Skrapping van belastingvrystelling op buitelandse inkomste – hoe raak dit Suid-Afrikaners?

10/08/2017
| Deur Sue-Ann de Wet
skrapping-van-belastingvrystelling-op-buitelandse-inkomste-hoe-raak-dit-suid-afrikaners

Deur Amanda Visser

Suid-Afrikaners wat in die buiteland op langtermynkontrakte werk se gunstige belastingbedeling kan tot ’n einde kom.

Nasionale Tesourie wil hê dat Suid-Afrikaners wat tans ’n belastingvrystelling op hul buitelandse inkomste verdien in die plaaslike belastingnet ingetrek word. Dit sal beteken dat ’n Suid-Afrikaner wat reeds buitelandse belasting op dié inkomste betaal, voortaan dubbel op dieselfde inkomste belas gaan word. Daar word wel voorsiening gemaak om ’n krediet vir die belastingbetaling in die buiteland te kan eis.

Sommige belastingkenners het reeds hul voorbehoude oor die praktiese implikasies daarvan uitgespreek.

Die vrystelling is in 2001 ingestel en is van toepassing op Suid-Afrikaners wat vir 183 dae in die buiteland werk, waarvan 60 dae aaneenlopend in een jaar moet wees.

In Februarie vanjaar het die minister van finansies aangekondig dat dié vrystelling “oormatig vrygewig” blyk te wees omdat sommige Suid-Afrikaners glad nie belasting betaal nie aangesien hul gasheerland nie belasting op individue hef nie, soos in die geval van Dubai. In ander gevalle betaal mense beduidend minder belasting as wat hulle in Suid-Afrika sou betaal. Die minister het toe voorgestel dat Suid-Afrikaners in Suid-Afrika belas moet word as hulle geen belasting in die buiteland betaal nie. Die vrystelling sou steeds geld in gevalle waar hulle wel aan persoonlike belasting in die gasheerland onderhewig was.

Dié voorstel is egter van die tafel gevee met die nuwe voorstel wat in die Julie Konsepwysigingswetsontwerp op Belasting (draft Taxation Laws Amendment Bill) gepubliseer is.

Stephan Spamer, hoof van Baker McKenzie se belastingpraktyk in Johannesburg, sê ingevolge die nuwe voorstel sal belasting gehef word op die vergoeding wat aan Suid-Afrikaners in die buiteland betaal word, ongeag hoe lank hulle daar werk. Spamer wys daarop dat die meerderheid dubbelbelastingooreenkomste wat Suid-Afrika met ander lande het, Suid-Afrika se reg om werknemers se vergoeding te belas, respekteer. Dit is wel onderhewig aan die verlening van ‘n krediet vir die buitelandse belasting wat betaal is.

“Suid-Afrikaners betaal belasting op hul wêreldwye inkomste. Die voorgestelde verandering is baie meer regverdig aangesien daar Suid-Afrikaners is wat doelbewus in geen- of laebelastingkoerslande gaan werk om vir die vrystelling te kwalifiseer.”

Die belastingooreenkomste verseker dat daar nié sprake sal wees van dubbelbelasting nie, aangesien mense wel ‘n krediet gaan kry vir die belasting wat in die buiteland betaal is.

Erika de Villiers, hoof vir belastingbeleid van die South African Institute of Tax Professionals (SAIT), sê die eis van ‘n belastingkrediet is nie so maklik as wat dit klink nie. Sy sê Suid-Afrikaners wat op korttermyn-kontrakte in die buiteland werk is nie geregtig op die vrystelling nie en moet deur die proses gaan om die belastingkrediet terug te eis. Dit duur dikwels baie lank voordat die voordeel van die buitelandse belastingkrediet ontvang word. In baie gevalle is dit bykans onmoontlik om te bewys dat daar wel belasting in die buiteland betaal was.

Baie Suid-Afrikaners, veral jonger werknemers, kan besluit om finaal hul bande met die land te verbreek en te emigreer. StatsSA se emigrasiesyfers van 2006 tot 2016 wys daarop dat die grootste gros emigrante tussen 25 en 39 jaar oud is. Die meeste emigrasies (25,7%) vir dié tydperk het in 2015 plaasgevind. Die gewildste oorsese bestemmings is Australië, die Verenigde Koninkryk, Amerika en Nieu Seeland.

Volgens De Villiers is dit waarskynlik “goedkoper” vir jonger mense om te emigreer weens die koste verbonde aan die kapitaalwinsbelasting op die “veronderstelde (geagte)” verkoop van hul Suid-Afrikaanse bates. Jonger mense het normaalweg minder bates en kan besluit dat die verlies aan toekomstige inkomste weens die nuwe belastinglas swaarder weeg as die koste om die land te verlaat.

Die voorgestelde datum vir die skrapping van die vrystelling is 1 Maart 2019. Belangepartye het egter tot 18 Augustus 2017 tyd om kommentaar te lewer.

ONDERTEKEN ONS PETISIE

Deel op

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels