Algehele privatisering van die Suid-Afrikaanse gesondheidsbedryf – dít meen die ekonoom Dawie Roodt is in kort die enigste werkbare alternatief tot die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV). Roodt het vandag by AfriForum se konferensie oor die NGV in Pretoria sy voorstel vir ’n nuwe benadering tot gesondheidsorg in Suid-Afrika voorgelê. Die NGV is, volgens Roodt, ’n onhaalbare ideaal aangesien die geld én vermoë by die Suid-Afrikaanse regering ontbreek om dié plan suksesvol te implementeer.
Roodt se voorstel behels onder meer dat wetgewing ingestel word wat lidmaatskap van ’n mediese fonds verpligtend maak vir alle Suid-Afrikaners. Daarvolgens sal bestaande mediesefondslede onbelemmerd kan voortgaan met hul lidmaatskap. Die res van die bevolking sal dan, na afloop van die privatisering van al die mediese dienste in die staat, in een van minstens drie privaat fondse gegroepeer word om sodoende toegang tot beperkte, maar tog hoë gehalte privaat- mediese sorg te kry. Die befondsing hiervoor sal uit die staat se gesondheidsorgbegroting, wat tans in sukkelende of wanfunksionele hospitale of klinieke gepomp word, geput kan word. Roodt voer voorts aan dat pasiënte wat dan verdere mediese sorg benodig, in opleidingshospitale geakkommodeer moet word.
Roodt was een van vele toonaangewende stemme in die gesondheidsorgbedryf wat vandag op uitnodiging van AfriForum byeengekom het om oplossings vir die dreigende gesondheidsorgkrisis, wat uit die implementering van die NGV sal voortvloei, te bespreek. Dit kom te midde van toenemende kommer oor die implementering van die NGV nadat pres. Cyril Ramaphosa opnuut onderneem het om die NGV-wetsontwerp binnekort te onderteken sodat dit as wet bekragtig kan word.
Vernon Chorn (uitvoerende hoof van Unity Health) en André Jacobs (outeur van die boek Medical schemes explained) het albei ook die uitvoerbaarheid van die NGV in twyfel getrek en op die gevare van die implementering daarvan gewys.
Chorn het daarop gewys dat Suid-Afrika se verouderende bevolking, waar mense nie meer ná aftrede tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) bydra nie, ook die lewensvatbaarheid van grootskaalse maatskaplike programme, soos NGV, onmoontlik maak. Hoe ouer die bevolking word – en hoe kleiner die werkende bevolking – hoe meer druk word daar op die gesondheidsorgbedryf geplaas. Aspekte soos dié lei volgens Chorn tot ’n grootskaalse uittog van geleerde gesondheidsorgpersoneel wat verdere uitdagings bied vir die bedryf.
“Die NGV sal eenvoudig nie onder die huidige vooruitskattings oorleef nie, aangesien dit ’n beduidende bedrag – ongeveer R600 miljard – benodig om suksesvol geïmplementeer te word. Daar is geen manier om hierdie bedrag in te samel sonder om belasting te verhoog nie en dit sal uiteindelik ’n swakker BBP tot gevolg hê,” sê Chorn.
Jacobs het op sy beurt onder meer gewys op die talle onsekerhede wat tans oor NGV bestaan en benadruk dat die implementering van NGV uiteindelik tot ’n stelsel sal lei waarin groter afhanklikheid van die staat gevestig sal word, terwyl die vryheid van keuse ook van pasiënte ontneem sal word. Jacobs meen voorts dat ’n tweebeenstrategie – waarin voorkoming en behandeling toegepas word – ’n werkbare oplossing vir die huidige sukkelende Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel sal bied.
Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, is daar verskeie scenario’s wat kan voortspruit uit die implementering van NGV, daarom is dit belangrik om op volle gereedheid te wees vir al die moontlikhede. “AfriForum is steeds optimisties dat die NGV-wetsontwerp deur openbare druk en regsgedinge gestuit kan word, maar Suid-Afrikaners moet nogtans hulself voorberei met oplossings sou daar ’n gesondheidsorgkrisis deur NGV teweeggebring word,” sê Boshoff.
“AfriForum het sedert 2019 altesaam 53 veldtogte teen die aanneming van NGV van stapel gestuur. Al die wettige kanale is gevolg om dit teen te staan, en indien die president die wetsontwerp onderteken, gaan AfriForum dit in die hof uitdaag,” sluit hy af.
Klik hier om na die gesprek oor NGV te luister.
Deel op
Nuutste artikels