te draai iewers weg. Amerikaners is alte lief daarvoor om lange boodskappe uit te skryf in plaas daarvan om simbole te gebruik. En o ja, as jy ooit eendag in New York bestuur, moet jy onthou daar mag jy glad nie op rooi draai nie.

2. Daar is vreeslike en vreemde fauna.

  • Steekvliegies wat so seer steek, jy kry hoendervleis as jy net aan hulle dink.
  • Reusagtige krieke met laaang voelers wat jou in die nag in die badkamer inwag (grr).
  • Eekhorings met selfmoordneigings wat voor jou kar inhardloop of wat hulle soos wafferse sweefstokartieste op die kragdrade balanseer.
  • Eekhorinkies wat so vinnig hol dat jy hulle nooit regtig kan sien nie.
  • Rooiveervoëls wat in die somer hulle lieflike opwagting maak.

Maar my gunsteling is die vuurvliegies wat ook in die somer uitkom en wie se stertliggies aan- en afgaan soos hulle skemertyd begin rondfladder.

3

3. Goed is GROOT, baie groot.

Melk, mayonnaise en brandstof koop jy in gallonne (een gallon is amper vier liter), antihistamien kan jy tot eenduisend pilletjies op ’n keer koop en snesies kom in pakke van tien bokse. Ons het eenkeer gehoor hulle wou Suid-Afrikaanse vrugtesap na Amerika uitvoer. Dit sou nou regtig ’n puik idee gewees het, want Yank-vrugtesap kom nie naby dié van ons Suiderland nie, maar die reusehoeveelhede wat nodig was om in die Amerikaanse mark in te kom, was ’n groot probleem. Amerika voel baie keer vir jou soos Makro… op steroïede.

4. Ons het nog nooit so koud óf so warm gekry nie.

Die koue het ons, vir wie sneeu vreemd is, verwag. Maar die hitte was ’n onaangename verrassing. Aan die oostekant van die land waar ons bly, is humiditeit die groot probleem. In ons tweede somer in Amerika het ons plaaslike biblioteek vir ons ’n e-pos gestuur om te sê as ons dit nie kan uithou met die hitte nie, kan ons maar amptelik in die bib kom afkoel. Dan moet jy maar weet die temperatuur gaan raak-raak aan veertig grade en die humiditeitsvlak is meer as 90%.

5. In sommige opsigte is Amerika baie outyds.

Tjeks skryf mense hier nog dikwels uit en gooi dit in die pos. Die posdiens werk uitstekend en ons het al tot vier groot sitkamerstoele oor die pos bestel en die vier bokse het ons soos brandwagte van ouds ongemolesteerd in die sneeu in die oprit ingewag. Elektroniese bankdienste bestaan, maar is nie naastenby so flink gerat soos in Suid-Afrika nie. Vir party banke beteken “elektroniese betaling” jy stuur vir die bank ’n e-pos met ’n betaalopdrag en hulle gooi dan namens jou ’n tjek in die pos. En skielik maak sommige Amerikaanse banke se logo’s, soos die een hier onder, meer sin.

6. Amerikaners is pragmaties en vindingryk.

Op die pragtige Bay Bridge, waaroor ons gesin graag ry, wissel hulle die gebruik van die middelbaan na gelang van die hoeveelheid verkeer. Vrydagmiddag as almal kus se kant toe koers kies, loop die middelbaan na die kus; Sondagmiddae swaai dit om. By ’n winskoopwinkel het ons die oulike idee gesien dat kopers ’n muntstuk in ’n gleuf in die winkelwaentjie stop om dit los te maak. Sodra jy die waentjie terugneem na die ry, laat los ’n meganisme weer jou muntstuk vir jou – ʼn slim manier om almal sover te kry om die waentjies terug te vat.

7. Elke huis het ‘n gorrelgat.

Dis ons gesin se woord vir die versnipperaar wat in die drein van die kombuiswasbak ingerig is. Sit jy hom aan, maak die ding onaardse geluide wat jou laat vermoed daar bly ’n trol in die pype wat nog eendag iemand se vingers gaan afkou. Teen dié tyd weet ons ʼn mens kan baie goed in die trol se gorrelgat gooi en hy sal dit met graagte verorber, maar kersiepitte eet hy nie – dit laat sy ratjies vasdraai en dan gaan staan hy botstil. En dan moet iemand (en dis gewoonlik ’n dikbek lid van die manlike geslag in jou gesin) regtig sy hande daar indruk en die pitjies een vir een uitvis.

Lees ook: Uit en Tuis met die Haasbroek gesin

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels