Taal tel 8 – Cerneels Lourens – prokureur, sakeman en taalaktivis (deel 2)
Deur Alana Bailey
Die naam Cerneels Lourens is sinoniem met die bevordering van taalregte en meer spesifiek Afrikaanse taalregte. In die eerste deel van ons gesprek met hom, het ons oor sy liefde vir Afrikaans en van die hofsake wat hy ter bevordering van die taal en taalregte geïnisieer het, gesels. Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, sluit nou die gesprek af met vrae oor die ander sake, sy samewerking met AfriForum en ander organisasies en sy idees oor die toekoms van Afrikaans en taalregte.
Die saak waartydens ons mekaar leer ken het, was jou veldtog om nasionale wetgewing in al 11 amptelike tale te laat publiseer. Dit het seker baie van jou tyd in beslag geneem?
In my aanvanklike aansoek waarin ek die taalwetgewing teen die nasionale regering suksesvol afgedwing het, het ek eintlik ’n verdere bede gehad om die parlement te dwing om al die nasionale wetgewing in al die amptelike tale te publiseer. Regter Ben du Plessis het saam met my gestem dat alle wetgewing in al 11 amptelike tale gepubliseer behoort te word, maar hy was van mening dat ek die minister van Kuns en Kultuur as respondent daarvoor moes siteer, en nie die parlement nie. Dit is dus ’n sogenaamde obiter of niebindende bevinding. Ek het daarna die Gelykheidshof in Kaapstad op grond van onbillike taaldiskriminasie as forum gekies en sowel die parlement as die minister van Kuns en Kultuur as respondente gesiteer. Die regering het in hierdie stadium gesien dat hulle moontlik aan die kortste end gaan trek en het toe van die beste advokate, adv. Wim Trengove SC (namens die minister van Justisie) en adv. Mohammed Jamie (namens die parlement aangewys). Jy sal onthou dat ek jou (Bailey) en Kallie Kriel by AfriForum toe genader het om my met die uitgawes te help, waarby ingesluit is die advokaatkoste en die gebruik van ’n deskundige, die internasionale taalregtekenner, prof. Fernand de Varennes. Wyle adv. Piet de Jager SC is toe as leier van my span aangewys. Kallie Pauw, wat jare gelede sekretaris van die parlement was, het vir my ’n volledige oudit van al die wetgewing wat nie in Afrikaans vertaal is nie, gemaak. Sy verslag is net so by die hof ingedien en is aanvaar. Dit wys onder meer uit hoeveel wette nou gewysig is wat nie in Afrikaans vertaal is nie, asook gewysigde wetgewing met stukkies Engels en ander amptelike tale tussen die Afrikaans. Ons het die saak verloor en ek het na die Appèlhof geappelleer. Ek het self die argument daar gaan voer en op 10 Maart 2016 het die negatiewe uitspraak gekom. Die hof het bevind dat regter Du Plessis se beslissing op grond van die leerstuk van res iudicata (jy kan slegs een keer ’n hof nader) die saak gefinaliseer het. Ek het daarna aansoek gedoen om verlof om te appelleer na die Konstitusionele Hof, maar dit is geweier. Volgende het ek prof. Hennie Strydom gaan sien. As internasionale regskenner, het hy die voorsitterskap van ’n komitee, waarvan jy ook ’n lid is, gevorm en het ek en hy die verwysing van die saak na die Verenigde Nasies se Menseregtekomitee opgestel. Dit was moontlik omdat ons kon aandui dat alle plaaslike regsremedies uitgeput is. Die saak is op 31 Maart 2017 ingedien en ná 66 maande het hulle nou uiteindelik berig dat dit in Oktober 2023 voor die komitee gaan dien. Die volledige stukke bevat besonder interessante leesstof en is hier beskikbaar.
Jy het die aansoeke in jou eie naam gebring?
Ja, die verenigings was bang vir kostebevele en ek nie, want dit is in openbare belang dat die aansoeke gebring word (hoewel ek met ’n minagtingsaansoek teen oudpremier Ace Magashule ’n hoë kostebevel opgeloop het). Ek is uiters dankbaar vir AfriForum en natuurlik sy lede onder julle bekwame leiding wat die uitgawes gedek het, want sonder dit sou ek nie hierdie spesifieke saak oor die publisering van wetgewing in al 11 amptelike tale kon voer nie. So, die hele Afrikaanse gemeenskap het eintlik deel daaraan om hierdie aksie te kan voer, waarvoor ek baie dankbaar is.
Wat is jou terugvoer oor die saak uit die geledere van ander Afrikataalsprekers?
Daar is groot ondersteuning onder die taalregaktiviste onder die Afrikataalsprekers en hulle is in afwagting op die uitslag. Hulle is maar té bewus van die verwaarlosing en negering van hulle tale, nieteenstaande die feit dat dit sogenaamd “amptelik” is.
Watter ander kundiges het jy vir die saak geraadpleeg?
My oudprofessor, wyle prof. Lourens du Plessis, het my met sy kundigheid oor die uitleg van wette kort voor die Appèlhofsaak met ’n baie tegniese argument wat die minister geopper het, gehelp, en het ek aanvullende hoofde by dié hof ingedien. Verder het ek ook met prof. Marinus Wiechers gesprek gaan voer. Hy het interessantheidshalwe my meegedeel dat toe die taalonderhandelinge gevoer was, en “amptelikheid” vir Afrikaans aangebied is, die onderhandelingspan dit as genoegsaam beskou het. Toe ek hom verder vra oor die detail, het hy my na prof. Koos Pauw verwys. Die argument teen my in die hof was dat, sou die bedoeling wees dat al die wette in al die amptelike tale gepubliseer moes word, dit in die Grondwet geskryf sou wees, aangesien daardie voorbeeld reeds sedert 1910 in die ou Grondwette was, maar nie in die huidige Grondwet herhaal is nie. Die voorsittende regter, regter Carole Lewis, het my spesifiek gevra: “As dit dan die bedoeling was, hoekom is dit nie in die Grondwet nie?” My antwoord is en was dat dit direk voortspruit uit die feit dat die tale amptelike status gegee is: ’n Amptelike taal is die regeertaal van ’n land en die land word deur wette geregeer.
Jy was ook betrokke met die reël van borgskappe om die Landdroshofreëls en die Kode van Goeie Praktyk vir Regspraktisyns in Afrikaans te vertaal.
Ja, weens my bekendheid met die Mari Luttig Trust het ek hulle genader om die geld voor te skiet en is die uiters bekwame vertaler van regsdokumente, Tom McLachlan, opdrag gegee om dit te doen. Dit is onder die vaandel van die VRA gepubliseer.
Hoe was jy betrokke met die verslag van die taalregtekenner, prof. Fernand de Varennes se verslag vir die Afrikaanse Taalraad van 2012?
Op 12 April 2012 tydens ’n aandete saam met dr. Karel Prinsloo, dr. Dionē Prinsloo, prof. De Varennes, ek en my vrou, Sarita, het die gedagte opgekom dat De Varennes ’n volledige taalregteverslag met vergelykende internasionale taalregtevoorbeelde vir die Afrikaanse Taalraad voorberei. AfriForum is toe genader om die uitgawe te betaal. Die gedeelte oor internasionale taalregte in sy verslag is steeds een van die beste bronne wat taalregtebelangstellendes kan raadpleeg.
Jy het ook nou met die ATKV saamgewerk?
Ja. Wyle dr. Danny Titus, dr. Evelyn Ferreira en ek was deurlopend in skakeling. Hulle het vir die departement van Kuns en Kultuur klagtevorms ingevolge die Wet op Amptelike Tale wat ek opgestel het, in Engels, isiZulu en Sotho laat vertaal. Hulle twee het my toe op Brits kom sien na aanleiding van my voorstel dat hulle help om my gedagte van ’n Handves vir Taalregte vir Suid-Afrika te fasiliteer. Ek het dit opgestel en op 14 Junie 2018 het die ATKV ’n simposium ter loodsing daarvan gereël. Oudregter Albie Sachs en De Varennes was die sleutelsprekers en die konsepdokument is ter tafel gelê. Verskeie ander bekende taalregtekenners het ook deelgeneem. Daarna was daar verskeie konsultasieprosesse wat deur Carien Brits, wat toe nog by die ATKV was, gereël is.
Wat het daarvan geword?
Nadat al die insette verwerk is, het ek dit onlangs aan die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) aangebied om dit verder te voer. Dit is ’n deklarasie van taalregte en ’n enger handves van taalregte, wat in gevolge artikel 234 van die Grondwet mettertyd moontlik aanvaar kan word. In 2010 het regter Du Plessis opgemerk dat hy verstaan hoekom daar ’n taalwet moet wees, omdat die vergietering van taalbepalings in verskillende stukke wetgewing nie eintlik juridies houdbaar is nie. Ek het dus in hierdie deklarasie gepoog om alles bymekaar te trek. Dit was nogal ’n werk. Hopelik kom daar eendag iets van.
Jy is tans lid van die Gauteng Provinsiale Taalkomitee van PanSat.
Dis reg, my vyfjaartermyn eindig volgende jaar. Ek het aanvanklik met die eerste vergadering vir myself afgevra waarom ek my in so ’n tydmorsinstelling laat beland het, maar soos ek my kollegas, die verteenwoordigers van al 12 amptelike tale leer ken het en hulle verbintenis om hulle tale te bevorder en die noodsaak aan taalregkundige ondersteuning besef het, het ek waardering vir hierdie poging. PanSAT se bestuur is ook nou in goeie hande en hulle het ’n linguistiese menseregtebestuurder aangestel. Steeds onderbegroot en onder die verkeerde toesig (aangesien dit direk onder die Speaker behoort te val), is diegene in PanSAT wat ek leer ken het, absoluut verbind tot die bevordering van die amptelike tale en ander Suid-Afrikaanse Tale. Dit is ’n goeie instelling.
Dink jy nie taalwetgewing en -instellings moet gekonsolideer word nie?
Ek dink inderdaad dat daar ’n wysiging en konsolidasie van alle wetgewing oor taalaangeleenthede moet kom om die beperkte hulpbronne te konsolideer. Dit kan byvoorbeeld onder ’n “Taalgeneraal” (soos die taalkommissaris in Kanada) geskied en PanSAT as instelling kan daaronder geakkommodeer word. Die Kommissie vir Godsdiens, Kulturele en Taalregte se nut op die taalregtefront het ek nog nie raak gelees nie en ek dink die bestaan daarvan is onnodige duplikasie.
Hoe voel jy oor Suid-Afrikaanse Gebaretaal as 12de amptelike taal?
Ek het die aanvaarding daarvan ondersteun. Die feit is dat ons amptelike taalstelsel eintlik net ’n simboliese erkenning van belangrike tale is en in praktyk is dit maar net ’n simboliese daad. Dit verleen erkenning en respek aan ’n uitgeslote gemeenskap van mense wat nie kan hoor nie. Ek het self ’n bydrae gelewer tot die Suid-Afrikaanse Gebaretaal Handves wat hopelik in terme van artikel 234 nog inhoud aan die erkenning van die taal in praktyk sal gee.
Jy het ook verskeie internasionale en nasionale voordragte oor taalregte gelewer.
Ja, verskeie. Onder andere by die International Linguistic and Law Organisation, by die eerste Suid-Afrikaanse Forensiese Linguistiekkonferensie in Kaapstad, by verskeie plaaslike universiteite, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, asook by allerlei verenigings en geleenthede.
Het jy enigsins finansieel gebaat by die sake?
Ek het ’n netto verlies na aanleiding van die Vrystaatse provinsiale taalsaak gely, maar ek het darem vir my ’n baie mooi boekrak van die kostebevel van die 2010 hofsaak en ’n Setswana kursus van die NWU ná die kostes van die saak teen die premier van Noordwes verhaal is, bekom. Die res was maar my bydrae vir ons taal en die ander tale in die land. As ek dit teen ’n uurlikse tarief bereken, beloop dit al ’n paar miljoen rand se regsfooie wat ter wille van die goeie saak van Afrikaans en die ander tale bestee is. Ek het nogal ’n broertjie dood aan die hoë fooie wat regslui vir Afrikaanse organisasies vra vir die behartiging van taalsake.
Hoe lyk Afrikaans se toekoms?
Ek is nie ’n siener nie, maar weens politieke onmag en swak bedinging van die grondwetlike bepalings het Afrikaans in die openbare ruimte as amptelike taal, wat dit de facto nie meer is nie, onherstelbare skade gelei. Ons moet egter gebruik wat ons ter hand het en dit is om die huidige wetgewende raamwerk so ver as moontlik aan te wend om spreekwoordelike dolosse te gooi om die Engelse branders te breek.
Watter praktiese gedagtes het jy om Afrikaans ’n hupstoot te gee?
Ons behoort ons te verset teen die swak taalgebruik met die klakkelose gebruik van Engelse woorde, weerstand te bied teen die swak taalgebruik in die draaiboeke van televisieprogramme, en meer opeisend, maar tog met respek teenoor ander nie-Afrikaanssprekendes op te tree. Verder behoort ons grootskaals te belê in vertalings. Die toekoms van Afrikaans hang af van kunsmatige intelligensie met masjienvertalings waarvan die gehalte net kan en sal verbeter. Prosa, poësie, ensovoorts sal natuurlik altyd vir gehaltebeheer deur mensvertalers nagegaan moet word. In die regsveld behoort masjienvertalings goed te kan werk om die massa werk te vertaal. Afrikaanssprekendes behoort dus geld aan ViVa te skenk en in hulle testamente te bemaak omdat ViVa vir die taak verantwoordelik is.
Hoe meen jy kan Afrikaanssprekendes polities beter gemonster word?
Ek dink deur ’n Afrikaanse jeugparlement en deur die daarstelling van ’n Afrikaanse senaat. Ek het al ’n meningstuk daaroor geskryf. Dit moet dan opgevolg word met die daarstelling van ’n virtuele tiende provinsie of staat. Laasgenoemde is ’n gedagte wat prof. Marinus Wiechers reeds in 2005 of 2006 en Breyten Breytenbach daarna ook geopper het. Die Afrikaanse gemeenskappe kan só kollektief optree en ’n sterk lobbiegroep vorm.
Wil jy jou waag aan ’n standpunt oor Standaard Afrikaans?
Ek het nie ’n probleem as mense dit algemene Afrikaans wil noem nie, maar ek het nog nie ’n geldige teenargument teen die standpunt van Tom McLachlan gelees hieroor nie. Soos hy noem, wette moet byvoorbeeld in ’n standaardvariëteit geskryf kan word, dit moet vir ekonomiese terminologie gebruik word, ensovoorts. Kaaps het byvoorbeeld nie daardie woordeskat nie. As die oogmerk respekgewend of respekherstellend is, of anders gestel, om die staanplek van Kaaps en ander variëteite te versterk, dan moet dit net reg gesê word, want die argumentasie lyk asof dit gebaseer is op die verkeerde verstaan van ’n standaardvariëteit. Ek dink die verantwoordelike pad is dié wat die Taalkommissie volg, naamlik om die woordelys uit te brei. Weens die suigkrag van Engels in sowel die privaat- as openbare sektore, gaan Kaaps myns insiens eerder na die Engelse kant neig en moontlik eendag bekendstaan as ’n variteit van Engels, Cape English. Ek dink egter laerskoolhandboeke behoort in Kaaps beskikbaar gestel te word waar moontlik, maar dit het niks te doen met die standaardvariëteit nie. Die versterking van Kaaps as variëteit hoef nie ten koste van algemene Afrikaans te wees nie. Indien die Taalkommissie so ’n rampspoedige pad gaan volg, gaan dit die einde daarvan wees en sal daar seker weer ’n herstigte Taalkommissie ontstaan wat nie in belang van Afrikaans is nie.
Baie dankie vir jou deelname aan Taal Tel en ook vir die reuserol wat jy speel op die terrein van taalregte en die beskerming en bevordering van ons taal. Ons het die grootste waardering vir jou opoffering in die verband en wens jou sterkte met huidige en toekomstige aksies toe!