Taal tel 8 – Cerneels Lourens – prokureur, sakeman en taalaktivis (deel 1)

28/09/2023
| Deur Alana Bailey
Taal-tel-8-deel-1

Deur Alana Bailey

Die naam Cerneels Lourens is sinoniem met die bevordering van taalregte en meer spesifiek Afrikaanse taalregte. AfriForum het onder meer al die voorreg gehad om saam met hom die regstryd vir die beskikbaarstelling van nasionale wetgewing in alle amptelike tale aan te pak. Dit is ook aan hom te danke dat die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale wat vanaf 2004 iewers op ’n rak lê en stof vergader het, uiteindelik in 2012 aanvaar en geïmplementeer is.

In die eerste van twee artikels, gesels Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, met hom oor sy liefde vir Afrikaans, die stigting van die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) en enkele van die hofsake wat hy geïnisieer het.

Waar kom jou liefde vir Afrikaans vandaan?

Ek is onbeskaamd Afrikaans. In my ouerhuis is die trots van ons taal deurlopend beklemtoon. So het ek ook uitstekende onderwysers gehad wat trots Afrikaans was. Ek het in Standard 5 die prys vir die beste Afrikaanse leerling ontvang. My grootwordomgewing was Hekpoort tussen die Magaliesberg en Witwatersrand-berg in die pragtige vallei wat Jan Smuts in sy herinneringe oor die Tweede Vryheidsoorlog vergelyk met die Tiebervallei by Rome. Ons is daagliks daaraan herinner, want die son het saans oor die kranse van Nooitgedacht, waar die slag op 13 Desember 1900 plaasgevind het, ondergegaan en ons kinders was baie bewus van hierdie onregverdige oorlog. Dit was ’n groot Afrikaanse omgewing hoewel ons in ’n klassieke Milner-skooltjie skoolgegaan het. Ons het gewoon nie nodig gehad om Engels te praat nie. 

Is taalregte jou vernaamste werk?

Nee, glad nie. Ek is ’n kommersiële en litigasie prokureur en sakeman. Taalregte is my “gholf-stokperdjie” en passie. Ek het my klerkskap in die laat tagtigs by die Staatsprokureur in Pretoria gedoen en vandaar my kennis om teen die staat te kan litigeer. 

Taalregte is nie aan almal bekend nie. Waar het jy jou breë kennis van hierdie veld opgedoen?

Ek het ingeskryf by die Universiteit van Johannesburg vir my doktoraal met die goedgekeurde onderwerp: “Die beskerming en afdwinging van taalregte in die Republiek van Suid-Afrika met bepaalde verwysing na Afrikaans” onder leiding van prof. Hennie Strydom. Ek het baie stof versamel en baie gelees en ongeveer so 300 bladsye se notas geskryf toe ek besef dat my regspraktyk en die skryf van ’n proefskrif nie binne die spertyd doenbaar was nie. Ek het toe maar die studies gelos. My naleeswerk kon ek dus egter met vrug aanwend met al die hofsake en onderhandelinge oor taalregte. 

In 2002 het jy die inisiatief geneem om die VRA te stig. Waarom?

Ek het ’n skrywe in die prokureurstydskrif, De Rebus, geplaas wat die noodsaak van ’n kollektiewe optrede via ’n vereniging vir die beskerming van Afrikaans as regstaal beklemtoon het. Die reaksie landwyd was positief. Die VRA is toe op 8 Junie 2002 in Pretoria gestig. Prof. Koos Malan en prof. Dawie de Villiers, onderskeidelik voorsitter en ondervoorsitter en ek as hoof- uitvoerende beampte is toe gekies en die voorlopige grondwet, wat ek voorberei het, is aanvaar. Die vereniging het begin werk – die verloop daarvan het ek in ’n gedenklesing voor die VRA in redelike besonderhede hanteer. Dit is hier beskikbaar.

Wat het van die VRA geword?

Ek was altyd ’n betrokke lid, maar ’n jaar of wat voor die Covid-19-pandemie het dit ophou bestaan. Daar sou ’n regsgilde tot stand kom waarvan ek nie eintlik veel kennis dra nie. Ek dink dit is dalk tyd vir ’n nuwe inisiatief hieroor met nuwe aangepaste doelstellings. Ek het onlangs vir Akademia voorgestel dat hulle ’n taalregsentrum begin, maar hulle het nie tans die kapasiteit daarvoor nie. Daar is ’n groot behoefte vir geakkrediteerde Afrikaanse opleidingsinstelling om opdateringskursusse vir regspraktisyns in Afrikaans aan te bied. Tans bied die Black Lawyers Association sodanige kursusse vir hulle lede aan.

Verstaan regters en regslui oor die algemeen taalregte?

Die beste antwoord hier is by monde van die president van die Internasionale Forensiese en Linguistieke Vereniging tydens die streekkongres in Kaapstad ’n paar jaar gelede. Sy het naamlik gesê dat regters wêreldwyd oor die algemeen dink hulle is kenners op taalregte terwyl hulle nie ’n idee het waarvan hulle praat nie. My ervaring ook met die aanstel van advokate is dat hulle opgelei moet word deur middel van taalregartikels en soortgelyke inligting voordat hulle met die sake kan begin.Dit is duidelik uit uitsprake en selfs my ervaring in die Appèlhof dat groot onkunde heers: Ek is byvoorbeeld in die Hoogste Hof van Appèl deur die voorsittende regter gevra wat die onderskeid tussen hoër en laer funksies van tale is, nieteenstaande dat dié aspek in my hoofde hanteer is.

Wat is jou indruk oor die houding jeens Afrikaans in die howe?

Daar is ’n sterk anti-Afrikaanse sentiment in ons howe. Die persepsie is dat net Afrikaanssprekendes hulle regte opeis en probeer afdwing. So het die vorige hoofregter in die AfriForum versus Universiteit van die Vrystaat-saak die verstommende opmerking gemaak dat Afrikaans “unwittingly racist” is. Gelukkig het regter Johan Froneman hom met dieselfde uitspraak oor die vingers getik deur te meld dat net mense rassisties kan wees en nie ’n taal nie. 

Wanneer het jy die eerste taalverwante hofsaak geloods?

As ek reg onthou was dit aan die einde van 2008 nadat ek die kabinetsbesluit aangevra het waarom die Suid-Afrikaanse Tale Wet, wat reeds in 2004 ná wye konsultasie gepubliseer is, nog nie by die Parlement ingedien was nie. Die kabinet het egter besluit dat daar nie deur middel van wetgewing nie, maar deur administratiewe maatreëls voortgegaan sou word om die talebestel in Suid-Afrika te reël, aldus die besluit. Dit is in weerwil van ’n uitdruklike voorskrif in subartikel 6(4) van die Grondwet dat dit deur wetgewende en ander maatreëls gereël moet word. Ek het gevolglik ’n aansoek voorberei om die regering te dwing om aan hierdie grondwetlike verpligting te voldoen.  

Ek verstaan Flip Buys het jou so ’n maand voor die verhoor op 8 Maart 2010 geskakel en meegedeel dat Solidariteit ’n senior advokaat sal borg?

Sjoe, dit was ’n fantastiese oproep en ek het toe die briljante Quintus Pelser aangestel. Ek het gelukkig die saak met koste gewen en hoef toe nie gebruik te gemaak het van hierdie gewaardeerde aanbod nie, maar dit het my groot gerusstelling verskaf. 

Hoe het die aanvanklike gedagte by jou ontstaan om so hofaansoek te bring?

In een van die regsartikels het prof. Francois Venter, reeds in 1998, geskryf dat die taalwetgewing al gefinaliseer moes wees. Dit het my spesifiek bewus gemaak. 

Het jy self die hofstukke opgestel?

Ja. Ek het aan die einde van die laaste sake ’n verklaring of twee net deur ’n advokaat laat deurgaan, maar die ander het ek self op my eie tyd opgestel. Jy moet onthou ek is ’n litigant wat heeltyd hofstukke opstel en dit is vir my maar soos ontbyt eet.   

Nadat jy die Nasionale Taalwetgewing met ’n suksesvolle hofaansoek in 2010 afgedwing het, wat het toe gebeur?

Die regering het voete gesleep en eers aan die einde van hulle twee jaar tydperk, wat die hof hulle gegun het, ernstig aan ’n nuwe taalwet begin skryf. Ek het verstaan dat ’n privaat prokureursfirma opdrag gegee is om hierdie taak te doen en dat dit nie via die staatsprokureur geskied het nie. En ek sal nog steeds graag wil weet hoeveel daarvoor betaal is en wie dit gedoen het. Hoe dit ook al sy, die nuwe taalwet, wat tans die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale is, is ’n baie afgewaterde, swak stuk wetgewing wat eintlik net letterlik ’n nakoming van die hofbevel is. Tydens my voorlegging voor die portefeulje komitee in die parlement het ek op rekord geplaas dat, as hulle dit nie voor die twee jaar tydperk finaliseer nie, ek ’n minagtingsaansoek teen die minister sal bring. Die minister het toe ter elfder ure ’n dringende aansoek gebring vir ’n verlenging van die twee jaar tydperk en ná onderhandelinge, waarby prof. Wannie Carstens betrokke was, asook sy skakel met die regering, Renier Schoeman, het ons ingestem tot ’n verlenging van ses maande. Die wet is uiteindelik aanvaar, maar toe publiseer hulle nie regulasies nie en die inwerkingtredingsdatum is toe aan die diskresie van president Jacob Zuma oorgelaat. Ek het daarna weer ’n aansoek gebring om president Zuma te verplig om die wet in werking te laat tree en ’n paar dae voor die hofaansoek in Mei 2013 sou dien, het hy die inwerkingtredingsdatum gepubliseer. 

Het jy interessante interaksies gehad tydens die skaaf van die Talewet in die parlement? 

Ja, ek het nou geskakel met dr. Annelie Lotriet, wat die DA se woordvoerder van Kuns en Kultuur was, asook met dr. Pieter Mulder van die VF+. Op ’n uiters delikate stadium in begin Februarie is dr. Annelie Lotriet skielik vervang deur Nicky van den Berg. Ek onthou nog dat ek een hele Saterdag aan ’n agtergrondsmemorandum vir hom gewerk het en ek kan nou nog nie verstaan hoekom die DA se leier, Lindiwe Mazibuko, toentertyd hierdie delikate verandering gemaak het nie. Nicky het sy bes gedoen, maar die vereiste dat daar drie amptelike tale deur die uitvoerende gesag gebruik moet word, spesifiseer nie dat een daarvan Afrikaans moet wees nie en die beleide wat die nasionale departemente, instellings en entiteite moes aanvaar, kan enige van die ander amptelike tale wees. Tans is daar gelukkig ’n groeiende opeising van taalregte onder die Afrikataalsprekers, aangespoor deur kundige aktiviste wat ook hierdie drietaligheid bevorder, maar Afrikaans drink aan die agterste speen.   

Jy het ook van parlementêre vrae gebruik gemaak?

Ja, ek het van die goedgunstigheid van dr. Pieter Mulder gebruik gemaak om verskeie kere vrae in die parlement aan die minister van Kuns en Kultuur, en ook aan die minister van Justisie te stel. Mulder het baie gedoen vir Afrikaans in sy dienstyd. 

’n Ander interessante saak is die aansoek teen die minister van Justisie om al die regulasies ingevolge die Gelykheidswet in al 11 amptelike tale te laat vertaal. 

Ja, hierdie is interessant, want dit is die enigste wet wat in al 11 amptelike tale vertaal moet word. Die sogenaamde PEPUDA of Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie. Dit is interessant dat nie eens die Grondwet hierdie vereiste insluit nie. Tans is die Grondwet nog slegs in Engels in die Staatskoerant gepubliseer en hou die regering nie die nie-amptelike vertalings in die ander amptelike tale van die Grondwet op datum met al die wysigings nie. Dit is ’n skande. Dr. Neville Alexander het ná hierdie hofbevel vir my geskryf en sy woorde onthou ek goed: “Die Regering wil net nie luister nie!”  

Toe word in 2012 aangekondig dat die makelaarseksamen net in Engels aangebied sal word. Hoe het jy daarop gereageer?

Ek het in opdrag van ’n aantal makelaars ’n aansoek in die Gelykheidshof in die Pretoria Hooggeregshof gebring. Ek was tot die Vrydagmiddag laat, voordat die saak die Maandag sou begin, onder die indruk dat die Raad op Finansiële Dienste, soos dit toe bekend was, sou skik en moes toe inderhaas die Saterdag konsulteer. Die Maandag het die verhoor voor regter E. Bertelsmann begin. So teen die middag van dag twee het ons toe onder druk van die regbank tot ’n skikking gekom dat een van die vier geakkrediteerde eksameninstellings ’n Afrikaanse eksamen sal fasiliteer. Die interessante argument, wat hier gevoer is, is naamlik dat die ondergeskikte wetgewing, die regulasies, net in Engels beskikbaar is en gevolglik was die aanbied van ’n eksamen in Afrikaans te midde van die tegniese aard nie moontlik nie. Die skikking is toe deur regter Eberhard Bertelsmann ’n bevel van die hof gemaak. Ons was gelukkig om so ’n kundige regter te tref. 

Daarna het jy die premiers van die provinsies aangepak om hulle provinsiale taalwetgewing te finaliseer.

Soos die nasionale taalwetgewing, moes provinsies binne ’n redelike tyd, wat gewoonlik so 18 maande was nadat die Grondwet op 4 Februarie 1997 in werking getree het, hulle provinsiale taalwetgewing finaliseer. Die Wes-Kaap het dit reeds in 1998 gedoen en Limpopo in 2003. Ek het natuurlik eers aanmanings geskryf en baie korrespondensie gevoer voordat ek eintlik die premiers van die Noord-Kaap in 2014, Noordwes in 2015, Gauteng in 2016 en die Vrystaat in 2017 gedwing het om dieselfde te doen. Mpumalanga het toentertyd net ná die aanmaningskrywes voldoen. Die Oos-Kaap het heelwat later, maar KwaZulu-Natal het tot op hede, volgens my, nog nie ’n taalwet nie.

Alana: En nog was dit die einde nie. Volgende keer gesels ons graag met jou oor die samewerking met AfriForum en ander organisasies, meer onlangse litigasie en jou toekomsvisie vir Afrikaans en taalregte.

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels