Suid-Afrikaners wat oorsee werk kan moontlik in die toekoms dubbele belasting betaal
deur Amanda Visser
Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, kan dubbeld belas word indien die jongste konsep-interpretasienota oor buitelandse inkomste nie heroorweeg word nie.
Die belastingstelsel is reeds minder gunstig vir Suid-Afrikaanse ekspats omdat die belastingvrystelling op buitelandse inkomste vanaf Maart 2020 slegs vir R1 miljoen sal geld. Alle buitelandse inkomste bo R1 miljoen sal in SA belas word.
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het in Oktober 2019 ‘n konsep-interpretasienota uitgereik wat oor belastingkrediete en -aftrekkings handel en ontvang sedertdien kommentaar van rolspelers in die bedryf.
Tans kan Suid-Afrikaners belastingkrediete eis indien hulle op dieselfde inkomste belas is in die land waar hulle werk én in Suid-Afrika. As hulle onregmatig belas is, kan hulle ‘n belastingkrediet kry. Die proses is egter nie altyd sonder probleme nie, sê Thomas Lobban, belastingadviseur by Tax Consulting SA. Die bewyslas op die belastingbetaler is redelik hoog. Die SAID wil gewoonlik óf ‘n sertifikaat van die werkgewer sien wat wys dat belasting afgetrek is, óf ‘n belastingopgawe wat deur die belastingpligtige in die vreemde land ingedien is. “Sonder een van hierdie twee dokumente sal die SAID waarskynlik die kredietverlening weier, wat beteken die belastingbetaler moet beswaar aanteken en ‘n dispuutproses volg.”
Die kredietstelsel sal van Maart 2020 af nog belangriker word vir Suid-Afrikaanse belastingbetalers wat in die buiteland werk, sê Lobban. Baie mense geniet tans volle belastingvrystelling op buitelandse inkomste as hulle minstens 183 dae in ‘n periode van twaalf opeenvolgende maande buite Suid-Afrika werk, en as minstens 60 van daardie 183 dae aaneenlopend is.
SA het belastingverdrae met verskeie lande om dubbele belasting te voorkom. So ‘n ooreenkoms behels dat die land waar die Suid-Afrikaners werk hulle nie mag belas nie, omdat hulle belastinginwoners van SA is. In sekere gevalle belas die buitelandse jurisdiksies Suid-Afrikaners in stryd met hul belastingverdrag met Suid-Afrika. Vir hierdie doel het die regering ‘n artikel in die Wet op Inkomstebelasting (artikel 6quin) ingestel wat voorsiening maak vir belastingkrediete as belasting in die buiteland en in SA op dieselfde inkomste gehef is en vir belasting wat onregmatig gehef is. Die artikel is in 2016 geskrap, maar belastingbetalers het steeds ingevolge artikel 6quat verligting ontvang. Die SAID wil nou die interpretasie van dié artikel, en dus die verligting wat verleen is, verander.
Joon Chong, vennoot by Webber Wentzel, sê sommige Afrika-belastingowerhede het nie die reg op terughoubelasting indien ‘n Suid-Afrikaanse maatskappy nie ‘n permanente onderneming in daardie land is nie. Hulle hef belasting hoofsaaklik om hul eie inkomste te verhoog, al is dit ‘n duidelike oortreding van die belastingverdrag. Om verligting te eis, moet die belastingbetaler kan bewys dat die terughoubelasting volgens die belastingverdrag betaalbaar is, verduidelik sy. Dit beteken dat die land waar die Suid-Afrikaner werk volgens die verdrag die reg op belastingverdienste het. As die individu meer as 183 dae in die vreemde land gewerk het, kan die bedrag in daardie land belas word, maar as dit minder as 183 dae was, het daardie land geen reg op die belastingverdienste nie.
Indien inkomstebelasting of terughoubelasting nogtans gehef is, kan daar nie bewys word dat die persoon verplig was om dit te betaal nie. Die individu of maatskappy kom dus te staan teen buitelandse belastingowerhede wat hul perke oorskry.
Beatrie Gouws, hoof van strategiese ontwikkeling by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingkundiges, sê die enigste “verligting” vir belastingbetalers is om die SAID te nader om namens hulle deur die “bevoegde owerheidsmeganisme” in te gryp – wat beteken die SAID moet die stryd met die buitelandse belastingowerheid aanpak. “Die SAID kan na goeddunke besluit of hulle die situasie gaan probeer regstel of nie. As hulle nie optree nie, is dit die belastingpligtige se verlies, nie die SAID s’n nie.”