Te goed om waar te wees? Vyf maniere om bedrieglike fopwebtuistes uit te ken
Deur Johan Nortjé
Verskeie webtuistes wat lyk soos die nuusplatform Maroela Media of instellings van die Solidariteit Beweging het die afgelope paar weke die ronde op sosiale media gedoen. Dit wil voorkom asof hierdie webtuistes geskep is met die uitsluitlike doel om gebruikers oor te haal om geld deur die platform AfriInvest te belê.
’n Vinnige Google-soektog onthul dat ’n legitieme finansiëledienstemaatskappy genaamd Afrinvest (let op die spelling en die gebruik van die kleinletter-i) in Nigerië gesetel is. Wanneer jy die ware Afrinvest-webtuiste oopmaak, verskyn daar selfs ’n kennisgewing om gebruikers te waarsku teen bedrieërs wat hulself as Afrinvest-verteenwoordigers voordoen. Dit is onduidelik of Afrinvest (die ware Jakob) teen die bedrieërs waarsku wat hulself as die Solidariteit Beweging voordoen.
Wat egter wel seker is, is dat aanlyn swendelaars slagoffers groot finansiële verliese en emosionele teëspoed kan berokken.
Interpol se nuutste verslag oor kuberbedreigings toon dat aanlyn bedrog in Afrika tans een van die algemeenste vorme van digitale misdaad teen persone en maatskappye is. Die verslag definieer aanlyn bedrog as ’n bedrieglike daad of proses wat deur middel van rekenaartegnologie en die internet onderneem word, met die oog daarop om geld of persoonlike inligting van persone of organisasies te steel.
Volgens bedrogsvoorkomingsagentskappe neem die aantal kubermisdade toe, waarvan aanlyn bedrog deel vorm. Interpol beraam die finansiële omvang van kubermisdade in Suid-Afrika op nagenoeg R2,2 miljard. Dit neem geensins die nadelige gevolge in ag wat dié bedrogspul op slagoffers se emosionele toestand kan hê nie.
Hier is vyf wenke waarvolgens jy fopwebtuistes kan uitken:
1. Gaan die webadres na
Let op na die webtuiste se bronadres, oftewel die URL (die universele hulpbronopspoorder in Afrikaans; in Engels bekend as die universal resource locator). Dit is in die linker boonste hoek van die blad en bevat die unieke “straatadres” van die webtuiste. Maroela Media se URL is byvoorbeeld https://maroelamedia.co.za en die Solidariteit Beweging s’n is https://beweging.co.za.
2. Kyk uit vir spelfoute
Fopwebtuistes is dikwels besaai met taal- en grammatikafoute. In die voorbeeld hierbo, is “LIMPOPO” met hoofletters geskryf, terwyl “suksesvolle” met ’n hoofletter-s geskryf moes wees.
In sekere gevalle is die bronadres van fopwebtuistes ook verkeerd gespel, wat op die oog af die indruk skep of voorgee om die ware maatskappy of organisasie te wees. Die webtuiste www.toyota.co.za kan in so ’n geval geskryf word as www.t0y0ta.co.za (die syfer 0 word dus in die plek van die letter o gebruik).
3. Fopwebtuistes is dikwels deurspek met teenstrydighede en foute
Fopwebtuistes lok mense om in ’n bedrogspul te investeer. Die fobwebtuise se funksionaliteit sal dis dikwels beperk wees. Skakels en afdelings op die webtuiste, soos “Oor ons” (oftewel “About us”) sal of nie werk nie of sal op die een of ander wyse slagoffers na afdelings lei wat hulle aanmoedig om hul persoonlike besonderhede in te voer. Daarbenewens bevat fopwebtuistes dikwels geen kontakbesonderhede waarmee inligting oor die maatskappy of produk nagegaan kan word nie.
Fopwebtuistes kan ook verskeie ooglopende (en soms minder ooglopende) foute bevat. In die voorbeeld hieronder is die webtuiste Engels, maar bevat ’n Afrikaanse artikel. Egte en betroubare webtuistes sal oor die algemeen eentalig wees met die opsie om tussen verskillende tale te skakel.
4. As dit te goed om waar te wees, ís dit gewoonlik
Webtuistes wat gekenmerk word deur investeringswendelary bied dikwels bykans onmoontlike beleggingsgroei. Mense of botte (rekenaars wat hulle as mense voordoen) maak daarop aanspraak dat hulle uitsonderlike hoë winste op klein beleggings gehad het. Die onderstaande voorbeeld voer aan dat geld wat belê is met meer as 8000% gegroei het. In teenstelling hiermee het die toppresterende effekte op die Amerikaanse aandelebeurs, Nasdaq, teen 1 November ’n groei van 210% vir die volle duur van 2024 getoon.
5. Kontak die regmatige maatskappy
Hoewel hierdie wenke nie onfeilbaar is nie, kan dit bedrog in die meeste gevalle voorkom. Die beste wenk is bes moontlik om die regmatige maatskappy of organisasie direk te kontak en navraag oor die aanbod, produk of diens te doen wat aangebied word. Moet nooit die kontakbesonderhede (indien dit beskikbaar is) gebruik van die webtuiste waarop die bedrogspul bemark word nie.
Kontak jou finansiële instelling(s) onmiddellik indien jy die slagoffer van aanlyn bedrog was of indien jy vermoed dat jy moontlik in die slaggat van bedrog getrap het as gevolg van ’n fopwebtuiste.
Laastens: Moenie jouself blameer indien jy die slagoffer van aanlyn bedrog was nie. Die skuld moenie op jou skouers val nie, maar op die misdadigers wat die bedrogspul bedryf.
Handige bronne:
- Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD): https://www.saps.gov.za
- Suid-Afrikaanse Bedrogbeskermingsdiens (SAFPS): https://www.safps.org.za/
- Vereniging van Internetdiensverskaffers (ISPA): https://ispa.org.za/
Johan Nortjé is a navorser by AfriForum.
Hierdie artikel het oorspronklik op Forum Nuus verskyn.